Nederlandse boere wat tussen 2000 en 2002 hul grond in Zimbabwe weens dié land se omstrede grondhervormingsprogram verloor het, het ’n veldtog van stapel gestuur om dié regering te dwing om hulle vir hul verliese te vergoed. Dié boere het hul regsaak na die Internasionale Sentrum vir die Beslissing van Beleggingsgeskille (ICSID) geneem, wat in 2009 in hul guns beslis het.
Dié beslissing het tóé bepaal dat ’n bedrag van €8,8 miljoen aan die boere uitbetaal moet word. Dié bedrag moes egter met 10% toeneem vir elke jaar sedert die boere hul grond verloor het. Dit beloop tans €23 miljoen,of R230 miljoen, berig News24.com.
Sanksies
Die Nederlandse regering het die afgelope twee jaar druk op die Zimbabwese regering geplaas in ’n poging om dié geld aan die boere uitbetaal te kry. Mnr. Tendai Biti, Zimbabwe se minister van finansies, het vroeër beloof om ’n plan vir die uitbetaling van dié geld aan die Nederlandse minister van buitelandse sake in Augustus vanjaar voor te lê.
Nog geen plan is voorgelê nie.
Mnr. Lion Benjamins, voorsitter van die boere, sê hulle het besluit om nie stappe teen Zimbabwe te doen nie tot hulle Biti se plan gesien het. “Maar ons is nou sat gewag, en het besluit om stappe te doen om Zimbabwe te wys ons is ernstig.”
Die groep se veldtog fokus daarop om Europese parlementslede in te lig oor die gebeure in Zimbabwe in ’n poging om die Europese Unie te verhinder om die sanksies, wat teen Zimbabwe ingestel is, te lig. Hulle onderhandel ook tans met die Britse regering om bates van Zimbabwe wat gevries is, beskikbaar te stel sodat die geld aan hulle uitbetaal kan word.
Intussen het AfriForum aangedui dat hy gereed is om die Suid-Afrikaanse boere wat ook ’n vergoedingseis teen die Zimbabwese regering ingestel het, se saak in die Grondwethof te verdedig. Die Appèlhof het verlede maand ’n aansoek van dié buurland om die boere se eise teen hulle ongeldig te verklaar en om hul eiendom waarop AfriForum beslag gelê het, beskikbaar te maak, van die hand gewys.
Bron: News24.com