Deur CHRIS JOOSTE
27 Junie 2012

464 keer gelees | 2 kommentaar

Mnr. Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, sê hy het slegs ses maande nodig om grootskaalse veediefstal langs die Lesotho-grens te stop.


"Gee my ses maande, dan sal vee nie meer op groot skaal aan die grens met Lesotho gesteel word nie. Dit sal hoogstens enkele en geïsoleerde gevalle van diefstal wees," het mnr. Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, op ’n vergadering in Ladybrand gesê.

Die vergadering oor die veiligheidsituasie aan die Lesotho-grens is deur verteenwoordigers van die provinsiale regering, Vrystaat Landbou, die SA Polisiediens (SAPD), die SA Nasionale Weermag (SANW) en verskeie boere bygewoon.

Komphela het gesê die mense aan die grens sit op ’n tydbom. Dit is belangrik dat iets daaraan gedoen moet word, want die boere trek aan die kortste ent. Die provinsiale én nasionale regering het ’n verantwoordelikheid om hul eie mense en hul eiendom te beskerm en onderneem om dit te doen. Boere kan help deur alle veediefstal aan te meld.

Meegevoel betoon
Hy het meegevoel met die grensboere, want wanneer hul vee gesteel word, gaan haal hulle dit self omdat ander dit nie vir hulle doen nie. Dit stel hul lewe in gevaar. Die SANW-lede wat die grens patrolleer, het reeds ’n verskil gemaak. Nog lede gaan in September ontplooi word.

Een van die probleme is dat die weermag nie mense in hegtenis mag neem nie. Daarom werk die SANW en SAPD saam sodat oortreders in hegtenis geneem en aangekla kan word.

Mnr. Frannie Pieterse, ’n boer van Clocolan, het gesê 157 beeste is al by hom gesteel. Daarvan is net 104 teruggekry. Die rompslomp maak dit moeilik om vee terug te kry.

Lt.-kol. Theuns Steyn, bataljonbevelvoerder, het gesê die SANW probeer sy taak so goed as moontlik doen. Observasies en operasies word uitgevoer. Selfs ’n vliegtuig word ingespan om diewe te probeer opspoor. Een van die hoofdoelwitte is om onwettige beweiding deur beeste uit Lesotho te bekamp. Dit is naas diefstal een van die grootste probleme aan die grens.

Grensheining nie die antwoord
Komphela het in reaksie op een van die boere se aanmerking dat ’n grensheining nie die antwoord is nie, gesê hy weet die heining is nie ’n sukses nie, maar dit word ingevolge ’n hofbevel gebou. Hy meen konstruksies soos die beton-dolosse wat by hawens en ander plekke aan die kus in die see gebruik word, kan ’n beter oplossing bied.

Boere moet ook hul eiendom beter bewaak en vreemdelinge op hul grond konfronteer. Hy het glo die grens vroeër die jaar besoek en in ’n konvooi van vyf voertuie al langs die grens oor verskeie plase gery. Op geen plaas het ’n boer hulle voorgekeer en gevra waarom hulle daar is nie. Hy sal ’n oplossing vir die veediefstal-probleem soek en aan die landbou terugrapporteer.

Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se komitee vir wet en orde, het staatsdepartemente versoek om gereeld te vergader. Samewerking tussen die SAPD en die plaaswag het al plaasaanvalle en ander misdade verminder.


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Bees van Blerk

2012/06/30 07:33:32 PM

In die grensgebied vanaf QwaQwa tot by Caledonspoort, ‘n afstand van ongeveer 60km, is ek die enigste kommersiële grensboer vir 40 jaar al. Lt kol Steyn se verklaring oor die SANW se doelwitte stryk nie met dit waarmee die huidige weermaglede hul in die gebied besig hou nie en ook nie met wat Steyn my op die 18e Junie telefonies meegedeel het nie. Sedert die huidige groep hier is, het hulle 1x ‘n padblokkade opgestel, 4 kilometer vanaf die grens op ‘n sekondere teerpad wat my eiendom verdeel. Dieselfde oggend word ‘n klompie Lesotho vroue ‘n saamrygeleentheid op ‘n SAMIL gegee en word sommiges by die blokkade afgelaai en ander 200 meter verder by die Maloti Roete. Hier word hulle deur ‘n ligte aflewerings voertuig na Fouriesburg opgelaai. Gedurende die week van 19 Junie 2012 vergesel ek mnre Koos du Plessis van dept Landbou tydens ‘n opname oor die grenspad en heining en gedurende die tyd, kom ons nie ‘n enkele weermaglid of voertuig teë nie. Al beweging wat deesdae gesien word op die toeriste roete tussen Fouriesburg en Clarens, is ‘n SAMIL watertenker asook ‘n SAMIL 20. Op 28 Junie word ‘n aantal Lesotho burgers by die Beginsel meule deur weermaglede “gearresteer” (sonder SAPD) en na Fouriesburg polisiestasie gebring. Die polisie wou nie vervolg nie en word die “gearresteerdes” vrygelaat by Caledonspoort. Tydens my telfoongesprek op 18 Junie met Steyn, beweer hy dat: 1.) sy soldate opdrag het om net Engels te praat aangesien dit die amptelike landstaal is. Of hulle die taal magtig is, is blykbaar nie belangrik nie; 2.) Boere (landbouers) se voertuie moet deursoek word aangesien die Boere (landbouers) smokkel; 3.) en dat hy wat Steyn is die doodstraf heringestel het daar sy soldate opdrag het om op die Boere te skiet indien die Boere nie aan hulle gehoorsaam is nie. Tydens vorige skietvoorvalle het troepe hul bevelvoerders geskiet. Tydens een van die voorvalle het die bevelvoerder met sy lewe betaal en in ‘n ander insident is die bevelvoerder onherroeplik geskend. Sedert die huidige groep hier ontplooi is, is daar ‘n toename in veediefstal. Hulle geniet egter tans die dames van Kgubetswana se geselskap en kan ek ongehinderd voortgaan met my werk.


Bees van Blerk

2013/02/23 03:30:59 PM

Vandag, bietjie meer as ses maande na my vorige kommentaar, is die veiligheidsmagte se onvermoë om misdaad en onwettige grenskruisings te beheer, bevestig. Die onlange skietvoorval waarin twee lede van die leierskorps hul lewens verloor het, die derde voorval hier aan die grens met Lesotho, beklemtoon dat die troepe onopgelei en ongedissiplineerd is. Hulle word hier losgelaat met skerppunt ammunusie en elkeen doen wat hy wil. Die groepe wat die afgelope jaar hier diens gedoen het, het meer skade as goed gedoen aan de grensboere vir wie hulle veronderstel is om van hulp te wees. Diegene wat namens die grensboere besluit het dat die SANW op ons grond ontplooi moet word, moet hulle liewer op hul plase huisves sodat hulle hul kan vergewis van die arrogansie van 'n klomp gewapende en ongedissiplineerde troepe onder swak bevel

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights