’n Totaal van 188 689 stuks vee is tydens die boekjaar 2010-’11 gesteel, wat ’n stabilisering in dié misdaadsyfer verteenwoordig. Dit is sowat 400 diere meer as wat tydens die boekjaar 2009-’10 as gesteel aangeteken is.
Volgens die jongste verslag van die nasionale Veediefstalforum het die terugvinding van beeste tydens die boekjaar 2010-’11 met 6% gestyg, terwyl die persentasie van skape en bokke wat teruggevind is, met 4% gedaal het.
Volgens die forum sal
veediefstalstatistiek in die toekoms deur die Minister van Polisie bekend gemaak word. “In die toekoms gaan alle veediefstalsake deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Veediefstaleenhede ondersoek word, maak nie saak hoeveel diere gesteel word nie,” lui die verslag.
Politieke wilMnr. Jaco Maré, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê alle staatsdepartemente en belanghebbendes in die rooivleisbedryf word verteenwoordig op die forum en hy is tevrede dat provinsiale forums doeltreffend funksioneer.
“Veediefstal bly
een van die ergste probleme waarmee die Suid-Afrikaanse veeboer te kampe het, maar daar bestaan ’n politieke wil om die probleem doeltreffend te bekamp,” sê Maré.
Die Oos-Kaap was een van die brandpunte wat veediefstal in die boekjaar 2011-’12 betref. Dié boekjaar se statistiek is nog nie beskikbaar nie. Vyf van die tien polisiestasies waar die meeste veediefstal in Suid-Afrika in dié tydperk aangemeld is, val in die Oos-Kaap. Drie polisiestasies is in KwaZulu-Natal geïdentifiseer, terwyl daar by een stasie in onderskeidelik die Vrystaat en Mpumalanga hoë veediefstalsyfers aangemeld is.
OosthuizenMaré het ook hulde gebring aan kol. Oosie Oosthuizen, die afgetrede hoof van Veediefstaleenhede in die land. Oosthuizen is tydens die RPO se 24ste nasionale kongres by Rawdons-landgoed in KwaZulu-Natal met ’n oorkonde vir 40 jaar se diens aan die landboubedryf vereer.
Oosthuizen is in 1991 aangestel as bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Veediefstaleenheid. “Tydens sy loopbaan was hy aktief betrokke by die stigting van verskeie Veediefstaleenhede en satelliet-eenhede, asook die aanstelling van gespesialiseerde individue vir die ondersoek van veediefstal op stasievlak,” het Maré gesê.