Skape. Foto: HANSIE CLAASSEN
Dragtige ooie was die afgelope naweek die teiken van veediewe toe 41 ooie op die plaas Cyferfontein, tussen Brandfort en Bultfontein, gesteel is.
Altesame 23 van die ooie is teruggevind, en die Polisie vermoed dat die ander 18 moontlik in die omgewing ronddwaal.
Kapt. Steve Roets, woordvoerder vir die Polisie, sê die diere wat teruggevind is, was almal vasgebind in ’n ghwarrie op ’n buurman se plaas, Grasslands, naby Brandfort. Hy sê hulle vermoed die ander is nog in die omgewing omdat hulle nêrens op die toneel op Cyferfontein of die buurplaas voertuigspore gevind het wat aandui dat die diere opgelaai is nie.
SMS-stelselBoere in die omgewing het ’n sms-stelsel waarmee hulle mekaar van moontlike misdade of rondlopervee in kennis stel. Die eienaar van Grasslands het dié sms-ketting geaktiveer toe hy die skape op sy plaas gewaar, en mnr. Ruhan Maree het die diere as syne geïdentifiseer.
’n Onstelde Maree vertel dat sy diere 25 kilometer dorp toe aangejaag is. “Ek skat my skade so rondom R30 000. Vyf van die vermiste ooie het tweelinge verwag, terwyl van die ander eenlinge verwag het of nog nie gedek was nie.”
AlgemeenMaree sê
veediefstal kom van tyd tot tyd in die omgewing voor, maar dit was die eerste keer in ’n lang tyd wat veediewe op sy plaas toegeslaan het. Roets sê die Polisie het die plek gevind waar die diewe die draad geknip het, en die voorval word tans ondersoek.
Kol. Oosie Oosthuizen, hoof van
veediefstaleenhede in die land, sê die voorkoms van veediefstal het ’n “redelik konstante vlak bereik. In sommige dele is ’n styging aangeteken, en in ander ’n daling, maar nêrens is dit besig om soos ’n veldbrand weg te hardloop nie.”