’n Grusame toneel het die 75-jarige mnr. Van Wyk Schutte Donderdagoggend, 23 Augustus 2012, by een van sy skaapkrale op sy plaas naby Senekal begroet. Vyftien van sy “vlagskip-ooie” is vir hul vleis wreedaardig deur misdadigers keelaf gesny.
Mnr. Rian Schutte, Schutte se seun, het aan
Volksblad gesê hy het nog nooit ’n man so hartseer gesien nie. Schutte boer heeltyds vandat hy 16 jaar oud is.
Al die Merino-ooie het lammers gehad, en 30 lammers is wees agtergelaat. Schutte het glo van die lammers gevind waar hulle op hul ma’s se afgesnyde koppe aan die slaap geraak het.
GediertesVolgens Rian is die skape juis in ’n kraal gejaag om hulle veilig te hou teen ongediertes, soos jakkalse, maar dít maak dit weer vir veediewe maklik om die diere te steel of te slag.
’n Plaaswerker sal nou na die hanslammers moet omsien en hulle surrogaatmelk voer. Boere van die distrik het reeds aan Schutte melk geskenk om die lammers mee te voer.
Die polisie het volgens Rian vinnig op hul oproep gereageer, en ’n klag van veediefstal word ondersoek.
BrandpuntIntussen sê mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van
Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, die distrik Senekal is ’n brandpunt vir
veediefstal in die provinsie. Die omgewing is een van die 14 brandpunte wat geïdentifiseer is as omgewings waar die Landelike Beveiligingstrategie op veiligheid en veediefstal moet fokus.
Elke provinsie in die land is verlede jaar, nadat die strategie bekend gestel is, opdrag gegee om 10 brandpuntgebiede te identifiseer waar op landelike beveiliging en veediefstal gefokus moet word.
Breytenbach sê hoewel die strategie nog nie in polisiekantore in werking gestel is nie, is daar wel goeie dinge aan die gebeur. Tans ontvang polisiebeamptes in polisiekantore opleiding oor hoe om landelike misdaadtonele te hanteer, en ’n opleidingsessie vir die breër gemeenskap sal volgende maand plaasvind. “Ons sien dus ’n goeie aanduiding van ’n verskil wat in die toekoms kan kom.”
Bron:
Volksblad