Veesiektes floreer oor insekte, bosluise

Deur Charl van Rooyen
20 April 2017
Siektes wat deur insekte en bosluise oorgedra word, het gedurende Maart hoogty in Suid-Afrika gevier.

Die insekoordraagbare siektes wat kop uitgesteek het, is knopvel-, drie-dae-stywe-, bosluisgal- en perdesiekte, asook bloutong. Siektes wat die gevolg van bosluisoordraging is wat gedurende Maart deur veeartse by die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) aangemeld is, is Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, bosluisgalsiekte en knopvelsiekte.

Dr. Faffa Malan, bestuurder van RuVASA, sê in sy Maartverslag hierdie siektes sal afneem namate die winter sy ysige kloue in die land begin slaan. “Dit is nietemin nou die regte tyd om reeds vir volgende somer te beplan deur ‘n bestuursprogram saam met ‘n veearts uit te werk. Die meeste siektes kan deur inenting voorkom word,” sê hy.

Die tabel onder aan die artikel som die siektes op wat in die verskillende provinsies aangemeld is.

Inwendige parasiete
Parasiete floreer wanneer dit goed reën. Daarom is verskeie veevrektes weens inwendige parasiete aangemeld, veral haarwurms. Boere moet oplet na die kliniese tekens, naamlik bloedarmoede, kwakkeel, gewigverlies en maagwerking.

Uitwendige parasiete
Baie reën laat ook uitwendige parasiete toeneem, wat veral Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, bosluisgalsiekte en knopvelsiekte laat toeneem het. Inenting voorkom hierdie siektes.

Bruinoor- en bontpootbosluise veroorsaak ernstige wonde aan vee, wat spykerwurmvlieë lok wat dan hul eiers in die wonde lê en die toestand vererger. Bontpootbosluise veroorsaak ook sweetsiekte.

‘n Toenemende probleem is die opbou van weerstand by bloubosluise teen sekere groepe veemiddels. ‘n Veearts kan raad gee oor hoe boere hierdie situasie kan bestuur. Biosekerheid speel ‘n belangrike rol daarin.

Bosluis- en insekoordraagbare siektes
Die goeie somerreëns het die voorkoms van bosluisoordraagbare siektes laat styg. Boere kan dit in die toekoms verhoed deur hul vee in te ent. Veeartse kan raad gee.

Insekoordraagbare siektes is ook in groot getalle aangemeld, sê Malan. Ernstige uitbrekings van knopvel- en drie-dae-stywesiekte en bloutong het gedurende Maart voorgekom. In die meeste gevalle het boere nie hul vee vooraf ingeënt nie.

“Stilstaande water het in baie dele van die somerreënvalgebied voorgekom, wat die ideale habitat vir muskiete is. Muskiete versprei Slenkdalkoors. Muggies versprei die bloutongvirus,” sê hy. Benewens deur inenting, kan insekoordraagbare siektes ook beheer word deur vee na hoogliggende dele van die plaas te verskuif en hulle met ‘n insekafweermiddel soos deltametrien te bespuit as dit nodig is.

Geslagsiektes
Malan sê geslagsiektes soos trichomonose kom steeds wyd voor en boere moet goeie biosekerheid toepas om die verspreiding stop te sit.

Bakteriese siektes
Baie siektes wat deur bakterieë veroorsaak word, is by RuVASA aangemeld. Dit kan grootliks voorkom word deur vee met beskikbare middels in te ent.

Virussiektes
Talle gevalle van snotsiekte het in Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap voorgekom. Daar is ongelukkig geen behandeling vir virussiektes nie. Daarom moet diere met inenting beskerm word indien entstowwe beskikbaar is.

RuVASA se verslag word maandeliks opgestel uit inligting wat van veeartspraktyke ontvang word. Die doel is om boere in te lig om siektes voorkomend te bestry en te let op diere wat met siektes en parasiete ingekoop word.

Aanhangsels

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels