Verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 34 is die afgelope naweek aangekeer in verband met ’n aanval op ’n 82-jarige boer en sy 80-jarige vrou verlede maand. Die egpaar is op 5 Augustus op die plaas Tierfontein aangeval deur twee mans wat in die egpaar se huis gewag het ná hulle van die kerk teruggekeer het.
Die egpaar is vasgebind en hul voertuig, ’n selfoon en klere is in die voorval gesteel. Al dié goedere is in die verdagtes se besit gevind toe daar Sondag (9 September 2012) op Setlagole op hulle toegeslaan is.
Mnre. Katlego Mogale, Philus Mogale, Diteko Moreo en Edward Matong het Dinsdag en Woensdag (11 en 12 September) op Potchefstroom in die hof verskyn. Hulle sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning wanneer hulle om borgtog aansoek sal doen.
VerantwoordelikheidIntussen sê AfriForum die ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir
plaasmoorde. Dié reaksie volg ná mnr.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, glo geprobeer het om die party te verontskuldig van die misdaad wat die land se landbougemeenskappe teister.
“AfriForum se kritiek volg op Mantashe se stelling in die media ter verontskuldiging van die ANC dat die party nie op elke plaas kan wees nie,” lui ’n verklaring.
Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van
AfriForum, sê die feit dat die ANC swyg oor uitsprake teen boere en blankes, kan gesien word as die party se goedkeuring daarvan. Solank dit die geval is, meen hy die party kan vir plaasmoorde aanspreeklik gehou word.