Drie verdagtes het die gesin in hul plaashuis oorval. Foto: HENNO LANGEVELDT
Drie verdagtes wat die afgelope naweek ’n gesin in hul plaashuis oorval het, het die gesin vir hul “samewerking” bedank.
Drie rowers wat die afgelope naweek ’n gesin en hul werker in ’n plaashuis oorval het, het aan die gesin gesê hulle moet verstaan dít is hoe hulle hul geld verdien, net soos wat die gesin geld uit die boerdery kry.
Die mans het die gesin ook bedank vir hul “samewerking” voordat hulle op die vlug geslaan het. Luidens ’n berig in Volksblad het een van die rowers selfs met die eenjarige baba, Mia, op sy heup rondgeloop toe sy gehuil het.
Die 38-jarige mnr. Gerhard Karsten, sy 36-jarige vrou, Zurina, hul 11-jarige seun, Adriaan, en mnr. Shadrack Louw, ’n plaaswerker, is in die voorval in ’n slaapkamer in die plaashuis toegesluit ná hul hande vasgebind is. Mia, en haar tweejarige boetie, Thian, is ook in die kamer toegesluit, maar hulle is nie vasgebind nie. Die plaas is sowat 10 km buite Kimberley aan die N12-roete.
Hulp gevra
Twee rowers wat binne in die huis was, het Karsten gevra om te sê dat daar net R50 000 in die huis was, omdat hulle nie die volle bedrag wat hulle gesteel het – R165 000 – met die derde rower wat buite die huis was, wou deel nie.
Die rowers het toegang tot die huis gekry ná hulle Karsten Sondagaand (19 Augustus 2012) omstreeks 20:30, op die stoep aangeval en ’n rewolwer teen sy kop gedruk het.
Een van die rowers was glo baie aggressief en het Karsten geskop terwyl hy vasgemaak was, die ander een was egter deurentyd baie vriendelik.
“My raad aan mense in só ’n situasie is om nie hardekoejawel te wees nie, om nie ’n held te probeer wees nie. As hulle eers skrik, sal hulle skiet,” sê Karsten.
Bron: Volksblad