In drie distrikte van Mpumalanga word geskat dat sowat
4 000 mense op plase nie getel is in
Statistieke SA se Sensus 2011 nie, sê Mpumalanga Landbou.
Mnr. Hennie Laas, hoof uitvoerende beampte, sê hulle het baie klagtes ontvang van hul lede wat nie getel is nie. Hy sê dit het voorgekom ten spyte van ’n samewerkingsproses tussen die organisasie en Statistieke SA om te probeer verseker dat soveel moontlik boere aan die Sensus kon deelneem.
“Ook uit die Laeveld het ons klagtes gekry. En die klagtes is met
Statistieke SA op verskeie geleenthede opgevolg, hetsy deur ons hoofkantoor of op vergaderings van provinsiale boereverenigings,” aldus Laas. Hy sê dit laat landelike gemeenskappe wonder oor die akkuraatheid van die Sensus se resultate.
In ’n brief wat Vrydag (2 November 2012) in
Beeld verskyn het, spreek mnr. Dawid Myburgh, dieselfde kommer uit. Myburgh boer tussen Bethal en Standerton, en hy sê sowat 40 plase in die omgewing is nie besoek nie.
Van Myburgh se pogings om met Statistieke SA op te volg en te vra dat hulle besoek word, het daar dadels gekom. “As die uitslae van hierdie sensus gebruik word vir beplanning vir die toekoms, kan hierdie beplanning mos nie baie akkuraat wees nie.”
Limpopo en Noord-KaapLandbou.com het by verskeie van die ander provinsiale landbou-organisasies ook navraag gedoen. Mnr. Francois van den Berg, voorsitter van
Agri Limpopo, sê in dié provinsie is ook klagtes ontvang. In die Lepalale-omgewing is Van den Berg bewus van 20 plase wat nie getel is nie.
“Ek self is nie getel nie, hoewel beamptes voor die sensustydperk begin het, twee keer op my plaas was. Die eerste keer kon ’n groep van ses vroue nie vir my ’n rede gee oor hoekom hulle hier was nie, en drie dae later het ’n groep van vier mans opgedaag om my pakhuise en dies meer te kom opmeet. Ek het hulle vir ’n rede hiervoor gevra, en die mans is hier vort en niemand het daarna met vraelyste omgekom nie,” vertel Van den Berg.
Mnr. Johan van Rensburg, hoof uitvoerende beampte van
Agri Noord-Kaap, sê “daar is verskeie vaal dele in die provinsie waar talle boere nie getel is nie.” Hy sê hulle het op verskeie geleenthede voor die opname met Statistieke SA vergader, en hulle ook versoek om plaaslike inwoners, wat die gebiede ken en weet hoe om by boere uit te kom, vir die opname te gebruik. “Maar helaas is verskeie gebiede oorgeslaan.”
Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Wes-KaapIn die Vrystaat, Noordwes en Gauteng is ook klagtes ontvang, maar Vrystaat Landbou, Agri Noordwes en Agri Gauteng sê ná die klagtes met die bepaalde kantore van Statistieke SA opgevolg is, is die meeste van die boere wel besoek.
Die organisasies sê hulle het baie
goeie samewerking van Statistieke SA gehad en hulle is slegs bewus van enkele boere wat nie getel is nie.
Agri Wes-Kaap sê goeie samewerking het voor, tydens en ná die opnametyd tussen hom en Statistieke SA voorgekom. ’n Opvolgaksie om dié boere wat nie besoek is nie, ná die opnametydperk by te staan, is deur dié organisasie aangepak.
Landbou.com wag tans op terugvoering van Statistieke SA oor die kwessie en boere se kommer oor die geloofwaardigheid van die resultate.
Bron:
Beeld