Verskeie vragmotors, wat werkers na vrugteplase in die Malelane-omgewing vervoer het, is Dinsdagoggend (17 Julie 2012) by ’n padblokkade afgetrek en verbied om verder te ry. Mnr.
Hennie Laas, hoof uitvoerende beampte van Mpumalanga Landbou, sê die situasie is baie frustrerend, aangesien dit tans plukseisoen is.
“Die boere wag dat tydelike werkers op die plase moet aankom, want dit is nou pluktyd vir onder meer sitrus, en nou kan die werkers nie op plase uitkom nie. Daar is nie openbare vervoer wat die werkers kan gebruik nie,” aldus Laas.
RegulasiesMe.
Annelize Crosby, parlementêre verteenwoordiger vir Agri SA, sê die vervoer van werkers is ’n ingewikkelde kwessie met verskillende regulasies wat in sommige provinsies van krag is. “Maar vervoer op ’n vragmotor met relings op, is nie onwettig nie.”
Crosby sê die regulasies is by die nasionale
Wet op Padvervoer ingesluit. Van die bepalings is dat ’n vragmotor relings van sekere hoogtes moet hê, dat dit padwaardig moet wees en dat die bestuurder die regte bestuurslisensie moet hê. “En natuurlik moet die bestuurders ook die padreëls nakom. In sommige provinsies moet sulke bestuurders ook bykomende permitte hê,” vertel Crosby.
‘Aanslag op kommersiële boer’Laas sê die voorval waarin meer as 20 werkers, wat Vrydag (13 Julie 2012) na ’n plaas vervoer is, dood is, het ’n “aanslag teen die kommersiële boer ontketen hoewel ’n boer in dié geval nie by die situasie betrokke was nie.”
Laas sê die werkers wat op die vragmotor was wat deur ’n
trein by ’n spooroorgang getref is, was op pad na ’n plaas waar hulle werk wou gaan soek. Die groep is vervoer op ’n vragmotor wat die bestuurder se eiendom is. Dié bestuurder het glo ’n onderneming wat werkers op onder meer vragmotors vervoer.
Na aanleiding van bewerings dat die boer na wie die werkers op pad was, ondersoek gaan word, sê Laas: “Ek weet nie wat hulle wil ondersoek nie, want dit was nie die boer se vragmotor of bestuurder nie.”
Die bestuurder verskyn Dinsdag (17 Julie 2012) in die landdroshof op Barberton en Laas sê hy staan glo op ’n aanklag van strafbare manslag tereg.