Mense se aanvaarding van die hoë vlak van misdaad, asook die algemene houding dat dit nie almal raak nie, is ontstellend, sê Vrystaat Landbou.
Vrystaat Landbou (VL) het homself sterk uitgespreek teen die moord van die burgemeester van die Naledi-munisipaliteit, wat Bothaville insluit, asook die verkragting van ‘n munisipale werker van die Mangaung-munisipaliteit in Bloemfontein.
Luidens ‘n verklaring sê die organisasie: “Die samelewing se aanvaarding van die hoë vlakke van misdaad, asook die traak-my-nie-agtige houding jeens dit is onstellend. Baie gemeenskappe is bewus wie verantwoordelik is vir misdaad maar kan as gevolg van ‘n gebrek aan moreel etiese waardes net nie die brug oorsteek om op te staan teenoor misdaad en misdadigers nie.”
Gebrekkige waardesisteme?
Vrystaat Landbou sê die redes vir die misdadige optrede of die ignorering daarvan kan legio wees, soos: “vrees vir intimidasie, vergelding, ongedissiplineerdheid, die gevoel om die reg in eie hande te neem en dan ook soms net barbaarsheid. Ons vind hierdie tipe ingesteldheid oor die hele spektrum van ons Suid-Afrikaanse samelewing en kan nie eenogig of rassisties hierna kyk nie”.
Volgens die VL kan armoede nie die oorsaak van misdadige of geweldadige optrede wees nie, want daar is te veel bewyse van arm gemeenskappe wat ten spyte van hulle finansiële omstandighede die morele hoë-grond teenoor misdaad betree het.
Die organisasie het ‘n beroep op gemeenskapsleiers, kerklui, politici en gemeenskappe gedoen om die die ingesteldheid te probeer verander en ‘n waardesisteem teen misdaad op te bou.
6 Mei 2010