Boere moet dadelik optree indien hondsdolheid by hul vee vermoed word.Foto: CHARMAINE MALAN
Boere in die Vrystaat word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir tekens van hondsdolheid onder hul diere ná gevalle in Ladybrand, Brandfort en Zastron bevestig is.
Gevalle van
hondsdolheid is in Ladybrand, Brandfort en Zastron bevestig en boere word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir enige tekens daarvan onder hul diere.
Mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, sê ’n bees is verlede week in Brandfort van kant gemaak omdat dit vermoedelik die siekte onder lede gehad het.
Dr. Kgaugelo Mashishi, hoof van die veeartsenydiens in die provinsie, sê ná die eerste
positiewe resultate in Ladybrand gevind is, is die publiek van die uitbreking in kennis gestel. Die Vrystaatse department van gesondheid is ook versoek om enige moontlike hondbyt-voorvalle by die staatsveearts aan te meld.
Die uitbreking in Zastron het volgens Mashishi op ’n plot plaasgevind.Geen inentingsveldtog vir troeteldiere is derhalwe nodig nie. ’n Inentingsveldtog vir troeteldiere sal wel dié week in Bothaville en Brandfort plaasvind.
Vinnig optreeIntussen sê Vermeulen boere moet onthou dat hulle self hul diere en vee teen dié siekte moet laat inent. Hy moedig boere wat vermoed dat die virus onder hul vee voorkom, aan om spoedig op te tree en met die staatsveearts en die
Rooivleisprodusente-organisasie in hul omgewing in aanraking te kom.
“’n Boer sal gou weet as daar fout is en moet vinnig optree ter wille van mense en diere se gesondheid,” aldus Vermeulen.
Mashishi sê hulle het gereelde kontak met gesondheidsowerhede en nog geen menslike gevalle van die siekte is in die Vrystaat aangemeld nie.