Waterskeidingsjaar vir Oos-Kaapse boere

Deur Theuns Botha
11 Januarie 2017
Die komende jaar sal waterskeiding wees vir baie veeboere in die Oos-Kaap, sê die voorsitter van Agri Oos-Kaap.

Na drie jaar van ondergemiddelde reënval, sal 2017 vir baie veeboere in die Oos-Kaap ’n waterskeidingsjaar wees. Vir die wat dit gaan maak, wag daar baie beter tye, sê mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap.

Stern sê hoewel boere moed geskep het na die sagte reënneerslae van tussen 20 mm en 50 mm oor groot dele van die provinsie gedurende die eerste week van die nuwe jaar, ’n moeilike tyd nog voorlê. “Baie veeboere het hul kuddes verminder en moes ten duurste hulle vee voer, met die gevolg dat baie nou kontantvloeiprobleme ondervind.

“Hulle het dus ook nie oortollige vee om te bemark nie. Die droogte het ook veselproduksie nadelig geraak. Dit het reeds grondpryse onder druk geplaas en daar is volgens raming tans 19% meer grond in die mark as ’n jaar gelede.”

Stern het sy teleurstelling uitgespreek dat daar nog dadels gekom het van die R19 miljoen-droogtehulp wat vir die Oos-Kaap bewillig is. “Niemand kan vir my sê waar daardie geld lê nie. En in Desember is almal ‘met vakansie’ by die departement as jy navraag doen.”

Hy sê Agri Oos-Kaap gaan nie ’n steen onaangeroer laat om boere op hul plase te hou nie en sal met banke en agri-besighede onderhandel om nie die mat onder hulle voete uit te trek nie. “Ons het die boere nodig om kos vir die land te produseer.”

Grondonteiening
Met verwysing na pres. Jacob Zuma se uitspraak tydens die ANC se verjaardagviering by Orlando, dat die Wet op Onteiening gebruik gaan word om grondhervorming en -herverdeling te versnel, het Stern boere gevra om nie op loop te gaan nie.

“Daar is genoeg wigte en teenwigte. Wat my moed gee is dat ons Grondwet en die regstelsel in Suid-Afrika nog ongeskonde is en grondeienaars beskerm dat hulle eiendom nié sonder vergoeding van hulle ontneem kan word nie.”


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels