Wenner van die hommeltuig-kompetisie

Deur Jan Bezuidenhout
18 Januarie 2017
Die naam van die wenner van die hommeltuig-kompetisie op Landbou.com is bekend gemaak.

Die kort video van ʼn boereplan wat die hommeltuig-kompetsie gewen het, is bekend gemaak.

Die wenner is mnr. HP Gräbe van die plaas Dassiespoort, Fauresmith. Sy wen-video is ʼn boere-oplossing vir probleme met windpomppype. (Sien sy wen-video hieronder.)

Gräbe se patent bied ʼn oplossing vir swaar ysterpype, met baie slytasie, wat jy in ʼn windpomp gebruik. Hy gebruik plastiekpyp van 60 mm en 32 mm, met ʼn staalstang binne-in. Die pype wat hy gebruik, is klas 20. Dit is die wand-dikte van die pype.

Vir boorgate
Sy boereplan is veral nuttig vir dieper boorgate, waar ʼn mens nie plastiekstange kan gebruik nie omdat dit uitrek.

Gräbe is ʼn veeboer op die familieplaas Dassiespoort. Hy boer met beeste, Dorpers en Boerbokke. Hy sê die plaas van sowat 2 000 ha bestaan uit heelwat ranteveld en rivierweiding. Uit die aard van die topografie op die plaas raak vee soms soek. Hy meen die hommeltuig kan ʼn nuttige hulpmiddel wees om in dié soektogte te help.

HAEVIC, die bekende hommeltuigvervaardiger, het dié prys van die kompetisie geborg. Dis ‘n DJI Phantom 4-hommeltuig wat reeds legendariese status bereik het vanweë sy stewige bougehalte, 20 minute vliegtyd, 2,5 km-reikafstand, objekvermydingstegnologie en glashelder kamera- en videobeelde.

Dag lange opleiding
Dr. Gerhard Coetzee van HAEVIC reël die oorhandiging van die prys, asook die dag lange opleiding vir Gräbe, wat deel is van die prys.

* Altesaam 81 video-inskrywings is vir die kompetisie ontvang. Baie dankie aan almal wat ingeskryf het. Ons sal van die video’s mettertyd op Landbou.com vertoon.


Kommentaar

Een kommentaar op “Wenner van die hommeltuig-kompetisie

  1. java van as
    java van as

    liewe mnr grabe. ek ondervind problem met my windpomp wat water toevoer na my huis en wil graag weet of jy kan uit kom na my plaas en my help. jou boere patent lyk soos ding wat nodig is. dankie. java
    appelkoosx@googlemail.com


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels