Oos-Afrika is een van die wêrelddele wat die hardste getref kan word deur ’n voedselkrisis weens die
droogte in Amerika.
Me. Marie Brill, ’n beleidsontleder van ActionAid, sê ander lande wat ook geraak sal word, is Suid-Korea, Japan, Peru, Guatamala, El Salvador en Colombia.
“Die droogte kom nou voor, maar mense gaan eers regtig die uitwerking daarvan voel oor ses maande van nou af, of moontlik oor ’n jaar,” sê Brill. Luidens ’n
berig in
The Guardian is Brill een van verskeie kenners wat waarsku teen die gevolge van die droogte.
Ander voedselkenners vrees dat die droogte kan lei tot ’n herhaling van 2008 se
wêreldvoedselkrisis. Tydens dié krisis het onrus en protesaksie weens
hoë voedselpryse in dele van Afrika, die Midde-Ooste en Latyns-Amerika voorgekom.
Ernstige situasieMnr. Robert Thompson, ’n voedselsekerheidkenner van Chicago se Raad van Wêreldsake, sê
gebeure in Amerika se mieliebedryf het ’n reuse-uitwerking op die res van die wêreld.
Laer voorraad en gevolglik hoër mieliepryse kan ook tot hoër koringpryse lei. “Ek meen ons kan ’n baie ernstige situasie wêreldwyd verwag,” sê Thompson. Die pryse van mielies en sojabone het die afgelope maand rekordhoë vlakke behaal.
Me. Sophia Murphy, ’n verteenwoordiger vir die Instituut vir Landbou en Handelsbeleid in Amerika, sê die wêreldwye graanvoorraad het 'n nuwe laagtepunt bereik. Amerika en ander lande is besig om hul reserwe-voorraad te gebruik. Amerika se reserwes is bykans opgebruik. Dit beteken daar is min beweegruimte vir lande wat gedwing word om grane in te voer.
Volgens Thompson sal lande die kwessie vererger deur hul voorrade op te gaar, want dit sal verdere druk op hoë kommoditeitspryse plaas.
Suid-AfrikaIntussen
berig die Port Elizabeth Herald dat die Reserwebank voorsien dat voedselpryse in die komende maande in Suid-Afrika hoog sal bly. Dit word toegeskryf aan hoër vervoer-, elektrisiteits- en verkoelingskostes asook loonverhogings.
Luidens die bank se jongste ekonomiese verslag verwag die bank hoër pryse ten spyte van die daling wat die verbruikersprysindeks (VPI) sedert Mei die jaar aangeteken het.
Die daling is ’n gevolg van laer pryse vir brood, graankosse, vleis, olies en vette, vrugte en groente. Die verslag maak spesiaal vermelding van die daling in vleisprysinflasie, wat volgens die bank se statistieke tussen Desember 2011 en Mei 2012 van 16,7% tot 7,0% gedaal het.
Bronne:
Guardian en
Port Elizabeth Herald