Wildboerdery ‘is nie meer vir sissies’

Deur Jasper Raats
19 Junie 2017
Die koring gaan nou van die kaf in wildboerdery geskei word, sê ʼn bekende wildboer van Vaalwater.

“Wildboerdery is nie vir sissies nie, nie meer nie.” Só sê mnr. Barry York, ’n bekende wildboer van Vaalwater en lid van die Golden Breeders-groep.

Die koring gaan nou van die kaf geskei word, sê hy, en die verskil tussen wildboere en mense wat bloot eienaars van wildplase is, besig om duidelik sigbaar te word. Golden Breeders het onlangs aangekondig dié groep kanselleer sy jaarlikse wildveiling by Castle de Wildt by Modimolle.

Mnr. Bernard Groenewald, eienaar van Castle de Wildt, sê in ’n verklaring die besluit is gegrond op “gesonde sakebeginsels”.

Produksiekoste hoog
Tans is die produksiekoste van hoë gehalte diere veel hoër as wat op veilings aangebied word. Dit sal dus “onverantwoordelik” wees om sulke diere teen laer pryse te verkoop.

York stem saam en sê daar was nog nooit ’n reserweprys op ’n Golden Breeders-veiling nie. “Ons wil nie nou begin om pryse te reserveer nie, maar ons is mos nie bankrot nie, so ons hoef nie bankrotveilings te hou waar mens vat wat jy kry nie.”

Dit strook met mnr. Lood Bester van Wildswinkel Veilings se raad dat wildboere nie paniekerig moet raak en hul wild voor die voet verkoop nie. “Hou kop,” sê Bester. “Ons is in ’n slegte fase wat deur verskeie faktore veroorsaak is. Dis nie lekker nie, maar byt vas.”

Onsekerheid oor grond en geweld
Bester sê die onsekerheid oor grondbesit en die toename van gewelddadige rooftogte op plase dra by tot die swak wildmark.

“Sakemense van die stede belê nie meer in grond nie en daar is dus nie meer nuwe toetreders tot die mark nie.”

Dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA (WRSA), stem saam. Hy sê Suid-Afrika se sukkelende ekonomie en die droogte wat nog in dele van die land heers, dra ook by tot die verlangsaming van wildpryse.

“Alle bedrywe verkeer onder druk en mense het nie meer die inkomste wat hulle gewoonlik na wild gekanaliseer het nie.”

Jag van leeus
York sê ook Amerika se verbod op die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, en ’n besluit deur plaaslike jag-ondernemers om nie sulke leeus met ander kliënte te laat jag nie, het ’n verdere impak op die wildbedryf gehad. Suid-Afrika het voorheen byna R800 miljoen per jaar uit leeujag verdien. York sê baie van dié geld is aan die koop van ander wild bestee en nou is die kraantjie toe.

Mnr. Sollie Potgieter van Burkea Wild sê die verlangsaming in die wildpryse is ’n siftingsproses wat die ware wildboere na vore gaan laat tree. “Dit dwing ons om ons bedryf tot volwassenheid te ontwikkel en vertakkings, soos ’n vleisbedryf, daar te stel.”


Kommentaar

Kommentaar (3) “Wildboerdery ‘is nie meer vir sissies’

  1. sekelbos
    sekelbos

    Die pryse van kleurvariante en superlanghoringbokke was doodeenvoudig uit verhouding hoog teenoor die jagwaarde en jagvraag . Vergeet van n vinnige “herstel” van pryse. Huidige pryse gaan heelwaarskynlik verder val. Kleurvariante gaan egter baie harder grond toe kom!!Daar is nie rerig n plek vir kleurvariante nie.
    WRSA moes 4 jaar terug, eerder daadwerlik begin het om vleisbewerking in plek te kry vir volhoubare uitvoer na die EU. Vir ons gewone wildsboere sal dit baie help as ons , ons surplus ouer vroulike diere oorsee teen( beter as biltongjag) goeie pryse kon bemark het. Ons verwag nie buitensporige pryse nie maar seg so 50% bo biltongjagspryse.

  2. mkruger
    mkruger

    Sekelbos.
    Jy weet ek hoop jy is nou nie ‘n ou man wat ek nou moet opvoed nie.
    Kleurvariante het sy plek gehad totdat die jagtersvereniging dit vernietig het met stories soos wat jy versprei.
    Ja, pryse was hoog agv aanvraag gewees.
    Almal het geweet dat dit mettertyd gaan verlaag.
    Miskien moet jy egter ‘n veiling of twee bywoon dan sal jy sien dat die pryse van sekere van die kleur en nie-kleur spesies nou baie naby mekaar is.
    Hulle kan nie veel meer val nie.
    My punt is egter dit.
    Ek vind nie fout en kla omdat jy nie met kleur variante boer nie.
    So los my uit as ek daarmee wil boer.
    Dis maar net goeie maniere.
    Gun elkeen sy plekkie in die son.

    My een buurman wat ek gehad het, het altyd gese.
    Die beste prys is die prys op die tafel.
    Help nie om terug te hou en later te se – moes ek nie maar verkoop het nie.

    Probleem is nou dit.
    As jy nie verkoop teen huidige pryse nie gaan die diere nie ophou teel nie.
    So wanneer die prys weer regkom gaan die aanbod weereens die aanvraag oorskrei.
    En wie weet, dan is die prys dalk swakker as wat hy nou is.

  3. sekelbos
    sekelbos

    mkruger
    Die bietjie kommentaar wat ek lewer kan nie markpryse beinvloed nie. Wat wel tel is die wanbalans tussen wat die uitendelike verbruiker van wild (jagters) bereid is om te betaal en veilingspryse. Telers is nie finale verbruikers nie . Hulle het egter kop verloor en te veel betaal vir kleurgoeters en en n mate ook vir die langhoringbokke.
    Nou slaan die werklikheid deur en almal besef dat oorsese jagters nie mal pryse sal betaal nie.
    Vandaar die regstelling.
    Ek hou glad nie van die intensiewe wildsboerdery nie, York noem van die leeujag wat gebackfire het.
    Ons loop dieselfde risiko met gewone wild wat ons in kampies gooi ,dip, voer en op piep.Die jaghaters gaan ons een of ander tyd opdonder as ons voortgaan hiermee.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels