’n Aansoek van die Zimbabwiese regering om die
verkoop van sy eiendom in Kaapstad te stuit, is met koste deur die appèlhof in Bloemfontein van die hand gewys.
AfriForum sê sy regspan sal die balju in Kaapstad dié week nog opdrag gee om voort te gaan met reëlings vir die geregtelike verkoop van die eiendom in Kenilworth.
“Dit sal waarskynlik die eerste keer in die internasionale regsgeskiedenis wees dat daar voortgegaan word met die geregtelike verkoop van ’n eiendom van ’n staat wat hom aan growwe menseregtevergrype skuldig maak,” aldus AfriForum.
GeskiedenisDié regsaak het begin nadat mnr.
Mike Campbell, ’n voormalige boer van Zimbabwe, in 2008
geslaag het met ’n aksie teen die regering van die buurland by ’n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Die tribunaal het bevind Zimbabwe se grondgryp-program is onwettig en rassisties. ’n Beslissing is gemaak dat Campbell en 77 medeboere met rus gelaat moes word.
Campbell is intussen verlede jaar oorlede. Sy gesondheid het agteruit gegaan nadat hy, sy vrou, Angela, en skoonseun, mnr.
Ben Freeth, tydens die proses aangaande die aksie voor die tribunaal, wreed op hul plaas deur oorlogsveterane aangerand en gedreig is om die proses stop te sit.
ProsesDie Zimbabwiese regering het geweier om aan die tribunaal se beslissing gehoor te gee, en ’n bestraffende kostebevel is deur die tribunaal teen dié regering toegestaan. Met behulp van AfriForum het die boere in 2010 daarin geslaag om dié kostebevel in ’n Suid-Afrikaanse hof geregistreer te kry, wat uiteindelik tot die beslaglegging op die eiendom aanleiding gegee het.
Die woonhuis in Salisbury-weg in Kaapstad sal nou binne bepalings van die kostebevel en ten bate van die boere verkoop word.