Zokwana kap politici wat onsekerheid skep

Deur Carien Kruger
20 Maart 2017
Kommersiële boere het beskerming nodig, net soos wat kleinskaalse boere met ontwikkeling gehelp word, sê landbouminister Senzeni Zokwana.

“Moet asseblief nie na politieke mense luister nie. Hulle wil onsekerheid skep, vir politieke doelwitte.”

Dit was mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se beroep op die landbousektor by ʼn simposium deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), Landbounavorsingsraad (LNR) en Land Bank in Centurion.

“Die landbou moet beskerm word. Soos wat kleinskaalse boere ontwikkel word, moet ons ook die rol beskerm wat kommersiële boere speel,” het Zokwana gesê.

“Wanneer ons sê ons wil die ekonomie saam laat groei, sou ons ʼn Suid-Afrika wou sien waar boere geen kleur ken nie, waar hulle nie belemmer word deur verskillende tale nie, maar ten alle tye saamwerk om ʼn beter Suid-Afrika te bou.”

‘Gee die nasie kos’
Zokwana het die sektor gevra om voedsel te produseer sodat die nasie gevoed kan word, en gesê die staat se rol is om beleidsekerheid en toegang tot markte te skep.

Hy het ʼn beroep gedoen op navorsers, beleidmakers, kundiges en boere om die sektor vir almal haalbaar te maak en gesê baie werk is reeds gedoen om landbou se potensiaal vir Suid-Afrika te ontsluit.

Zokwana sê globale ekonomiese en politieke neigings rondom onder meer Brexit en die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) moet in gedagte gehou word, omdat dit Suid-Afrika se marktoegang kan raak.

Agoa kan volgens hom egter nie as die rede vir die krimpende Suid-Afrikaanse pluimveebedryf beskou word nie, omdat dit eerder Europese invoer van hoender is wat ʼn demper op die bedryf plaas.

Beskerm ons eie bedrywe
“Ons as Regering moet instrumente ondersoek wat ons kan gebruik om ons eie bedrywe te beskerm. Ons kan nie ʼn situasie toelaat waar almal bruin vleis hier stort, terwyl ons nie ons wit vleis aan daardie markte kan verkoop nie.”

Zokwana het die sektor aangemoedig om geleenthede vir uitvoer na Brics-lande te ondersoek. Suid-Afrika het volgens hom reeds die geleentheid om duif-ertjies, varkvleis, mango’s en persimmons na Indië uit te voer.

Zokwana het ʼn pas getekende memorandum van verstandhouding tussen die NLBR, die LNR en die Land Bank verwelkom.

Hy het gesê klimaatsverandering bied geleenthede vir meer navorsing en innovering sodat die land homself beter kan voorberei op natuurlike uitdagings soos droogte, nuwe plae en dieresiektes.


Kommentaar

Een kommentaar op “Zokwana kap politici wat onsekerheid skep

  1. Saaiboer
    Saaiboer

    Mens weet nie regtig hoe om hierop te reageer nie. Zokwana het ‘n positiewe boodskap, mens voel om saam te werk. Dan kom ‘n man met oor die 700 aanklagte teen hom het en (dit gaan my verstand te bowe) nog die land se sg. president is, en probeer almal verdeel en rassekonflik die hoogte injaag. Van sy amptenare gil in histerie dat blanke boere lewendig begrawe moet word, dan kook mens se bloed en sit jy in die aand en wapens skoonmaak. Hierdie ministers met ‘n goeie boodskap is te lafhartig om teen ‘n korrupte president op te staan, hoe wil hulle he mens moet positief op hulle boodskap reageer? So, op die stadium sal jy naief wees om positief op Zokwana se boodskap te reageer, hy is maar een van Zuma se marionette. Zuma en Malema is besig om ‘n burgeroorlog aan te wakker.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels