Omstredenheid en ontevredenheid heers sedert
pres. Jacob Zuma verlede week ’n moontlike nuwe plan vir grondhervorming by die African Farmers’ Association of South Africa (
Afasa) se kongresdinee bekend gemaak het. Die grondplan vorm glo deel van die Nasionale Beplanningskommissie se toekomsplanne vir die land.
Die plan fokus daarop dat die proses na distriksvlak afgewentel word, en dat boere teen sowat 50% van die markwaarde vir hul grond vergoed word. Lees meer hier.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê hulle meen Zuma se onlangse uitsprake is om sy posisie te bevorder voor die ANC se verkiesingskongres in Bloemfontein, Mangaung, einde vanjaar. “Die feit is hulle kan met ons daaroor praat, maar Zuma neem die besluit om die saak in die openbaar te voer.”
Vir en teen
Wat Zuma se voorstel betref, sê die organisasie luidens ’n verklaring, hy steun die voorstel dat onderbenutte grond in kommunale gebiede vir kommersiële produksie gebruik moet word. “Die TLU SA herhaal egter sy standpunt dat dit ook on- en onderbenutte staatsgrond moet insluit, hetsy onder beheer van die sentrale regering, provinsiale of plaaslike regeringsinstellings.”
Die voorstel van distrikskomitees vir grondhervorming wek egter twyfel. Die organisasie sê die tyd in ’n boer se dag moet optimaal benut word vir produksie en nie om geskille te besleg en mense se grond te identifiseer wat dit teen minder as markwaarde kan verloor nie. Dít sal die moontlikheid van spanning in gemeenskappe verhoog en voedselsekerheid verminder.
“Om grond te koop, van wie ook al, teen 50% van die markwaarde, kom neer op onteiening of selfs nasionalisering. Van hierdie gronde kom uit boedels, wat beteken dat weduwee en wees benadeel sal word,” aldus die TLU SA.
Stabiliteit
Meintjes sê in geheel gesien, is Zuma se voorstelle nie haalbaar nie. “Die land sal ’n groot guns bewys word as meer realistiese en haalbare doelwitte gestel word.”
Die organisasie sê boere het tans, in ’n onstabiele tyd en omgewing, langtermyn-stabiliteit gegrond op ekonomiese beginsels nodig.
Lees hier wat Landbou.com-lesers sê oor Zuma se grondplan.