|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die liggingsdifferensiaal wat gebruik word in die vasstelling van die plaaslike mielieprys gaan dalk verdwyn. Boere sal dan self 'n premie vir 'n gunstige ligging van graan moet beding. 'n Veilingstelsel op Safex, die landboutermynmark op die JSE, kan moontlik ook gebruik word om dié leemte te vul.
Mnr. Rod Gravelet-Blondin, senior bestuurder van Safex, het verduidelik dat die liggingsdifferensiaal (met Randfontein as leweringspunt omdat daar vroeër twee groot meulens was wat dit die grootste afsetpunt gemaak het) gebruik word om 'n eenvormige prys vir alle mielies te bereken.
Omdat feitlik alle mielies destyds per trein vervoer is, was dit maklik om 'n liggingsdifferensiaal te bereken. Deesdae word die meeste mielies egter per pad vervoer en die wisselende brandstof- en vervoerpryse maak die berekening moeilik en veroorsaak irritasie.
&qout;Graan SA het versoek dat met die liggingsdifferensiaal weggedoen moet word. Ons ondersoek dit nou en raadpleeg ons kliënte. As dit sou gebeur, sal dit eers oor 'n jaar 'n werklikheid kan word omdat daar nou lopende kontrakte is waarin dit vervat is,&qout; het hy gesê.
Safex verwag dat kopers vervoerkoste sal inwerk in 'n prys van graan waar ligging nie in ag geneem word nie en dit kan dalk daartoe lei dat die mielieprys met tot R150/ton kan daal.
Boere by wie die graan op 'n gunstige plek vir die koper lê, sal dan self 'n premieprys daarvoor kan beding.
Die moontlikheid word ook ondersoek om 'n stelsel in werking te plaas wat produsente met 'n gunstige ligging kan help wat nie iemand kon kry om 'n premieprys te beding nie. Dié produsent se mielies kan tien tot 15 minute ná die mark om 12:00 gesluit het, per veiling aangebied word.
Kopers wat dan 'n posisie in die mark het, sal kan bie om dié mielies te bekom om die voordelige ligging te benut. Dit wat kopers dan ekstra vir dié mielies betaal, sal aan die boer deurgegee word, sê Gravelet-Blondin.
Dit word alles egter nog ondersoek en geen besluit is nog daaroor geneem nie.
25 Augustus 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24