|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die uitbreking van voëlgriep onder volstruise het daartoe gelei dat daar nou 'n goeie databasis in dié bedryf bestaan. Dié bedryf sal in die toekoms meer moet fokus op die ontwikkeling van nuwe markte en waardetoevoeging, want tans word sowat 90 % van volstruisvleis en -produkte na die Europese Unie uitgevoer.
Mnr. Anton Kruger, bestuurder van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), het op 'n inligtingsdag op Oudtshoorn gesê die volstruisbedryf implementeer tans voorstelle wat die volhoubaarheid en winsgewendheid van produksie sal verseker. Kernaspekte wat aandag kry, is 'n fokus op bemarking, die bevordering van plaaslike volstruisprodukte onder 'n oorkoepelende Suid-Afrikaanse handelsmerk en die implementering van 'n geïntegreerde vraag- en aanbodketting.
Volgens Kruger is die ondersoekfase van die Ostrivisie-projek einde verlede jaar afgehandel. Verskeie taakspanne is sedert die begin van die jaar besig om die voorstelle te implementeer.
Aangesien Suid-Afrika deel is van die wêreldekonomie sal die voldoening aan internasionale gehaltevereistes insluitend EurepGap ál belangriker word. Die plaaslike bedryf sal dus op die ontwikkeling van nuwe markte en waardetoevoeging moet fokus. Om daaraan te voldoen, sal meer geld aan navorsing bestee moet word, bedryfsinligtingstelsels moet verbeter word en vennootskappe tussen die openbare en private sektore moet gevestig word.
Die wêreldmark raak ál mededingender en voedselveiligheid speel 'n ál groter rol, asook die voorkeure van verbruikers.
Kruger sê die bedryf gee daadwerklik aandag aan AgriSEB en moet bedag wees op alle aspekte van die telkaart hiervoor.
Wat navorsing betref, meen hy die vennootskap tussen die volstruisbedryf en die Wes-Kaapse departement van landbou moet uitgebou word. Eksterne finansiering is egter ook nodig hiervoor, asook vir die uitbouing van Ostrivisie se doelwitte.
Dit moet onthou word dat Ostrivisie 'n langtermynprojek is wat nuwe denke en optredes vereis, sê Kruger.
27 Mei 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24