|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit is vanjaar 'n eeu sedert die grondslag vir kommersiële olyfverbouing in Suid-Afrika deur die Italianer, mnr. Ferdinand Costa, gelê is.
Die werk deur die familie Costa en verskeie ander baanbrekers het meegebring dat die land se olyfproduksie die afgelope dekade of wat aansienlik uitgebrei het. Die gehalte van die plaaslike produkte vergelyk goed met dié van die res van die wêreld.
Om hierdie mylpaal te vier, bied die SA Olyfkwekersvereniging op 17 en 18 November 'n tegniese seminaar en ander aktiwiteite op Spier, naby Stellenbosch, aan.
Op die eerste dag van die seminaar word internasionale en plaaslike neigings, plaagbestuur, bemesting en besproeiing bespreek. Die kwekersvereniging hou later die dag sy algemene jaarvergadering. Die dag word afgesluit met 'n skemerkelkie en 'n funksie.
Die volgende dag sal die seminaar na olyfprodukte kyk, met onderwerpe soos uitvoergereedheid, moderne produksiemetodes vir ekstra-suiwer olyfolie en 'n gesonde lewenstyl met olywe en olyfolie.
Twee sjefs van Spier sal daarna 'n kookdemonstrasie hou en 'n middagete voorberei.
Die res van die dag bestaan uit 'n tentoonstelling waar boere hul produkte regstreeks aan kopers kan bemark. Werksessies oor die beoordeling van tafelolywe en olyfolie word ook aangebied.
Navrae: Me. Retha Venter, sel 084 512 3012 of reventer@netactive.co.za. Besoek die webwerf www.saoga.co.za om te bespreek.
12 November 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24