|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Onteieing ís grondwetlik
Onteiening is net so 'n beskaafd soos likwidasie en sekwestrasie, sê mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake.
Hy het gereageer ná me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, die Adjunkpresident, in die Nasionale Raad van Provinsies gesê het die Regering sal voortgaan om die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper te hersien.
Sy sê daar word onder meer na onteiening gekyk, maar dat die Regering steeds aan die bepalings van die Grondwet sal voldoen. Die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper is nie in die Grondwet verskans nie. Sy meen die handeling van onteiening is dus nie strydig met die Grondwet nie.
Du Toit sê dit is ongrondwetlik om markwaarde in grondhervormingstransaksies te gebruik. Hy sê die produksiewaarde van grond kan in die toekoms die markwaarde as maatstaf vir grondwaardasies vervang.
"In sekere gevalle is die markwaarde van landbougrond amper 12 keer meer as die produksiewaarde van dieselfde grond."
Du Toit het voor die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê die Onteieningswet maak voorsiening vir markwaarde. "Dit moet gewysig word, want daar moet 'n opweeg van belange tussen die individu en die publiek wees en markwaarde is slegs in die belang van die individu."
Voorstelle van die afgelope Grondberaad is ook op die vergadering van die portefeuljekomitee bespreek.
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, het op die vergadering gesê onteiening is nie die enigste maatreël waarna gekyk moet word om grond te bekom nie.
"Grondbelasting is 'n ander moontlikheid. Dit is 'n mite dat heffings op eiendom soortgelyk aan belasting is, want dit word deur landelike én stedelike inwoners betaal." Sy sê grondbelasting is gemik op diegene wat meer het.
Lede van die komitee meen die Onteieingswet van 1975, waaroor publieke verhore onlangs uitgestel is, moet so gou moontlik gewysig word sodat dit "in pas is met die Grondwet". Onteiening kan wel plaasvind, soos artikel 25 van die Grondwet meld, solank dit in die publieke belang beskou word. Grondhervorming word as sodanig beskou, sê sy.
Die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake se nuwe voorsitter word volgende maand aangestel. Landbouweekblad het verneem sy is me. Dumisile Nhlengethwa, 'n ANC-lid van die Nasionale Vergadering. Sy is die ANC se streeksverteenwoordiger in Mpumalanga en dien tans op die portefeuljekomitee vir onderwys.
23 September 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24