|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die skandering vir dragtigheid by ooie sal vir talle boere onbekostigbaar raak as slegs veeartse die betrokke toerusting mag gebruik, is op die NKWV-kongres in Port Elizabeth gesê in reaksie op die voorgestelde wysigings wat die SA Veeartsenykundige Raad (SAVR) aan sy regulasies wil aanbring.
Die raad wil hê dat geen mediese instrument deur iemand wat nié as veearts geregistreer of geakkrediteer is, gebruik mag word vir die diagnose van siektes of dragtigheid en om fisiologiese of patologiese diagnoses by diere te doen nie.
Dr. Theuns Laas, 'n veekundige van Mpumalanga, het voorgestel dat die kongres sy kommer oor dié wysiging uitspreek. Hy het gesê dat 'n regsmening wat ingewin is, daarop dui dat die voorgestelde wysiging die Wet op Mededinging van 1998 (soos gewysig) in die prentjie bring. "Hoewel daar toegegee word dat sekere aktiwiteite aan spesialisberoepe toegesê kan word indien dit in die openbare belang is, is dit onregmatig indien dit gedoen word met die uitsluitlike doel om mededinging uit te skakel. Daar bestaan geen bewys dat die toerusting om dragtigheid by diere te bepaal, in enige opsig skadelik vir vee is nie."
Laas sê veeartse vra R4 tot R7 per ooi vir die bepaling van dragtigheid. Daarby word reiskoste van minstens R5 per kilometer gevoeg. Mense wat nie as veeartse opgelei is nie, maar ook die werk kan doen, vra R1,95 tot R2,50 per ooi asook reiskoste van R2,50 per kilometer. "Indien nét veeartse voortaan dié taak sal kan verrig, sal skandering vir dragtigheid onbekostigbaar vir baie boere word."
Dr. Riaan Mulder, wat namens die SAVR op die punt geantwoord het, het daarop gewys dat die voorgestelde reëling onder meer daarop gemik is om die veeartsenykundige beroep te beskerm en te verseker dat daar in die toekoms steeds veeartse sal wees wat bereid is om die landbou te bedien. "Veeartse het die betrokke toerusting in 1986 na Suid-Afrika gebring. Die doel van die wysiging is egter net om die diens te reguleer en nie om ander mense wat bereid is om by die raad te registreer, uit te sluit nie."
9 Junie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24