|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Met die hulp van landbou-organisasie wat vir die eerste keer almal deel van president Thabo Mbeki se werkgroep vir die landbou is, gaan verskeie planne en voorstelle in 'n oorhoofse plan saamgevoeg word om grondhervorming te bespoedig.
Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het besonderhede oor dié planne na afloop van 'n presidensiële werkgroepvergadering in Pretoria bekend gemaak. Die TLU SA was vir die eerste keer ook deel van die werkgroep.
Een van die planne wat kom van die Forum vir Uitvoerende Hoofde is dat die kundigheid van ondernemings, soos Afgri en Pam Golding, benut moet word om beskikbare grond in die private sektor te identifiseer. Deur hul betrokkenheid kan verseker word dat produktiewe landbougrond verkry word. Hul kundigheid kan help om pryse vas te stel.
Agri SA het ook aangebied om deur sy strukture 'n opname van beskikbare landbougrond in elke distrik te doen. "Sowat 4 % van landbougrond kom elke jaar op die vrye mark beskikbaar. Agri SA sê nog altyd dit is genoeg om in die vraag na grond vir hervorming te voorsien. Ons sal 'n databasis daarvan saamstel en aan die Regering beskikbaar stel as 'n moontlike voorkeurkoper," het mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, gesê.
Volgens Xingwana sal staatskemas, soos die program vir die herverdeling van landbougrond (LRAD), benut word om grond te koop. Daar sal ook gekyk word na staatsgrond wat beskikbaar is. Die afhandeling van grondeise sal bespoedig word en 'n plan hieroor, wat deur die TLU SA ingedien is, sal verdere aandag geniet.
"Wat verder belangrik is, is dat ons 'n onderneming van die unies en die bedryf het dat hulle sal help met mentorskappe en steun om te verseker dat nuwe boerderye volhoubaar bedryf kan word. Daar is 'n baie goeie gesindheid onder al die rolspelers," het sy gesê.
Mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake, sê volhoubaarheid is net moontlik binne vennootskappe. Verskillende belanghebbendes op plaaslike vlak sal almal moet saamwerk om volhoubaarheid te verseker.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, sê grondhervorming moet so gou moontlik afgehandel word sodat die swaard wat oor boere se kop hang, weggeneem kan word en hulle met boerdery kan voortgaan. Hy pleit dat daar voorsiening gemaak moet word vir 'n heenkome vir boere wat hul grond verloor.
"Pres. Mbeki het gesê daar is werk vir enigeen in Suid-Afrika. Ons gaan nie ons mense die see injaag nie," het Xingwana gesê. Sy sê Suid-Afrikaanse boere behaal baie sukses in buurlande, maar dat hulle nog beter kon vaar in Suid-Afrika.
7 Julie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24