|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Hoewel die uitbreek van voëlgriep in die Oos-Kaap die Suid Afrikaanse volstruisbedryf in 'n krisis gedompel het, hang die bedryf se oorlewing op lang termyn van ander faktore af, waarvan sommige heelwat groter uitdagings as die bestryding van voëlgriep gaan bied.
Só het dr. Francois de Wet, besturende direkteur van Mosstrich, op die Megaweek op Bredasdorp gesê. Volgens hom is een van die kritieke suksesfaktore voedselveiligheid en die Departement van Landbou se infrastruktuur vir dieregesondheid en veterinêre volksgesondheid.
Hy meen nuwe toepassings vir volstruisleer en die geografiese uitbreiding van bestaande volstruisleermarkte, samewerking tussen Suid-Afrikaanse betrokkenes en die mededingendheid van die plaaslike volstruisboer kan ook tot welslae bydra.
Volgens De Wet plaas die Europese Unie ál groter eise op die verskaffers van vleis uit lande wat nie lede van die EU is nie. Boekhou ten opsigte van medisyne gebruik, vrektes en die oorsake daarvan, voeding en volstruis-identiteit word al hoe strenger. Die Suid-Afrikaanse volstruisboer is in staat om aan ál hierdie vereistes te voldoen, maar streng dissipline moet toegepas word.
Volgens die nuutste verwikkelinge in die EU word nie meer so seer die abattoirstrukture of selfs die abattoirprosedures geïnspekteer nie. Die "verantwoordelike gesagsliggaam", in hierdie geval die Nasionale Departement van Landbou, se vermoë om self inspeksies uit te voer en beheer toe te pas op al die EU-regulasies, word deur die EU beoordeel.
Die volstruisabattoirs en -produsente kan dus teoreties alles volgens die boek doen, maar as die EU bevind dat die departement se strukture nie aan hul vereistes voldoen nie, kan dit die volstruisbedryf "sink".
Die bedryf sal 'n nuwe denkwyse en daaropvolgende aksies moet ontwikkel om oor 10 jaar steeds die wêreldleier te wees. "Sekere aksies sal ons as Suid-Afrikaanse volstruisprodusente en -verwerkers gesamentlik moet aanpak.
"Ons boere produseer nie meer die goedkoopste volstruise ter wêreld nie. In China is sterk staatsondersteuning. Ons sal deurlopend moet poog om so goedkoop as moontlik 'n slagvolstruis van hoë gehalte te produseer. Abattoirs en looierye sal uiteraard dieselfde moet doen."
8 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24