|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Eienaarskap van landboubesighede in die Wes-Kaap kan heeltemal verander as CTH Investment se aanbod aan aandeelhouers van die vyf landboumaatskappye en die lede van een koöperasie in die gebied slaag. Die aanbod is regstreeks aan die aandeelhouers en lede gemaak.
Die hele CTH-groep, CTH Investment, het die aanbod gemaak, en nie net CTH Trading, die groep se graanverhandelingsmaatskappy, nie, sê mnr. Willie Marais, besturende direkteur van CTH Trading. Volgens hom het die groep die hulpbronne en vermoë om die aanbod tot uitvoering te bring.
CTH Investment bestaan uit CTH Trading (wat fisiese verhandeling van kommoditeite doen), Commodity House (wat plaaslik en internasionaal veskansing doen), Commodity Finance (wat finansiering van kommoditeite doen) en CTH Agri (wat produkte regstreeks aan boere verkoop).
Die groep se bemagtigingsmaatskappy, CTH Difalana is deel van CTH Agri.
Dié nuus van CTH se aanbod aan die landboumaatskappye Boland Agri (met sy hoofkantoor op Porterville), WPK (Malmesbury), MBK (Moorreesburg), BNK (Bredasdorp) en CRK (Caledon), asook Sentraal-Suid-koöperasie (SSK) van Swellendam, het verlede week 'n groot beroering veroorsaak. Met druktyd was volledige besonderhede daaroor nog nie beskikbaar nie.
Die direksie van CTH glo dat die aanbod net tot voordeel van al die betrokkenes kan wees.
Woordvoerders in die graanhandel landwyd wou weens die min inligting wat teen Landbouweekblad se druktyd beskikbaar was, nie veel kommentaar lewer nie. Hulle het egter die jongste ontwikkeling in die Wes-Kaap as 'n verrassing en hoogs interessant bestempel. Een van hulle reken die aanbod gaan net vir die Pioneer-aandele geld.
"Dit sal insiggewend wees om te sien hoe CTH hierdie transanksie gaan finansier. CTH is in landbouterme immers nog 'n redelike jong maatskappy. Daarby het hy die afgelope paar jaar markaandeel verloor, wat waarskynlik verklaar hoekom hy hierdie soort aanbod maak as teenvoeter vir Afgri. Sou Afgri slaag, kan dit CTH uiteraard in die Wes-Kaapse graanmark ondergrawe," het 'n senior amptenaar by een van die groot landboumaatskappye wat anoniem wil bly, aan Landbouweekblad gesê.
Hy het daarop gewys dat die Regering fynbesnaard is oor monopolievorming in die graansilobedryf omdat die siening bestaan dat dit 'n invloed op kospryse kan hê. In Afgri se geval is dit dus 'n hekkie wat nog oorgesteek sal moet word, sou sy aanbod in die Wes-Kaap suksesvol wees.
Die vyf landboumaatskappye het hul aandeelhouers in 'n advertensie in Die Burger gemaan om versigtig te wees met die verhandeling van aandele en kundige advies in te win in dié verband. Daar is genoem dat hulle nie in enige gesprekvoering met CTH was of is ten opsigte van die aanbod nie.
As die aanbod wel gemaak word, sal elke maatskappy individueel met sy aandeelhouers kommunikeer.
8 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24