|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Verlede jaar se Vrouewynmaker van die Jaar, me. Ivy du Toit-Oates, vertrek vroeg in Mei na die Bordeaux-wynstreek in Frankryk. Een van die vroue-wynmakers wat vir vanjaar se kompetisie ingeskryf het, kan dalk, soos Du Toit-Oates, dié Franse wynstreek behoorlik leer ken.
Du Toit-Oates se toer begin met 'n wynproe by die wêreldbekende Château Mouton Rothschild in Pauillac, gevolg deur 'n toer deur die wynroete van Bourdeaux tot by Saint Estèphe. Sy gaan 'n middag met die wynmaker van Château Pichon Longueville Comtesse de Lalande deurbring en 'n dag in die geselskap van die wynmakers en eienaars van Château Closiot en Château Malartic Lagravière in die Sauternes en Barsac-wynstreek.
Du Toit-Oates gaan na Saint Emilion vir 'n besoek aan Château Belair met sy ondergrondse kelders en leer van hul natuurlike benadering tot wynbou, gevolg deur 'n toer deur die res van die wingerde van Saint Emilion en Pomerol.
Die beoordelaars vir vanjaar se kompetisie, met Landbouweekblad as hoofborg, is mee. Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wyn-akademie en voorsitter van die beoordelaars; Christine Rudman, voormalige hoof van die Kaapse Wynakademie; Caroline Rillema, wynkoper en eienaar van Caroline's Fine Wines in Kaapstad; Janna Rijpma-Meppelink, 'n Nederlandse wynskrywer; Norma Ratcliffe, eienaar en wynmaker-konsultant by Warwick Landgoed; Jo-Anne Mettler, skakelbeampte by L'Ormarins; en Tatiana Marcetteau, sjef-sommelier by die Arabella Sheraton-hotel in Kaapstad.
Cooper moedig alle vrouewynmakers in die land aan om deel te neem n nie net om die wonderlike prys en status wat met die toekenning gepaard gaan nie, maar vanweë die goeie bemarkingsgeleentheid wat dit bied.
"Wenners skep 'n gehaltestandaard wat verbruikers van wyn help om ingeligte keuses te maak en ook meer bewus te wees van die groot verskeidenheid wyn van gehalte wat beskikbaar is. Kompetisies gee wynmakers 'n geleentheid om hul wyne aan plaaslike sowel as buitelandse beoordelaars bekend te stel wat op sy beurt waardevolle blootstelling gee aan ons Suid-Afrikaanse wynbedryf. "
Wynmakers wat belangstel om aan die kompetisie deel te neem, kan nog tot 20 Mei inskryf. Dit kos R280 en vier bottels van elke wyn wat ingeskryf word, moet die inskrywing vergesel. Die wenner sal op Vrydag, 27 Mei, in Kaapstad aangekondig word. Vir meer inligting en om in te skryf, bel 039 314 9915, stuur 'n e-pos aan lorman@yebo.co.za of besoek Landbouweeblad se webwerf en klik op die knoppie wat lees Vrouewynmaker van die Jaar 2005.
22 April 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24