Die gemeenskappe van Kameeldrift en Cullinan het oorlog verklaar teen misdaad in hierdie gebiede, en teen die staat se versuim van sy plig om toe te sien dat landsburgers in veiligheid leef.
Verlede week het meer as 600 lede van die gemeenskap tydens 'n vergadering besluit dat die situasie nie só kan voortgaan nie, en dat hulle die saak baie duidelik en openlik onder die aandag van die owerhede sal bring.
Luidens 'n mediaverklaring gaan die gemeenskap nou 'n petisie oorhandig aan die polisiekantore op Kameeldrift en Cullinan. Om 11:00 op Vrydag 7 November kom die gemeenskap oorkant die polisiekantoor van Cullinan byeen, sodat die petisie om 12:00 aan die SAPD oorhandig kan word. Om 14:00 kom die gemeenskap byeen by die Derdepark-Winkelsentrum, sodat hulle na die Kameeldrift polisiekantoor kan gaan, waar die petisie om 15:00 deur die SAPD in ontvangs geneem sal word.
Die gemeenskap word in hulle optrede ondersteun deur verskeie organisasies wat in die gemeenskap betrokke is, waaronder die TLU SA en Afriforum. Die organiseerders vra dat soveel as moontlik mense by die oorhandigings teenwoordig sal wees om hulle absolute verwerping van die misdaadsituasie kenbaar te maak.
Die petisielyste kan nog saamgebring word na die oorhandigings. Die petisie is ook te kry op die internet by www.tlu.co.za.
Vir verdere navrae, skakel:
Louis Meintjes, 082 461 7262
Nantes Kelder, 084 619 8264
5 November 2008