|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Organiese boerdery is die landboubedryf wat die vinnigste groei en wêreldwyd word verwag dat dit oor die volgende tien jaar met tot 25 % sal toeneem. Organiese wyn is veral gewild en in Amerika is die verwagte groei 64 %.
Mnr. Ged Buffee, voorsitter van die Stigting vir Organiese Boerdery in Afrika, het op AMT, Landbouweekblad en Absa se vooruitskouingskonferensie gesê in Amerika is die organiese mark sowat R90 miljard sterk en in Europa R120 miljard.
Hy sê volgens die Wêreldbank sal daar teen 2020 'n voedseltekort van meer as 250 miljoen ton in Afrika wees. "Die agteruitgang in die gehalte van grond op dié vasteland dra heelwat tot dié bedreiging by." Hy plaas die skuld vir die uitputting van die grond op kommersiële boere.
Volgens hom is die antwoord vir Afrika 'n agri-ekologiese model met die fokus op bio-verskeidenheid, die hersirkulering van voedingstowwe, sinergie tussen gewasse, diere, grond en ander biologiese komponente, sowel as die vernuwing en bewaring van hulpbronne.
"Verskeie studies het bewys dat grondgehalte met organiese praktyke verbeter." Die proef wat die langste duur, strek oor 150 jaar by die navorsingstasie Rothamsted in Engeland. Buffee sê proefstroke wat met kraalmis bemes word, lewer hoër opbrengste as in die geval van kunsmis en die organiese materiaal in die grond is ses keer hoër as met chemiese behandeling.
Hy sê toetse in Switserland het ook bewys dat organiese boerdery ekonomies haalbaar en omgewingsvolhoubaar op die lang duur is. Dit produseer meer kos met minder energie en minder hulpbronne. Met organiese boerdery word die helfte minder energie bestee, 97 % minder plaagdoders en 51 % minder kunsmis.
'n Vergelykende studie op sitrus in Spanje het getoon organiese verbouing is winsgewender. Hoewel die koste sowat 27 % hoër was en die opbrengs 19 % laer, was die prys vir organiese sitrusvrugte 30 % tot 40 % hoër. Buffee beklemtoon dat die premies vir organiese produkte dit in baie gevalle winsgewender maak.
Hy sê dit is 'n bedryf wat deur 'n verbruikersvraag gedryf word en ook in Suid-Afrika is dit 'n groeiende mark.
19 Augustus 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24