|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die stadige pas van grondhervorming in Suid-Afrika plaas toenemend druk op die Regering om onteiening te gebruik, hetsy vir die herstel van grondregte of vir herverdeling, waarsku dr. Manie Schoeman, ANC-LP.
Hy het verlede week in Port Elizabeth op die Oos-Kaapse NWKV se kongres nietemin benadruk dat daar 'n onderskeid getref moet word tussen die gryp van grond (soos in Zimbabwe) en die onteiening daarvan deur die staat.
"Artikel 25 van die Grondwet stel dit duidelik dat géén wet die arbitrêre onteiening van eiendom mag toelaat nie. Daar is bepaalde voorskrifte dat dit slegs toegepas kan word as dit in openbare belang of vir openbare doeleindes nodig is. Daar is ook duidelike riglyne oor die omstandighede en vergoeding wat ter sprake is."
Schoeman meen egter dat die proses van grondhervorming beswaarlik suksesvol sal wees as dit nie in vennootskap tussen die Regering, die kommersiële landbou en die begunstigdes plaasvind nie.
"Om hierin te slaag, sal die onlangse vertrouensbreuk wat oor die konsepdokument vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) ontstaan het, geheel moet word en 'n vertrouensverhouding tussen die verskillende betrokkenes ontwikkel en vertroetel moet word," het hy bygevoeg.
Ofskoon die restitusieproses goeie vordering toon en die mikpuntdatum vir die afhandeling van grondeiese teen die einde van die jaar waarskynlik haalbaar is, vertel dit net 'n deel van die verhaal, sê Schoeman. "Baie van hierdie projekte het misluk of stuur op mislukking af. Die redes hiervoor sluit onder meer onvoldoende finansiering deur die Regering, die lang tydperk tussen die goedkeuring van 'n eis en besitname deur die begunstigdes en onvoldoende opleiding en ondersteuning in. Die ongestruktureerde manier waarop mentorskapsprogramme plaasvind, is ook 'n bron van kommer."
Schoeman is ten gunste van 'n proses waar die herverdeling van grond op 'n distriksgrondslag benader word en die kommersiële landbou, plaaslike en provinsiale owerhede en nuwe en voornemende boere saamwerk. "Ware behoeftes moet bepaal en realistiese mikpuntdatums gestel word. Nuwe toetreders behoort volgens beproefde wetenskaplike beginsels geëvalueer te word en die nodige finansiële steun en opleiding ontvang. Sou hulle nie die mas opkom nie, moet daar 'n proses wees om hulle deur geskikte mense te vervang."
Hy vertrou dat die gondhervormingsproses in Suid-Afrika nie 'n verdelende, maar eerder 'n verenigde krag in nasiebou sal wees.
18 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24