|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Mededingende landbouproduksie word toenemend bedreig deur die voorkoms van geweldsmisdaad, soos plaasaanvalle wat met roof gepaard gaan, sê mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA.
Hy het gereageer op onlangse aanvalle op boere naby Cullinan en Frankfort en gesê hoewel die voorkoms van geweldsmisdaad teen die landbougemeenskap daal, het die aantal moorde in die eerste nege maande van die jaar toegeneem teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
"Die bedreigingspotensiaal neem dus nie af nie en landelike stabiliteit word steeds deur plaasaanvalle geknou. Dit is kommerwekkend dat daar ál meer voorvalle aangemeld word waar misdadigers polisie-uniforms dra wanneer hulle 'n plaas aanval," het hy gesê.
Hy het 'n beroep op lede van Agri SA gedoen om die protokol vir toegang tot plase wat met die veiligheidsgemeenskap ooreengekom is en waarvolgens in roetine-gevalle 'n afspraak vooraf gemaak moet word, streng na te volg. Geen persoon wat hom as 'n polisiebeampte voordoen en nie 'n geldige aanstellingsertifikaat kan toon, moet toegelaat word om 'n eiendom te betree nie.
Bosman is ook bekommerd oor onverantwoordelike uitsprake oor grond en eienaarskap deur verskeie organisasies. "Hierdie uitsprake skep die potensiaal vir konflik wat landelike veiligheid en stabiliteit kan benadeel."
12 November 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24