Duisende kilometers is afgelê om oulike losloper-boere op te spoor vir die tweede reeks van die gewilde televisieprogram Boer soek 'n Vrou.
Die eerste reeks van Boer soek 'n Vrou het kykers vasgenael voor die kassie gehou en meer as 160 boere - straks die meeste inskrywings nóg wat vir enige reeks van Boer soek 'n Vrou ter wêreld ontvang is - het vanjaar ingeskryf in die hoop om vir die tweede reeks gekies te word. Die meisies op die platteland is min en die manne is desperaat!
Meisies en manne wat die toptien boere wil ontmoet, moet die inskrywingsvorm net na die nuusblaaie in Landbouweekblad se uitgawe van 27 Maart voltooi en instuur. Hier is die manne (en 'n aantreklike dame) wat vir vanjaar se aksie gaan sorg.
Zara (38)
Zara het al die wêreld deurkruis en as 'n sjef op die Rovos Rail (die mees luuksueuse trein ter wêreld) en in Europa gewerk. Dit was egter in die Bosveld waar sy 'n vastrapplek gekry het as suksesvolle beesteler. Tans bedryf Zaza 'n onderneming met perdry-safari's op 'n wildplaas van sowat 11 000 ha naby Maguda (Pongola).
Ludwig (36)
'n Vrou wat lief is vir die buitelewe en diere is doodreg vir Ludwig. Dié boer van Ficksburg is gek na perde en uithouritte. Die Arabierperde waarmee hy grootgeword het en wat hy teel, is soos kinders vir hom. Ludwig bedryf 'n gemengde boerdery met onder meer mielies, sonneblomme, koring, skape en beeste.
Reyno (28)
Reyno het op Worcester in die Boland grootgeword en boer nou met tafeldruiwe op Klein Pella naby Pofadder. Hy is absoluut passievol oor die boerdery en grond. Ná sy B.Agric-studie op Stellenbosch, het hy op Klein Pella begin werk. Dit is 'n afgesonderde wêreld en ver van vroue af.
Attie (30)
Uit Britstown laat Attie weet: Hy soek 'n optimistiese maat wat die klein dingetjies in die lewe kan waardeer. Attie het ná skool in Australië gaan werk. Hy is lief vir sport, lees, jag, reis, kampeer en kuier saam met vriende.
JP (28)
JP, 'n saaiboer van Viljoenskroon, het ná skool op 'n saaiplaas in Amerika gaan werk. Hy het ook twee jaar lank Johannesburg se liggies ervaar toe hy daar as 'n handelaar op die graanbeurs Safex gewerk het. Dit het hom waardevolle lesse oor die mark en bemarking geleer. Terug op die plaas hou hy van 'n potjie gholf, fliek en watersport.
Pieter H (44)
Pieter H besit sy eie wynplaas,Akkerdal, naby Franschhoek. Op Akkerdal is daar 'n boetiek-wynkelder en 'n gastehuis. Die vrou wat hier gaan tuiskom, moet dus lief wees vir onthaal. Hy is lief vir bergfiets ry, draf, die gimnasium, watersport en die strandlewe.
Pieter R (26)
Pieter R, 'n tafeldruiweboer van Upington, soek 'n "mense-mens" met 'n mooi glimlag. Die vrou wat sy voete onder hom gaan uitslaan, moet lief wees vir kuier en onthaal. Hy is lief vir kuier saam met sy vriende en dien ook in die bestuur van die Kalahari-kuierfees.
Johann (29)
Johann soek 'n pel. Volgens hom is sy droomvrou 'n natuurlike, fyn en sagte meisie. Hy bedryf 'n gemengde boerdery naby Standerton en is baie betrokke by landbou-organisasies. Johann is voorsitter van die Hoëveld-Limousinklub en ondervoorsitter van die skougenootskap.
Flip (54)
Flip het eers onlangs begin boer op sy vrugteplaas in die Uniondaleomgewing. Hy het voorheen 'n motorwerkwinkel besit en was ook in die lugmag. Hy is al 15 jaar lank geskei en het twee seuns. Een van hulle is egter in 2007 in 'n motorongeluk oorlede. Volgens Flip het sy ideale vrou 'n stil, vriendelike geaardheid.
Franz (25)
Franz het 'n gemengde boerdery naby Dealesville. Hy soek 'n oulike en eerlike meisie wat van hom 'n beter mens kan maak. Sy moet baie van die plaaslewe hou, weet waar geld vandaan kom en in moeilike tye kan vasbyt.
Kyk hier na ons fotogalery van die finaliste.
24 Maart 2009