|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Wanneer Boer soek ’n Vrou in ’n gesprek opduik, is dit gewoonlik nie lank voor Tickey en Selmé-Louise van Wyk se name genoem word nie.
Dié gewilde paartjie het in 2008 aan die heel eerste reeks van Boer soek ’n Vrou deelgeneem en vandag is hulle die trotse ouers van ’n 15 maande-oue babaseuntjie, George. En dis duidelik hulle is nog net so dolgelukkig is soos toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het!
“Ons geniet vir George verskriklik baie. Hy is die wonderlikste ding wat ooit met ons gebeur het,” vertel Selmé-Louise in ’n onderhoud met Landbou.com.
Daar bestaan by haar geen twyfel dat klein George, wat na sy oupa genoem is, ’n regte boerseun is nie. Hy is miskien nog net ’n baksteen hoog, maar raak reeds opgewonde as hy skape sien en boots graag hul geluide na.
Die paartjie sien hulself glad nie meer as ’n uitvloeisel van Boer soek ’n Vrou nie en probeer die kollig vermy.
“Ons het nou net ’n normale huwelik, en vergeet soms ons het mekaar op Boer soek ’n Vrou ontmoet,” vertel die aantreklike donkerkop wat oorspronklik van Nelspruit kom, waar sy ’n onderwyseres was.
Haar lewe het ’n nuwe loop geneem vandat sy op Loxton woon.
“Ek woon baie lekker hier. Ek help my man met die boerdery, en staan hom by met al die uitdagings. En ek beleef saam met hom al die emosies waardeur ’n boer gaan. Ons is darem nou geseën met ’n vol dam!” vertel sy.
Die gesin was ten tyde van die onderhoud op Beaufort-Wes, waar hulle vir twee weke lank op ’n ander plaas geboer het.
“Hier maak ons kos op die vuur en ek en George gaan saam met Tickey na windpompe kyk,” beskryf sy hul lewenswyse.
Selmé-Louise woon dalk nou op die stil platteland, maar haar lewe het beslis nie gaan stilstaan nie. Sy het ook ’n speelskool op Loxton begin. Die egpaar geniet dit om Boer soek ’n Vrou te kyk. Vra jy hulle wat hul raad aan die boere is, sê Tickey vinnig: “Volg jou gut feeling!”
Selmé-Louise is ook nie links nie, en laat hoor tong in die kies: “Dis wat hy gedoen het, en nou het ek ’n baba!” Sy meen die boere moenie swig voor die oproepe en briewe wat hulle van vroue buite die reeks kry wanneer hulle op televisie verskyn nie.
Lees hier meer oor Boer soek 'n Vrou.
16 September 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ek soek nou nie 'n boer nie, maar geniet die programme baie. Wat van Vrou soek 'n Boer. Gee die dames ook 'n kans om die manne deur te kyk!
Was daar nie destyds 'n rubriek 'Opsitkers' hier in die Landbou Weekblad nie? Ek kan nog goed onthou hoe ouma en oupa altyd vir mekaar ander wederhelftes daarin gesoek het! :)
Wat van 'n hoekie vir eensames hier op Landbou Weekblad se eie werf?
Ai tog - ek soek ook 'n boer MAAR 'n BAIE ouer ene! Kan Landbou Weekblad en Huisgenoot nie maar asb EEN program aanbied vir hoopvolle ouer vroue nie? Daar moet tog iewers nog ouer Boere wees wat 'n maat benodig?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)