Kort duskant Cradock het ek vir die eerste keer bewus geword van die wind. Die gras en bome langs die pad het al meer gebuig en die motor het elke nou en dan heen en weer geruk. Die vorige aand se weervoorspelling het ‘n yslike kouefront voorspel en die Westewind was sy voorloper.
Om in die wind te jag, was nog nooit vir my baie lekker nie. In veral bosveld-omgewing kan dit soms tot jou voordeel wees, want dan is daar soveel geraas in die takke en bosse dat die wild jou nie goed hoor nie, maar my waarneming is dat die wild op winderige dae meer op hulle hoede is, dalk juis omdat hulle nie goed kan hoor nie.
Hoe nader ek aan Bethulie gekom het, hoe mooier het die wêreld geword en toe ons teen skemeraand by Alf en sy seun Derick se plaas aankom, het die pragtige omgewing my baie na die volgende dag se jag laat uitsien. Die aand is strategieë rondom die vuur bespreek. Vanweë werksdruk het ons net een dag gehad om te jag. Alhoewel ek self nog nooit ‘n blouwildebees geskiet het nie, het ons besluit dat my skoonseun Johann en sy pa eers sal probeer en as daar die dag nog tyd oor is, sal ek met die Martini gaan rondloop. Daarna is almal vroeg bed toe.
Die jagdag het winderig en koud aangebreek, maar ons was positief, want die wild wemel letterlik op Leliefontein. Ons het baie verskillende spesies gesien. Elande, swart- en blouwildebeeste, koedoes, blesbokke, springbokke, waterbokke, rooiribbokke, sebras, vlakvarke, rooibokke en selfs die skaars en duur lechwe.
Wild in oorvloed
Maar al is daar wild in oorvloed, is dit nog steeds nie sommer net vir kry en skiet nie, want dit is ook ‘n baie groot plaas en die wild het ‘n vry loop dwarsoor die hele plaas. In die suidweste het al meer dreigende wolke begin saampak en die windjie agter op die bakkie was snerpend koud. Windaf het ons ‘n groot trop blouwildebeeste gewaar, maar uit hulle reaksie kon ons sien hulle het ons ook reeds gesien.
Toe ons met die bakkie agter ‘n lae rantjie inry, het ons vinnig gestop en toe het die bekruipery begin. Op die volgende rantjie se rug het ‘n paar groot bosse ons taak vergemaklik. Johann sou met die 30-06 die skietwerk doen en ek het die .243 gevat. Die .243 is heeltemal te lig om blouwildebeeste mee te jag, maar as ‘n bok dalk gekwes sou word, is dit beter om selfs so ‘n ligte kaliber byderhand te hê as niks.
Agter die bosse het ons orent gekom en die trop was omtrent so 300 treë voor ons. Alhoewel ons so laag as moontlik probeer bekruip het, was hulle reeds van ons bewus en die groot trop het so stadige begin uitrafel. Eers net ‘n paar wat so halfhartig begin wegdraf en toe die groot stormloop teen die wind op. Drie ou groot bulle wat half eenkant was het heeltemal anders reageer en teen ‘n dolle vaart windaf gestorm, net om ‘n paar honderd treë verder om te draai en op ‘n rustige galoppie skaars 200 treë van ons af verby te draf.
Ons gids William het die skietstokke gereed gekry en Johann het aangelê, maar die drie ou menere het hulle draffie gehou en later weer by die trop wat nou op so 500 treë gestaan het, aangesluit. Hierdie scenario sou hom verskeie kere die dag afspeel. Johann het op ‘n slag ‘n skoot gewaag, maar bo-oor geskiet.
Naby aan die Gariep
Van hier af is ons na ‘n heel ander deel van die plaas. Sommer naby aan ons het die Gariep gevloei en die rantjies en koppies het al meer geword. Die vlae reën wat ons vir geruime tyd in die verte kon sien, het ons nou bereik en ‘n geniepsige windjie het die ysreën soos naalde teen ‘n mens se gesig aangedryf. Ek het intussen ook ‘n skoot met die 30-06 probeer, maar eienaardig genoeg ook bo-oor geskiet.
Naby die kamp se hoek het weer ‘n redelike klomp blouwildebeeste gestaan en Johann, William en ekself is weer agter hulle aan. ‘n Trop mal swartwildebeeste het amper ons pret bederf deur op dolle vaart verby te storm, maar dit het ons ook op die ou end ook bevoordeel, want die bloues het ook begin beweeg en binne skietafstand gekom. Ek het so ‘n 100 treë van Johann af in die gras gesit. Hy het oor die stokke aangelê en toe die trop gaan staan op ‘n bul gevat, maar toe tref een van daardie groot nagmerries van enige jagter hom. Ek kon duidelik sien dat die oomblik toe die skoot klap die bul alreeds weggespring het. ‘n Mens se brein het reeds die boodskap aan die snellervinger gegee en wanneer jou oog sien die bok spring weg, kan jy nie meer die boodskap aan jou vinger terugroep nie.
Die skoot was heeltemal te ver na agter en die trop is in dolle vaart daar weg. Die reën het nou baie lastig geword en ek moes telkens my bril skoonvee. Johann en William het teruggehardloop bakkie toe en ek het so vinnig soos wat die terrein my toelaat probeer om die bokke voor te sny, maar tevergeefs. Ons het ‘n lang ent omgery en toe te voet in ‘n klofie opgesluip. Die volgende oomblik het die trop reg voor ons uitgebreek en ‘n mens kon duidelik die bloed aan die bul sien, maar daar was geen kans om te skiet nie.
Die rantewêreld daar is maar klipperig en nadat ek ‘n slag onbepland baie hard gaan sit het, het ek afgestap na waar swaer Iwalt met die bakkie gewag het. Johann en die twee gidse William en Bokkie is te voet verder, maar die bul het hulle bly ontwyk. Sy trop het nou by ‘n nog groter trop aangesluit en selfs my moed het baie laag gedaal. Intussen het die kouefront verbygewaai en dit was ‘n ongelooflike mooi en perfekte dag.
Het sleg met die ou manne gegaan
Na middagete het ons weer die veld gevat en nou was dit Iwalt se kans. Ook sy eerste skoot was heeltemal hoog, maar met sy volgende skoot het hy ‘n groot koei geskiet. Ons het steeds ons oë oopgehou vir die gekweste bul. Daar was nou regtig ‘n massa blouwildebeeste bymekaar en ons het almal te voet van twee kante af nadergesluip. Dit het maar sleg met die ou manne gegaan, want Iwalt het ook in ‘n sloot vir hom ‘n stukkie grond gekoop en ek was op verskeie plekke seer van die oggend se val, maar uiteindelik is die lang soektog beloon en is die bul doodgeskiet. Ek was baie bly vir Johann se onthalwe dat die bees uiteindelik geval het, want ek weet hoe sleg dit met ‘n man werk as daar ‘n dier wat jy gekwes het in die veld rondloop.
Alhoewel ek iewers deur al die soekery kans gekry het om in ‘n sloot af te kruip om met die Martini naby ‘n paar bloues te kom, het ek nooit naby genoeg gekom vir ‘n skoot nie. Met die oop visier het ek ‘n selfopgelegde maksimum van 100 treë. Dit het my net daar laat besluit om volgende jaar ten minste twee dae lank met die Martini en net met een gids te voet alleen agter die blouwildebeeste aan te gaan.
Ons het nou natuurlik almal die arme 30-06 blameer, maar toe ons hom op die skietbaan agter die huis gaan toets, was hy presies op skoot soos ek hom die week vantevore gaan instel het. Waarom ons almal so hoog geskiet het, weet ek nie. Eers het ek gedink ons het maar net die afstand baie swak geskat, maar die gidse wat tog die veld baie goed ken en my eie afstand skatting was telkens baie naby aan mekaar.
Een van daardie dinge waarvoor ek geen verklaring het nie. Die aand om die vuur is daar lang nabetragting gehou en die hele dag herleef. Saterdagoggend het die ryp in ‘n dik laag op my kar gelê en teen 09:00 was dit nog maar 1 graad C, maar volgende jaar is ek terug op Leliefontein.
Ben Fourie is ‘n geweer- en jagentoesias. Sy e-pos-adres is: fourie@biblesociety.co.za
23 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)