|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die geskikte jaggeweer beteken nie veel as die jagter nie die regte ammunisie gebruik nie. Dit is veral belangrik by grootwild, soos die gemsbok, waar ammunisie 'n groot rol speel om oor lang afstande 'n doodskoot toe te dien.
Van ál die groot boksoorte in Suid-Afrika is die gemsbok seker die moeilikste om te jag. Iemand wat hierdie bok op eie werf wil aandurf, moet die regte geweer en ammunisie saamneem. Dit is noodsaaklik om oor lang afstande akkurate doodskote te kan skiet.
Die natuurlike habitat van die gemsbok is die Kalahari, groot dele van Namibië, Botswana en die Noord-Kaap. Die plase en wildkampe in dié streke is groot en op baie jagplase is ál die binnedrade afgebreek. Lang skote is dus die reël, eerder as die uitsondering. Jagters moet voorbereid wees om gereeld verder as 300 meter te skiet.
Koeëls stel wild buite aksie deur die beskadiging van die sentrale senuweestelsel of die vleisweefsel van die kritieke organe in die borskas. 'n Skoot agter die blad mag 'n gemsbok platskiet, maar as daardie koeël nie die krag het om diep genoeg in te dring en genoeg skade aan die hart, lewer, longe, en veral die slagare, aan te rig nie, staan daardie bok maklik weer op en hardloop weg.
Gemsbokwêreld lê nie net wyd nie, maar bestaan ook uit duineveld en halfwoestyn. Die gewone jagters skiet normaalweg van 'n jagbakkie af waarop gewoonlik 'n paar ander jagmaats staan en rondtrap wanneer aangelê moet word. Dit is dus selde moontlik om absoluut dooierus te kan vat om 'n presisieskoot te skiet.
'n Kopskoot word ook nie in hierdie toestande aanbeveel nie. Weens die lang skootafstande ontaard dit dikwels in 'n bekskoot geen wonder dat al hoe meer wildboere deesdae geen kop- of nekskote meer op hul jagplase toelaat nie.
Gemsbokjagters moet gevolglik toegerus wees om langafstand-lyfskote te kan skiet. Die beste plek om 'n gemsbok te skiet, is net agter die blad, in die middel van die lyf of net bokant die hart.
As die eerste skoot dalk per ongeluk nie 'n goeie doodskoot is nie, bestaan die kans nog dat daardie bok, nadat die koeël deur die borsholte geploeg het, 'n bloedspoor sal agterlaat wat dit maklik sal maak om dit op te spoor. 'n Skoot reg van voor, deur die kuiltjie, sal soortgelyke resultate lewer.
Gemsbokjagters wat gereeld een-skoot-doodskote wil skiet, moet verstaan dat die korrekte skootplasing altyd die hoofvoorwaarde vir 'n goeie doodskoot bly. Hulle moet ook nooit probeer om 'n gemsbok met 'n kaliber te skiet of ammunisie te gebruik wat nie die werk kan doen waarvoor dit aangewend word nie.
Die eerste vereiste waaraan 'n goeie gemsbokgeweer moet voldoen, is om 'n koeël te kan vuur wat minstens 4 500 joule se energie het wanneer dit die loop verlaat (dit is die trompenergie). As dit nie hierdie basiese interne ballistiese eienskap het nie, sal dit ook nie oor lang afstande genoeg kinetiese energie kan behou om 'n gemsbok met een skoot buite aksie te stel nie (die impakenergie).
Trompenergie word bepaal deur die snelheid waarteen die hoeveelheid dryflading in die patroondop 'n koeël met 'n gegewe gewig kan lanseer.
Die 300-Winchester Magnum is een van die mees gerespekteerde kalibers vir gemsbokjag. Ammunisie vir die 300-Winchester Magnum is vryelik in Suid-Afrika beskikbaar, maar nie ál die variasies daarvan is vir lang skote geskik nie.
Die ballistiese koëffisiënt en seksionele digtheid van die ammunisievervaardiger Hornady is gebruik om die tersaaklike ballistiese besonderhede vir elk van die drie koeëls wat bespreek word, met behulp van dieselfde internasionaal erkende ballistiese formule in metrieke formaat te bereken.
Die syfers vir ál drie koeëlsoorte (150 grein en 180 grein-spitspunt, sowel as 'n 220 grein- rondepunt), wat deur Hornady in imperiale mate gepubliseer word, stem feitlik presies ooreen met die syfers in die tabel. Die syfers word gerieflikheidshalwe ten opsigte van dieselfde afstandintervalle in imperiale én metrieke eenhede aangebied.
Die ballistiese koëffisiënt, as die indeks van die verhouding tussen die gewig, deursnee en bouvorm van die koeël, dui op die sleurtraagheid daarvan. Dit dien gevolglik as 'n maatstaf om die potensiële werkverrigting aan te dui waaroor die koeël sal beskik wanneer dit die bok tref.
Die seksionele digtheid van 'n koeël is 'n indeks van die gewig en die deursnee daarvan. Dit dien as 'n rowwe aanduiding van die soort wond, en veral die soort wondkanaal wat dit sal veroorsaak na gelang van die impakenergie wat dit het.
Ál drie die koeëls wat ter wille van vergelyking gebruik is, het genoeg "potensiële" energie (interne ballistiese eienskappe) om gemsbokke suksesvol te jag. Die eksterne ballistiese eienskappe van die drie koeëls verskil egter sodanig van mekaar dat slegs die middelslagkoeël (180 grein-spitspunt), ná 300 meter in vlug nog genoeg "bruikbare" energie en momentum behou (eksterne ballistiese eienskappe) om 'n groot gemsbokbul met 'n enkele skoot dood te maak. Hierdie koeël het 'n ballistiese koëffisiënt van meer as 0,40 en behou oor 'n afstand van 300 meter nog meer as genoeg kinetiese energie (meer as 2 600 joule) om die taak suksesvol af te handel.
Verskille in die werkverrigting van koeëls met uiteenlopende kenmerke word ook in die tabel getoon. Daaruit is die volgende duidelik:
Die hoë trompenergiewaardes van die ligter koeëls in die tabel kan verkry word deur die trompsnelheid daarvan met groter dryfladings te verhoog. Dieselfde kan nie sonder meer met swaarder koeëls gedoen word nie. In geval van die swaarder koeël kan gevaarlike hoë drukvlakke makliker in die patroonkamers ontstaan.
Die sleurtraagheid van koeëls word deur die konstruksie en ontwerp daarvan beïnvloed. Die energieretensie van die dunner skerppuntkoeëls is doeltreffender as dié van koeëls met 'n groter deursnee, of met ronde of plat punte. Dit klief makliker deur die atmosfeer (en deur vleisweefsel).
Sleurtraagheid bepaal ook watter uitwerking die aantrekkingskrag van die aarde, die weerstand van die atmosfeer en die invloed van dwarswinde op die trajek van die koeël in vlug sal hê.
Hoewel ál drie die koeëls in die tabel sowat 4 500 joule se trompenergie het, verskil die eksterne ballistiese eienskappe van die koeëls en gevolglik ook die uiteindelike werkvermoë daarvan betekenisvol van mekaar.
In die tabel kan gesien word dat slegs die middelslagkoeël (11,7 gram; 180 grein) 'n ballistiese koëffisiënt van meer as 0,40 het. Die ligte (9,7 g) en die swaar (14,3 g) koeëls het ballistiese koëffisiënte wat nie aan die minimum vereiste van 'n goeie gemsbokkoeël voldoen nie.
Die middelslag-skerppuntkoeël behou oor 300 meter 77 % van sy trompsnelheid en 59 % van sy trompenergie. Daarteenoor is die retensiewaardes vir die ligte skerppuntkoeël oor dieselfde afstand onderskeidelik 73 % en 54 %.
Die middelslagkoeël beskik ná 300 meter nog oor 2 691 joule aan impakenergie teenoor die ligte koeël se 2 494 joule. Die middelslagkoeël kan op hierdie afstand 'n groot gemsbokbul met 'n enkele, goedgeplaaste skoot buite aksie stel. Die ligte koeël mag miskien genoeg impakenergie hê om 'n gemsbokkoei of 'n jong gemsbokbul te dood, maar die gevaar bestaan dat dit 'n volwasse bul van meer as 240 kilogram sal kwes.
Die impaksnelheid van die ligte 9,75 g-koeël bly vir skootafstande nader as 200 m bokant 800 m/sek. (2 600 vt./sek.). Dit is, soos later aangetoon sal word, genoeg om onnodig baie vleisskade aan te rig as spesiaal versterkte koeëlpunte nie gebruik word nie.
Die swaar, 14,3 g-rondepuntkoeël in 300-Winchester Magnum-formaat, wat spesifiek vir doeleindes van hierdie bespreking gekies is om die uitwerking van uiteenlopende eksterne ballistiese kenmerke op die werkverrigting van koeëls te demonstreer, val vir sover dit die retensie van snelheid en energie betref heeltemal uit die bus uit.
Oor 300 m kan dit nie eens meer dwarsdeur 'n gemsbok skiet nie wat nog daarvan gepraat om 'n goeie eerste skoot-doodskoot op te lewer.
Die grafiek hierby toon duidelik dat rondepuntkoeëls in wese eintlik maar boskoeëls is wat nie vir lang skootafstande gebruik behoort te word nie. Hulle verloor te gou snelheid en daarom ook te veel bruikbare energie. Hierdie soort koeëls is egter heel doeltreffend wanneer groot, taai boksoorte, soos die blouwildebees, op afstande korter as 120 meter daarmee gejag word selfs met vinnige kalibers.
Ter wille van perspektief moet daarop gewys word dat die swaarder 300-Winchester Magnum-koeël in skerppuntformaat (14,3 g) 'n heelwat hoër ballistiese koëffisiënt het. Gevolglik vaar dit beter as die rondepuntkoeëls oor die langer afstande.
Die 300-Winchester Magnum is ook nie noodwendig die enigste goeie gemsbokkaliber nie. Daar is ook ander kalibers wat, met die regte ammunisie, as ware langafstanders geklassifiseer kan word en selfs doeltreffender vir gemsbokjag gebruik kan word.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24