Goeie wapen-etiket

 
Vuurwapens. Foto: VERSKAF
Vuurwapens. Foto: VERSKAF

As kinders wou ons onsself papies lag vir die tannies wat met so ‘n gekromde pinkie tee gedrink het. Dit was glo in sommige kringe goeie etiket, maar my ma het dit sommer aansitterigheid genoem. Tog het die regte etiket en protokol hulle plek in elke sfeer van die samelewing en veral ook wanneer dit by die gebruik en hantering van wapens kom. Let wel dat ek nie net van vuurwapens praat nie, maar enige wapen byvoorbeeld ‘n boog of swaard of wat ook al. Ons konsentreer egter grotendeels op vuurwapens.

Ek ry baie rond vir werk en ander dinge en onlangs staan ek iewers in die land in ‘n wapenwinkel en wag dat die verkoopsman my moet help. Stap daar ‘n ander kêrel in van min of meer my ouderdom, dit wil sê ons is al anderkant die vyftig merk. Hy kan dus nie meer jeugdige onervarenheid pleit nie. Hy en die verkoopsman moet mekaar of goed ken, of hy moes op ‘n ander stadium reeds na wapens kom kyk het.

Ek het nie hulle gesprek gehoor nie, maar die volgende oomblik bring die verkoopsman ‘n paar handwapens uit die kluis en sit dit onseremonieel voor die kliënt neer, draai weg en gee aandag aan ‘n ander persoon wat vir hom wag. Die kliënt doen toe wat die verkoopsman self moes gedoen het, naamlik om te kyk en aan al sy ander kliënte in die winkel te wys die wapens is veilig. Genoemde kliënt span die eerste wapen, ‘n .45 Colt wat omgebou is vir IPSC kompetisies. In die proses draai hy die loop reg op my wat langs hom staan.

Ek maak toe die fout om vredes onthalwe niks te sê nie. Gewoonlik sou my onmiddellike reaksie gewees het om hom ernstig aan te praat. Swak en gevaarlike wapenmaniere of etiket. Die verkoopsman en die kliënt het werklik elke veiligheidsreël oortree en ek is net so skuldig, want mense leer gewoonlik beter etiket as jy hulle op hulle foute wys. Wanneer jy met enige gevaarlike wapen werk, moet jy nie ‘n oomblik ophou konsentreer nie.

Goeie etiket van winkel tot veld
Die volgende paar dinge is nie net op veiligheid gemik nie, maar meer op algemene etiket wanneer dit by hantering van wapens kom.

Heel eerste is natuurlik die scenario van die wapenwinkel. Alle wapens moet te alle tye veilig wees. Wanneer jy met ‘n wapen werk, moet almal in die nabye omgewing gemaklik wees en kan sien dat die wapen beveilig is. Daar is ‘n plek vir alles, ook vir om met wapens te werk. Wanneer die vuurtjie aan is en almal het iets om te drink in die hand, moet die kluis se deur bottoe bly. As daar dalk vriende is wat na al jou mooi wapens wil kyk, nooi hulle spesiaal op ‘n ander geleentheid.

Onlangs staan ek op die Kaapse Internasionale lughawe vir besoekers van oorsee en wag. Langs my staan ‘n man met ‘n pragtige hond. Omdat ek ‘n baie groot diereliefhebber is, vra ek sy toestemming om aan die hond te mag vat, wat hy dan ook geredelik gee. Ek en die hond het dit ewe veel geniet. Na my het ‘n klein dogtertjie ook skugter kom vra of sy met die hond mag speel en weereens gee hy met ‘n glimlag toestemming. ‘n Rukkie later kom iemand anders en sonder om toestemming te vra begin hy sommer vir die hond skyfies voer. Hy het blitsvinnig ‘n kwaai afjak van die eienaar gekry. Mense hou nie daarvan dat jy met hulle besitting peuter as jy nie toestemming het nie.

Vra dus altyd die eienaar se toestemming voordat jy enigiets met sy wapen doen ja selfs net optel. Gee altyd die wapen terug soos wat dit aan jou oorhandig is. Kry jy byvoorbeeld ‘n geweer met die slot oopgetrek, kyk daarna en gee dit so terug. As jy graag die slot wil toemaak om te voel of die aksie glad is, vra eers en so met elke ander iets wat jy wil doen.

G’n kaal hande
As daar iets is wat enige haelgeweer liefhebber se tande sommer dadelik stomp maak, is dit die brigade wat wanneer jy vir hulle die geweer oopgeknak gee, dadelik die lope toeklap, party nogal soos die hardebaard manne van die aksie films, so met ‘n beweging van die pols wat die lope met geweld laat toeklap. Jy is lus en buig jou duur haelgeweer se lope net daar oor sy harspan. Die kalante trek gewoonlik nog die snellers op ‘n leë kamer af die sogenaamde “dry firing”. Daar is min dinge wat so skadelik is vir enige vuurwapen, maar veral ‘n haelgeweer as om die sneller te trek wanneer daar niks in die kamer is nie. Baie slagpenne is al op die manier gebreek. Hierdie toeklap van ‘n aksie sien jy ook dikwels wanneer filmhelde nagemaak word en die silinder van die rewolwer so met ‘n ruk van die hand toegeklap word. Elke keer wat dit gedoen word plaas baie stremming op die hele meganisme.

Wil jy ‘n ware wapenliefhebber ook sommer gou rooi laat sien, moet jy met jou kaal hande aan die metaaldele van sy wapen klou. Die mens se sweet bevat chemikalieë wat die blouwerk op ‘n wapen gou beskadig en veral hier by ons aan die kus die roes binne ‘n baie kort tydjie laat uitslaan. Die moderne Astra Inox wys natuurlik nie vingermerke nie, maar die ou Martini wat al meer as 120 jaar oud is se blouwerk sal gou lelik raak van sweterige hande. Ek hou permanent ‘n sagte lap in die kluis aan om elke keer die wapens wat hanteer is, af te vryf.

Ek lees dat die baie gesofistikeerde en duur wapen vervaardigers asook groot versamelaars vir jou ‘n paar sagte katoenhandskoene gee om al hulle wapens mee te hanteer. Miskien moet ek ook so iets aanskaf. Die houtwerk moet ook met die nodige respek behandel word. Kyk maar hoe verander ‘n eienaar van die pragtige geweer met ‘n uitsonderlike mooi Turkse okkerneuthout kolf se kleur van ‘n gesonde pienk na ‘n apoplektiese pers as jy daardie kolf teen iets so eenvoudig soos ‘n hempsknoop of jou gordel se gespe of jou horlosieband skraap.

Beterweters pasop
Beterweters kry jy op elke plek en in alle sfere van die lewe. In die geweer wêreld is daar ongelukkig ook hierdie beterweters, maar darem gelukkig in die minderheid, maar tog. Dit is swak etiket om iemand se wapen te gryp, dadelik die aksie oop te pluk en dan kommentaar te lewer oor hoe dringend die wapen ‘n goeie skoonmaak nodig het. Ek het al gesien hou pluk ‘n ou ‘n vuil sakdoek uit en begin ‘n ander man se geweer se teleskoop lense skoonmaak. As die ander ou daarvan hou om deur vuil lense te kyk, is dit tog immers sy saak. Los die skoonmaak vir hom.

Die feit dat ‘n mens dalk met ‘n Sako of Mannlicher skiet, moet jou nie laat neersien op die ander ou se Howa of Tikka nie. Opmerkings soos: “Nou wat se stuk waterpyp het jy nou hier vir ‘n roer” of  “jou oupa het seker nog Kakies met die ding geskiet” moet maar liefs gelaat word. Die klein mannetjie met die Howa het dalk vir die Universiteitspan geboks en kakebeen en tand rekonstruksie is deesdae baie duur.

Op die ou end gaan dit maar net oor respek. Ons moet mekaar respekteer en ons moet mekaar se besittings respekteer. Dit sal baie gaaf wees as van die lesers nog dinge kan byvoeg waar ons almal meer kan leer hoe om goeie wapen etiket te alle tye te handhaaf.

• Ben Fourie is ‘n geweer- en jag-entoesiasis. Sy e-pos is fourie@biblesociety.co.za.

14 Desember 2009

4.625
 
 

Kommentaar

Buks Saayman 

Pragtige skryfstuk Ben. Ek besit self geen wapens nie, maar die boodskap in die stuk is vir my netso relevant soos wat dit vir enige wapeneienaar sal wees.

Onbekende besoeker 

Ek dink ons moet as ouers ons kinders van kleinsaf die regte wapenetiket en veiligheid leer, nie net winbuks in die hand stop nie. VEILIGHEID EERSTE

Herman van Wyk 

Ben.
Dankie vir 'n puik artikel. As 'n lid wat lank IPSC skiet gedoen het kan ek nie meer met jou saam stem nie. Watter persoon gaan toelaat dat enige ander man, of persoon sommer sy dogter hanteer, alhowel 'n vrou gevaarlik is, is 'n wapen nog meer. Kom nou mense, vra, en respekteer die eienaar se voorwaardes, as jy nie kan nie, gaan gee jou eie wapens terug, julle soort gee ons 'n poef naam.

Onbekende besoeker 

BEN JY SLAAN DIE SPYKER OP DIE KOP. EK WIL NET BYVOEG DAT DAAR MIN DINGE IS WAT MY SO DWARS IN DIE KROP STEEK AS 'N MAN WAT NIE AGTING EN RESPEK VIR SY EIE WAPEN HET NIE -WAT DIT NIE BEHOORLIK SKOONMAAK OF DIT VERSORG NIE. ELKE WAPEN HET 'N GESKIEDENIS EN SAL 'N ERFSTUK BLY ONGEAG WAT. DIS GEWOONLIK DIE EIENAAR DAARVAN WAT DIT MINDERWAARDIG MAAK. 'N WAPEN HET ELKEEN SY EIE STORIE EN KAN NIE NET BY PICK&PAY VERVANG WORD NIE

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.