Sou die Regering besluit om grond ‘n nasionale bate te maak en ‘n huurpagmodel op plase in te stel, sal dit groot probleme vir die wildbedryf inhou, sê mnr. Fred Camphor, ondervoorsitter van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV).
Na die uitsprake wat die Regering die afgelope tyd teenoor die wildbedryf gemaak het, en gesê het dat produktiewe landbougrond met die skep van wildplase vermors word, het die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa) in samewerking met die SAJWV ‘n konferensie gehou om hul steun aan die bedryf te onderskraag.
Groot bron van inkomste
Volgens Camphor is die wildbedryf van groot ekonomiese waarde vir die land. “Die bedryf se inkomste beloop jaarliks sowat R7,7 miljard. Dit skep sowat 200 000 werksgeleenthede, en dis net op wildplase alleen.”
Hy sê daar is sowat 12 000 wildboere in die land, en meer wild word tans op wildplase aangehou as wat in wildtuine is. “Die leeuboere alleen het 9 000 leeus.”
Implikasies van huurpag en nasionalisering
Volgens Camphor sal die nasionalisering van landbougrond en ‘n huurpagstelsel geweldige ekonomiese implikasies vir die land inhou.
“As mense net grond by die staat mag huur gaan ons massiewe verarming van grondeienaars en gevolglik van hul werknemers en landelike gemeenskappe sien. Werksgeleenthede sal ook baie minder word.
“Nie veel wildplase sal die implikasies van so ‘n model kan oorleef nie. Dit sal ook lei tot ‘n grootskaalse afname in wildgetalle en dit sal die habitat en ekologie van die omgewing ook benadeel. Na my mening gaan wilddiefstal dan ook toeneem,” verduidelik Camphor.
Hy sê die enigste manier waarop ‘n huurpagmodel moontlik suksesvol kan wees, is as die huurkontrakte vir lang tydperke aan huurders toegeken word.
Hoe toepaslik is jag?
Camphor meen as daar na die Regering se standpunt oor jag gekyk word, moet die toepaslikheid van die bedryf vir die groter meerderheid van die samelewing in ag geneem word.
Volgens statistieke van ‘n studie wat die Noordwes Universiteit gedoen het, is daar sowat 200 000 jagters in die land, en die oorgrote meerderheid van jagters (95%) is wit. “As mens dit met die land se populasie vergelyk, maak jagters slegs sowat 0,45% van ons populasie uit.
Jagters behoort ook tot die hoogste graad van inkomstegroepe. So dit blyk of die bedryf nie juis van toepassing is vir ‘n groot deel van die populasie het nie,” verduidelik Camphor.
Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die uitsprake wat teen die bedryf gemaak word, en moedig wildboere en jagters aan om hulle nie skuldig te maak aan gedrag wat die bedryf se beeld skade kan aandoen nie.
3 Mei 2010
Kommentaar
Dis tyd dat hulle, die regering, besef dat hulle besig is om hierdie hele land te knou. Hulle sonder die blanke uit, wie die vermoe het om die land ekonomies suksesvol te bestuur. Wat gaan gebeur sodra nasionalisering begin, die finnsiele instansies gaan almal onttrek en die hele ekonomie gan vou met miljoene wat gaan honger ly en dit sal ook voor die deur van apartheid gele word. Maar luister is min.O ns as blanke boere is meer as bereid om die swart boere te help, maar ons gaan nie verder rondgeneuk word nie. Wie het hierdie land opgebou vanaf niks tot die beste land in Afrika en wie is besig om alles af te breek en die armes nog meer arm te maak? Dis n klein gedeelte swartes wat baat en die res krepeer van ellende. Kom by SA, of val in die gutter.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)