|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 00:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Baie biltongmakers het al die skuld vir slegte biltong gekry, terwyl 'n haastige koeël die eintlike sondaar is.
Die ballistiese omgewing waarbinne bosveldkoeëls gebruik word, word deur kort afstande oorheers. Magnum-koeëls trek ná 100 meter nog só vinnig dat hulle meer probleme as oplossings bied.
Biltongjagters en vinnige koeëls is nie vriende nie. Hoe hoër die impaksnelheid, hoe hoër is die tempo van energie-oordrag van die koeël na die waterryke vleisweefsel, hoe erger is die hidrodinamiese skok en hoe meer die skade aan die vleis.
Dit gaan hier nie net oor die vleisweefsel wat flenters geskiet word en nie vir wors- en biltongvleis geskik is nie; dit gaan oor koeëls wat te vinnig tref en groot, oppervlakkige wonde veroorsaak. Bokke wat só gekwes word, hardloop soms vir ure aaneen terwyl baie melksuur in die spierweefsel vorm. Die skok veroorsaak ook dat bloedswamme oral tussen die spierweefsel in die liggaam ontstaan.
Hierdie twee faktore kan 'n hele bok se biltong, plus die wors, 'n bitter, bloedsmaak gee. Dit help nie om die biltongmaker die skuld vir die slegte biltong te gee nie, die haastige koeël is die sondaar. Iemand kan van goeie bokvleis slegte biltong maak, maar niemand kan van slegte bokvleis lekker biltong maak nie.
Vir 'n biltongjagter is dit swak besigheid om vir 'n hele bok te betaal as ál die vleis onbruikbaar is.
Forensiese kenners beraam dat 730 m/sek. (2 400 vt/sek.) omtrent die maksimum impaksnelheid vir enige soort jagkoeël is waarteen aanvaarbaar min vleisskade plaasvind. Hoe hoër die impaksnelheid bokant hierdie perk, hoe erger is die vleisskade.
Dit is nie net konvensionele koeëls wat vleisvermorsing veroorsaak nie, selfs versterkte koeëls, al breek hulle nie maklik in stukke op nie, vermors vleis.
Die oplossing vir die probleem lê daarin om ammunisie te gebruik wat koeëls met betreklik min energie, maar baie momentum vuur. Die noue verhouding tussen die energie en die momentum van die projektiel wat deur 'n grootkaliberhandwapen of deur 'n boog gelanseer word, maak dit moontlik om oor kort afstande daarmee te jag. Die Thompson Contender, met 'n swaar, "stadige" koeël, kan 'n blesbok tot op 70 m doodskiet. Die regte pyl uit 'n goeie jagboog kan 'n rooibok op 40 m plattrek.
In die bos is dit weens die anatomie van die dier (die horings van 'n buffel) of obstruksies, soos takke en blare wat in die pad kan wees, dikwels onmoontlik om 'n kopskoot te skiet en 'n eersteskoot-doodskoot te verseker.
Bosveld-ammunisie moet dus 'n koeël kan vuur wat die teikendier uit verskillende hoeke kan deurboor.
Daar is geen beter maatstaf waaraan die sukses van 'n skoot gemeet kan word as die deursnit en diepte van die wondkanaal wat deur die koeël veroorsaak word nie. Die afmetings van doeltreffende wondkanale by verskillende wildsoorte word in tabel 1 uiteengesit.
Volgens die tabel sal 'n wondkanaal wat minstens 13 mm in deursnee is, genoeg skade aan die kritieke organe van alle wildsoorte - van 'n duiker tot 'n olifant - aanrig om 'n doodskoot te lewer.
Die koeëls in die kaliberklas van die 500 Jeffery en groter is vet genoeg om 'n wondkanaal van 13 mm te veroorsaak sonder dat die koeël omklink. Dit is waarom soliede metaalallooi-koeëls dikwels gebruik word by jaggewere met groter kalibers. Die belangrikste ballistiese eienskap van 'n harde, soliede koeël is dat dit min energie op die omklinkproses vermors. Feitlik die volle impaksnelheid en gewig van die koeël kan in die vorm van momentum vir maksimum penetrasie beskikbaar gestel word.
Koeëls in die kleiner kaliberklasse moet omklink om 'n wondkanaal met 'n minimum deursnit van 13 mm te kan vorm. Koeëlpunte in die 270-, 7 mm- en 30-kaliberklasse moet selfs tot dubbel die deursnee van die skag oopvou om 'n wyd genoeg wondkanaal te veroorsaak. Soveel energie kan in hierdie proses verlore gaan dat te min momentum oorbly vir ordentlike penetrasie.
Tabel 1 wys ook dat die vereiste diepte vir 'n goeie wondkanaal toeneem namate die grootte en gewig van die soort wild toeneem. 'n Springbok kan met 'n koeël gejag word wat 175 mm diep penetreer. Die koeël van 'n olifantgeweer moet minstens 1,5 m diep binnedring.
Koeëls word breedweg in drie soorte verdeel: Solied, konvensioneel (gewoon) en versterk ("premium").
Soliede loodkoeëls vervorm teen impaksnelhede van 240 m/sek. (800 vt./sek.) en breek al erg op teen 430 m/sek. (1 400 vt/sek.). Loodpunte is dus net geskik vir die koeëls van sekere handwapens en die stadige randslagkalibers soos die .22.
Soliede rooikoperkoeëls begin teen 520 m/sek. (1 700 vt./sek.) omklink. Koeëls van geelkoperallooi (koper/sink), wat 'n heelwat harder metaal is, behou hul vorm teen snelhede van hoër as 920 m/sek. (3 000 vt./sek.). Grootkaliberkoeëls wat die dik, taai velle van grootwild moet binnedring, 'n wye wondkanaal moet veroorsaak sonder om baie te vervorm, soms been moet tref en dan nog diep moet penetreer, het dikwels soliede koperpunte.
Konvensionele halfmantel-sagtepuntkoeëls lewer die beste resultate teen impaksnelhede van 550 m/sek. tot 670 m/sek. (1 800 vt./sek tot 2 200 vt./sek). Dit werk goed in sekere "stadiger" boskalibers waar lood die kern van die koeël uitmaak. Die puntjie van die lood steek voor uit terwyl die res met 'n baadjie van koper bedek word. Die kopermantel laat die koeël gekontroleerd omklink en help dat dit nie in stukke opbreek nie.
Versterkte koeëls lewer bevredigende resultate teen impaksnelhede van 610 m/sek tot 920 m/sek. (2 000 vt./sek tot 3 000 vt./sek.). Lood, die swaarste vaste metaal, word dikwels ook hier as kern ingespan. Dit word in koperkompartemente gegiet of beskerm deur 'n dik, versterkte koperlaag (wat dunner word nader na die punt toe) sodat dit nie maklik opbreek nie. Soliede koeëlpunte van metaal-allooi word ontwerp (byvoorbeeld met 'n hol punt) om te verseker dat die koeël teen betreklik lae snelhede omklink, maar nie teen hoër snelhede heeltemal versplinter nie.
'n Voorbeeld van 'n versterkte koeël word in tabel 2 gewys. Remington dui aan dat sy reeks Scirocco Bonded-koeëls teen 439 m/sek. (1 440 vt./sek.) begin omklink, terwyl dit teen meer as 800 m/sek. (2 700 vt./sek.) nog genoeg gewig behou om die nodige momentum vir goeie penetrasie te verskaf.
Die probleem met hierdie spesifieke patrone is egter dat dit vir ál die kalibers waarin dit beskikbaar is, op afstande nader as 100 m, teen meer as die maksimum perk van 730 m/sek. (2 400 vt./sek.) beweeg en gevolglik nie vir bosveldjag geskik is nie.
Jagters kla soms ook dat sekere soorte versterkte koeëls, veral kleinkaliberkoeëls wat voor 'n kleiner lading dryfmiddel gelaai word, nie altyd na wens omklink nie. Dit gebeur selfs dat só 'n koeël dwarsdeur 'n bok kan trek sonder om dit dood te skiet. Jagters wat al met volmantel-R1-patrone (7.62 Mauser) probeer jag het, kan getuig dat dit soms 'n hele paar skote kos om 'n blesbok, veral oor langer afstande, platgeskiet te kry.
Bosveldkoeëls hoef nie sleurtraag te wees nie. Met 'n ronde punt klink dit maklik teen laer snelhede om. Dit ploeg ook makliker 'n pad deur die vleisweefsel oop terwyl stadige, skerppuntkoeëls soms geneig is om as 't ware die vleisweefsel opsy te druk sonder om 'n ordentlike, permanente wondkanaal te vorm.
Dit maak sin om koeëls met taamlik min energie, maar met baie momentum, vir bosveldjag te kies. Só 'n benadering maak dit moontlik om goedkoper, konvensionele koeëls te gebruik. SABI, 'n wapen- en ammunisievervaardiger van Nelspruit, het hierdie konsep toegepas om eg-Suid-Afrikaanse bosveldammunisie te vervaardig.
Die maatskappy het tot dusver twee kalibers ontwikkel. Die 270 SABI, wat vir die jag van kleiner wildsoorte gebruik word, gebruik (in plaas van die gewone 30-06-dop) 'n 308-dop in die kaliber 270 om 'n 9,7 gram (150 grein) koeël teen 720 m/sek. (2 380 vt./sek.) te lanseer.
Die 338 SABI, vir groter wildsoorte, gebruik 'n 30-06-dop in plaas van die 338-dop om 'n 338-kaliber koeël van 16,3 gram (250 grein) teen 'n trompsnelheid van 717 m/sek. (2 350 vt./sek.) te skiet. Albei kalibers lewer op 100 m koeëls teen impaksnelhede van ongeveer 610 m/sek. (2 000 vt./sek.). Dit is betekenisvol minder as die 730 m/sek. (2 400 vt./sek.) waarteen te veel vleisskade aangerig word.
Praktiese toetse het getoon dat die konvensionele koeëls wat deur SABI gebruik word teen hierdie lae impaksnelhede min gewig verloor. Die resultate word in tabel 3 getoon.
Volgens die tabel, saamgelees met die ballistiese syfers wat hierbo aangehaal is, sal die 270- én die 338-SABI-koeëls ongeveer 90 % van hul gewig oor 100 meter behou. Dié koeëls penetreer in die praktyk baie suksesvol.
Die vraag is nou: Watter kalibers gewere en watter soort ammunisie sal geskik wees vir bosveldjag? In die volgende aflewering sal ek probeer om antwoorde hierop te verskaf.
10 Junie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24