Baie jagters het al die eerste skote van die nuwe jagseisoen afgetrek en my telefoon lui gereeld van jagters wat wil weet of ek nie van ’n lekker jagplek weet nie. Ongelukkig is ek maar ook net ’n jagter wat elke jaar moet soek vir ’n goeie plek.
My eie jagvooruitsig het juis vanjaar heel skeefgeloop met ’n dubbelbespreking en ek sal nou gou moet begin beplan vir ’n alternatief. So, tussen die telefoon en e-pos en my eie rondsoek vir ’n jagplek het ek weer gedink oor die vraag waarom ek jag. ’n Onlangse debat in ’n jagtersvereniging se tydskrif het my verder oor die saak laat dink.
Redes om te jag
Daar is sekerlik ’n menigte redes waarom mense jag en die meeste daarvan sal heel geldig wees. In besprekings rondom die kampvuur het ek al pragtige filosofieë gehoor wat wissel van gene uit die oertyd tot die drang om in jou gesin se behoeftes te voorsien.
Baie van my jagvriende, ek self ook, geniet dit baie om in die natuur rond te loop, maar die kan jy tog sonder ’n geweer ook doen en selfs op baie meer plekke as waar jy ’n geweer mag saamvat. Vir sommige jagters is jag iets om in die klubhuis mee te spog en ander soek net vleis en biltong.
As ’n mens egter al die dinge mooi bekyk, is die finale rede dat ons almal jagveld toe gaan om ’n dier dood te maak, punt. As dit nie so is nie, is ek in die veld vir ’n uitstappie, piekniek of wat ook al, maar nie om te jag nie. Jag beteken ’n dier word doodgemaak. Natuurlik is die hele ervaring veel meer as die trek van die sneller of die loslating van ’n pyl, maar die finale rede bly die doodmaak van die dier.
En dit plaas ’n geweldige verantwoordelikheid op elkeen wat hom of haar met watter wapen ook al in die veld begewe. Jy is naamlik verantwoordelik om die dier so vinnig en so pynloos moontlik dood te maak. Die storie van die bok moet darem ook ’n billike kans kry, is myns insiens, soos my pa sou sê, sommer plein nonsens.
Hoe meer kans die bok het, hoe meer kans is daar dat hy gekwes gaan word. Dit beteken nie om ’n dier in ’n kampie van tien hektaar te jag nie, maar om jouself en jou toerusting optimaal te gebruik om die doodskoot so gou moontlik en so pynloos moontlik toe te dien.
Wees jagfiks
Ek glo dat elkeen wat wil jag minstens redelik fiks moet wees. Nou nie noodwendig fiks genoeg om ’n marathon te hardloop nie, maar fiks genoeg om sonder steune en kreune op en af van die bakkie te kom en in staat te wees om ’n paar kilometer in die veld te kan loop.
’n Jagter wat moedeloos moeg geloop is, skiet swak. Ons praat natuurlik ook nie van mense wat weens gestemdheid nie daartoe in staat is nie, maar wat ook graag wil jag. Vir hulle word spesiale voorsiening gemaak. Tweedens moet die jagter goed geoefen wees in die hantering van sy wapen.
Dalk is dit goed dat my eie jagbeplanning skeefgeloop het en moet ek vanjaar glad nie gaan jag nie. Die rede is dat werkdruk my verhinder het om die hele jaar nog ’n enkele skoot af te trek. Sonder genoeg vooraf tyd op die skietbaan, behoort niemand van ons die kans te waag om ’n dier te kwes nie. Onthou dit is ’n lewende ding wat seerkry as jy vrot skiet.
Wat ons toerusting betref, moet dit in ’n goeie toestand wees. Elke geweer wat veld toe gaan, moet jaarliks ingeskiet word. Verder moet jy verseker dat jou toerusting so is dat jy die heel beste kans het om ’n goeie skoot te skiet. In die 1960’s toe teleskope meer algemeen begin word het, het ek menigmaal as kind met groot oë sit en luister hoe die ooms die nuwe uitvindsel bespreek.
Sommige was absoluut daarteen gekant en het iemand wat met ’n teleskoop skiet, as vreemd beskou. Net ’n oop visier was goed vir jag want, “dan het die bok ook ’n kans”. Dit is egter ons as jagters se plig om ons gewere met die beste toerusting toe te rus om ’n dier met een skoot te kan doodskiet.
Net die heel beste
Koop byvoorbeeld die beste teleskoop wat jy kan bekostig. Ook die koeëls waarmee ons jag, moet die heel beste wees. Dit is oneties om ’n paar rand op ’n koeël te spaar wanneer jy ’n dier daarmee wil doodskiet.
Op die skietbaan kan jy skiet met wat jy wil, want die papierskywe kry nie seer nie, maar in die veld moet jy die beste moontlike projektiel gebruik wat die dood die vinnigste veroorsaak. Dit geld natuurlik ook die regte grootte kaliber vir elke wildsoort.
Laastens die rus vanwaar af jy skiet. Die beste skoot word natuurlik vanaf die mees stabiele platform afgevuur. Die storie van staan op jou voete en skiet uit die vuis soos ’n man is onsin. ’n Mens probeer om nooit in ’n situasie te kom waar jy uit die vuis uit moet skiet nie, maar omdat dit soms wel nodig is, moet jy ook oefen om uit dié posisie te kan skiet.
Die skut wat eties jag, soek egter altyd vir die mees stabiele rus om van te skiet. ’n Mens kry leunstoeljagters wat frons omdat jy ’n skietstoel, skietstokke, ’n Harris-tweepoot of ander draagbare rus gebruik en jou selfs daaroor sal aanpraat. Ignoreer hulle.
Gebruik altyd wat jy ook al as rus in die hande kan kry om te verseker dat wanneer jy die skoot aftrek, jy alles in jou vermoë gedoen het om die dier in so ’n kort tyd moontlik en met die minste pyn moontlik dood te skiet. Alleen dan het jy werklik eties gejag.
10 Mei 2012