Jagters se verwagtinge van die boer

 
As 'n boer vet wild belowe het, moet hulle darem lyk soos dié op die foto. Foto: BEN FOURIE
As 'n boer vet wild belowe het, moet hulle darem lyk soos dié op die foto. Foto: BEN FOURIE

“Skiet meneer, skiet.” Die gids se stem in jou oor maak die effense aanval van bokkoors net ‘n bietjie meer. Dit is al die derde dag van ‘n vierdaagse jag en dit is die eerste koedoebul wat hoegenaamd binne skietafstand  kom. “Hy is te groot,” fluister jy terug.

“Nee wat meneer, hy is maar kleinerig en sal nie naby trofeelengte wees nie.” As die skoot klap val die bul net daar en jy stap met groot opwinding nader, net om so ‘n sinkende gevoel in die maag te kry, want hoe nader jy kom hoe langer word die horings. By die huis sê die maatband dit is 46” en die biltongkoedoe wat jy teen die winskoop van R1800 bespreek het, word skielik ‘n trofeebul wat R6 000 kos. So ‘n scenario gebeur nie elke dag nie, maar tog meer dikwels as wat ‘n mens dink.

Daarom is dit so absoluut noodsaaklik dat beide jagter en boer die ooreenkoms oor die jagtog op skrif het. Weet wat die boer as ‘n trofee beskou, weet wie verantwoordelik gehou gaan word, jy of die gids, weet wat jy ekstra gaan betaal as jy dalk ‘n band van die jagkar stukkend stamp, maak seker die boer en jy stem saam oor wat verstaan word met stap en bekruip tipe jag.

Maak seker dat “ ’n heerlike jagkamp met hout en water” nie dalk ‘n boom in die veld is met water wat twee kilometer ver aangery moet word en hout wat oral rondlê, maar jy moet dit self bymekaarmaak of jy dink dalk jy kan maar enige hout in die veld optel vir die aanvuur net om ‘n skrobbering daaroor te kry. So kan ‘n mens seker ‘n paar bladsye lang lys opstel van wat alles in die ooreenkoms moet wees, maar  elkeen, boer en jagter, sal maar self moet gaan sit en vra tot by watter punt gaan ons die fynskrif voer.

Verlede keer het ons die boer se perspektief gegee hierdie keer gebruik ons sommige van die  punte van die vorige artikel, maar vanuit die jagter se perspektief en voeg enkeles by.

  • Daar moet skietgeriewe beskikbaar wees. Al het ek gister my geweer ingestel wil ek altyd wanneer ek op die plaas kom graag ‘n paar skote skiet, veral as ek ver gery het, of hier vanaf die kus in die droë binneland kom. Ongelukkig is ‘n ou kussing op die bakkie se enjinkap nie goed genoeg nie. ‘n Mens benodig nie ‘n doelgeboude skiettafel nie, maar darem ‘n stewige tafel, stoel en ‘n sandsak of twee.

  • Boere moet ook eerlik wees. Jagters wil graag weet dat dit wat aangebied is, werklik beskikbaar is. Laat ons almal ook maar eerlik wees. Elkeen van ons skets maar jou eie prentjie so mooi as moontlik. Dink gerus maar aan die laaste keer wat jy ‘n voertuig aan iemand wou verkoop. Die “volop vet wild” van die advertensie is dalk nie heeltemal so volop en vet nie. Stories van jagters wat na ‘n paar dae se gesoek niks wild en ook bitter min spore gesien het, is ongelukkig redelik volop.

  • Jagters verwag dat spoorsnyers en slagters redelik bekwaam moet wees. Jy kan nie sommer net gou ‘n werker van die trekker gaan afhaal en saam met die jagter veld toe stuur nie. Ek het al meermale saam met sogenaamde “gidse” geloop wat niks meer is as ‘n “polisieman” wat moet kom rapporteer wat die jagter gedoen het nie. Hulle veldkennis en spoorsny vermoë was swakker as my eie. Soms moet jy self oopsny en pens uithaal want jy kan sien die arme mens weet glad nie hoe nie.

  • Boere moet asseblief by die ooreengekome reëls hou.

  • Jagters is meesal ook maar gewone ouens wat deur die jaar in kantore sit en dan die paar dae in die veld wil geniet. Ons is nie almal ewe bekwaam nie en boere moet asseblief ook ‘n bietjie geduld hê met ons tekortkominge.

  • Akkommodasie moet asseblief redelik en realisties wees. Ons verskil van mekaar en een se luukse akkommodasie is dalk vir die ander een ‘n totaal onaanvaarbare hool. Boere moet asseblief vir ons presies uitspel wat die akkommodasie behels. Ek self slaap maklik onder die blote hemel in my slaapsak (een nag in die Namib met ‘n gemsbokjag het ek darem amper op die manier verkluim), maar ander soek na iets baie beter.

  • Die jagkar wat by sommige plekke by die dagfooi ingesluit is en by ander nie, hoef nie mooi of luuks te wees nie, maar moet betroubaar wees. Min dinge bederf ‘n jag soveel as ‘n jagkar wat sommer naby die huis al begin moeilikheid gee en die hele dag se planne omver gooi.

  • Boere moet asseblief presies uitspel wat as biltongbok en wat as trofeebok geld. Vir sommige is ‘n trofee eers as dit in Rowland Ward plek kry, terwyl ander enige bok met ‘n stel horings as ‘n trofee beskou.

  • Ek wil graag presies weet waar ek staan. Reëls van wat die boer van my verwag moet skriftelik beskikbaar wees. Mag/moet ek die swart mamba wat ek teëkom doodmaak, of  sal ek groot moeilikheid kry as ek dit doen.

     

     

     

In ‘n ideale wêreld sal daar sekerlik niks van hierdie probleme bestaan het nie en sal elke jagter eties jag, nooit mors nie, ‘n aangename mens wees wat die boer, die wild en die natuur sal respekteer. Die boer se plaas sal dan groot genoeg wees dat ek nie elke paar treë ‘n draadheining sien nie, die wild sal volop en vet wees, die boer sal ‘n joviale kêrel wees wat groot waarde sal toevoeg tot my jagervaring.

Gelukkig is bogenoemde nie dagdromery nie. My eie ervaring is dat die meeste boere wil hê jy moet die jagervaring geniet en hulle probeer hulle bes om dit te bewerkstellig. Die jagters waarmee ek saamjag is eties, nie morsjorse nie en respekteer die boer en alles wat daarmee saamgaan. Ons as boere en jagters het die plig om die slegtes onder ons uit te werk. As jy sleg gejag het, sê vir ander jagters om nie die betrokke plaas te besoek nie. Boere behoort onder mekaar ‘n swartlys te hê van jagters wat hulle nie kan gedra nie.  Ons moet in elkeen van die gevalle net baie eerlik wees. Moet nie die plaas en boer slegmaak as jy vrot geskiet het nie en omgekeerd.

As ons almal net so ‘n bietjie skaaf aan ons eie optrede kan hierdie jaar ‘n heerlike jagjaar met min klagtes wees.

Hierdie artikel was reeds voltooi voordat kommentaar op die vorige ingekom het. Daar is dus punte wat ook deur genoemde kommentaar aangespreek word. Lewer asseblief nog kommentaar. Hoe meer hoe beter en hoe meer hoor ons dalk mekaar.

• Ben Fourie is ‘n geweer- en jag-entoesiasis. Sy e-pos is fourie@biblesociety.co.za.

Lees ook:
Goeie wapen-etiket
Wat verwag die boer van ‘n jagter?

1 Maart 2010
 

5
 
 

Kommentaar

DAM 

Wedersydse respek is defnitief die antwoord. 'n Goeie gids is noodsaaklik en maak die jag soveel beter. Gee bietjie erkenning aan die gidse en sien die impak op jou jag, meestal jag ons by plekke wat ons ken en dit bou goeie vertoue en so gids doen meer moeite. Maak seker dat die vooitjies aan gidse binne die boer se riglyne is. Bo alles geniet net die veld.

Ghoempie Vrystaat 

Ja ek dink almal het al n slegte ondervinding beleef,maar dankie vir boere wat dit vir ons moontlik maak om op hul grond te mag jag.Daar sal ongelukkig altyd n probleempie wees,maar ek dink net beide partye moet mekaar respikteer.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.