Ek het vroeg die oggend al my knie nerfaf geval toe ek in die halfdonker teen die berge in die Camdeboo uit is. Die vorige dag het ons niks gekry nie. Vroeg daardie eerste oggend het ek ‘n hele troppie koedoes gesien, maar hulle het in ‘n baie ruie kol gestaan en my bekruipery moes maar baie swak gewees het, want toe ek hulle weer sien was hulle al halfpad die berg uit. Ons was net twee jagters en om in daardie groot area wild te kry, was nie maklik nie, want ons het geen spoorsnyers of aanjaers saamgeneem nie.
Ons taktiek vir die tweede dag het ‘n bietjie verskil. Ek sou reguit teen die berg op gaan en Gawie sou teen die voet langs hou totdat hy by die grensdraad kom en dan ‘n ent opklim voordat hy met die kontoer langs in my rigting stap. So het ons gehoop dat hy enige koedoes na my kant toe sou laat beweeg terwyl ek doodstil sit en wag. Die klim met die seer knie het maar stadig gegaan, maar na ‘n ruk was ek darem redelik hoog teen die berg op.
Ek het myself lekker teen ‘n rots sitgemaak en die terrein so vinnig van regs na links deurgekyk. Dan weer vinnig van links na regs omdat dit altyd goed is om uit verskillende perspektiewe na terrein te kyk. Hierdie vinnig oog gooi, soos my wêreld se mense sê, help om ‘n oorsigtelike idee van die terrein te kry en meestal sien jy ook enige wild redelik gou raak. Daarna word die proses baie stadiger herhaal om wild wat dalk meer verskuil is, te probeer opspoor.
Stadige deurkyk
Hierdie oggend was die stadige deurkyk egter nie eers nodig nie. Sommer met die eerste kyk het ek twee rooiribbokke laag teen die hang aan my regterkant sien staan. Deur die klein 8x30 verkykertjie kon ek sien dat dit ‘n pragtige ram en ‘n ooi is wat die eerste strale van die wintersonnetjie opgesoek het. Oral was daar nog skaduwees, maar hulle het rustig in ‘n sonkolletjie staan en wei. Die uitdaging was net té groot. Ek sou hulle moes bekruip. Hulle het niks van my geweet nie, maar uit ondervinding het ek geweet dat net een klip wat rol of ‘n droë tak wat kraak in die stil oggendlug onmiddellik ‘n gevaarsein sou uitstuur en dan was my bekruipery tevergeefs.
Wanneer ‘n mens jag en veral ook as jy bekruip, moet jy die windrigting baie goed dophou, maar in hierdie geval kon ek niks daaraan doen nie. Gelukkig het die wind dwars voor my verby gewaai en sou dit nie te veel van ‘n probleem wees nie. Nou moes die bekruiproete eers deeglik uitgewerk word, want met ‘n bekruipery gaan dit soms so dat as jy nie voor die tyd vir jouself bakens kies nie, jy na ‘n tyd van op die knieë kruip of selfs op jou maag seil glad nie meer weet presies waar die wild staan nie.
In die geval waar dit teen ‘n steil berghang is, moes ek vooraf beplan presies waar ek om rotse sou moes beweeg, en waar ‘n kol digte bosse my aantog sou kon afsny. Ek het ‘n lekker groot rotsblok wat so omtrent 150 treë hoër as die bokke gelê as die plek gekies waar my bekruiptog moes eindig. ‘n Mens sou lekker agter hom kon staan en bo-oor dooierus vat. Omdat ‘n mens natuurlik nie teen so ‘n klipperige hang kan seil of kruip nie, moes elke bos of rots wat skuiling kon gee, deeglik gebruik word. Alhoewel die bokke rustig gewei het, het veral die ram elke nou en dan opgekyk en dan moes ek nie in die oopte betrap word nie. My grootste vrees was dat Gawie vinniger sou stap as wat ek bereken het en dan die ribbokke, waarvan hy natuurlik niks geweet het nie, sou opjaag.
Die bekruipery het goed verloop
Die seer knie was nogal lastig, maar die hele bekruipery het spoedig verloop. Plek-plek moes ek so ‘n bietjie eendestap doen, dit wil sê, jy sit op jou hurke en beweeg so vorentoe, maar meestal was dit net nodig om gebukkend te loop. Telkens wanneer ek ‘n rots of boskolletjie bereik, het ek regop gekom om te kyk of die bokke nog daar is. Dit het my amper ‘n halfuur gevat om die paar honderd treë na die gekose rots af te lê, want die baie los klippe het ‘n baie stadige pas genoodsaak en telkens wanneer die ram opkyk moes ek in posisie vries sodat hy geen beweging gewaar nie.
Toe ek stadig agter die rots orent kom en bo-oor loer, het ek amper geskrik om te sien hoe naby die bokke was, want hulle was werklik baie nader as wat ek gedink het. My skatting van 150 treë daar bo uit die berg uit was beslis uit, maar terwyl ek die laaste ent gebukkend geloop het en hulle nie kon sien nie, moes hulle ook stadig teen die hang begin oploop het. Hulle was nie meer as 70 treë van my af nie. Baie saggies het ek my jaghoed op die rots neergesit om as rus vir die 30-06 te dien. Die teleskoop was op 6X gestel en ek sou maklik ‘n kopskoot kon probeer, maar ek is nie meer ‘n aanhanger van kopskote nie en die kruis het eers op die ooi se blad gerus, want die ram het weg van my af en heelwat laer gestaan.
Die kruishaar was net reg
Die beste skoot sou wees om hom net waar die nek en lyf bymekaar kom te vat. Die kruishaar het mooi vas gelê, maar in plaas van die sneller te trek, het ek net vir hom in my gedagtes BOEM gesê en toe weer so stilletjies moontlik probeer wegsluip. Die eienaar van die plaas het gesê as ons glad geen koedoes kry nie, kon ons ‘n ribbok skiet, maar sy ribbokke was ‘n bietjie min en dit moes ‘n laaste uitweg wees. Ek het sy versoek eerbiedig en nie geskiet nie, maar dit was net so ‘n lekker bekruipery as wat ek sou hê indien ek wel kon skiet.
Die ondervinding van ‘n heerlike jagtog is tog so baie meer as daardie laaste oomblik wat jy die sneller druk. Die ongelooflike mooi omgewing in die Camdeboo, die yskoue luggie wat die oggend gewaai het, ‘n lekker dik jagbaadjie met diep sakke waar ek my hande kon warm hou, ‘n bekende ou hartgeweer in jou hande en ’n geslaagde bekruipery. Dit alles het van die dag ‘n wonderlik jagervaring gemaak al het ons die res van die dag tevergeefs na koedoes gesoek en ná twee dae sonder enige vleis huis toe gery.
• Ben Fourie is ‘n geweer- en jag-entoesiasis. Sy e-pos is fourie@biblesociety.co.za
5 November 2009
Kommentaar
Ag lekker,ek het self al so aangele op 'n bosbokram wat die rekordboeke sou omskryf.Maar net om die geleentheid te kon he om rustig te word in die veld met my ou roer,en die wete dat indien ek die skoot sou trek,die jag tot 'n einde sal kom,sielsvoedend was.Dankie Ben,mens voel sommer die rustigheid in jou woorde!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)