Om na die jag uit te sien

 
Skietdag. Foto: BEN FOURIE
Skietdag. Foto: BEN FOURIE

Die vet Martini-Henry patrone blink dofweg in die sagte lig van die kombuis. Die hele tafel is toe onder herlaai-apparaat. ‘n Skaaltjie, kruitlepeltjie, tregter, blink nuwe gegote loodkoeëls, die koeël-smeermiddel en les bes ‘n halwe blik swartkruit, staan die tafel vol. Met laasgenoemde moet versigtig gewerk word en almal word gemaan om geen vuur naby te bring nie.

Gewoonlik herlaai ek by my herlaaibank in die buitekamer, maar omdat die Martini-laaiery nie die pers nodig het nie, kan ek dit hier sit en doen. Die hoofrede is egter dat ek en my skoonseun Johann sommer so tussen my vrou se kosmakery deur hier lekker kan gesels en beplan vir ons komende jagtog in Bethulie. My dogter sit ook maar en luister en ek weet omdat sy ook jag, sou sy baie graag wou saamgaan, maar dit is nie die keer moontlik nie.

Van my kinderdae af was die beplanning en die uitsien na iets lekker wat moet gebeur vir my soms selfs groter opwinding as die gebeure self. Die jag het eintlik verlede jaar al so half beslag gekry, maar vroeg in die jaar is die finale bespreking gedoen en toe het ons begin om die dae af te tel.

Heel eerste moes ons besluit wat ons wil gaan skiet. As die daggeld en rit bereken is, moet ‘n mens maar mooi kyk na watse geldjies beskikbaar is vir die wild self. Gelukkig laat die boer waar ons beplan om te gaan jag, ons toe om eers daar in die veld te besluit wat ons wil skiet. Johann wil baie graag ‘n swart- of blouwildebees skiet, swaer Iwalt het hulle al gejag en sal waarskynlik liewer ‘n paar blesbokke of springbokke probeer kry en ek weet doodgewoon nog nie waarna ek gaan mik nie.

Eland op die wenslys
Omdat ek al so baie goed in my lewe doodgeskiet het wil ek hulle graag die eerste kans gee en dan sal ek later met die Martini kyk wat daar binne trefafstand kom. Ek het self nog nooit ‘n swart- of blouwildebees geskiet nie en as een van die ouens in my pad kom, kan ek dit dalk net oorweeg. ‘n Eland is ook nog op my wenslysie, maar dié jaar is so ‘n ou grote se prys ‘n bietjie te sterk vir my begroting.

‘n Paar weke gelede het ek die gewere nog ‘n slag skoongemaak en sommer ook al die handwapens en selfs die gewere wat nie saamgaan nie, bygedam en deurgetrek en afgevryf, net vir die lekkerte om die reuk van Hoppes no. 9 en Ballistol en lynolie in oormaat te kry.

Oppas vir die dag wat jy alles wat jy wil doen en alles wat jy wil saamvat op lysies moet begin skryf, maar dit is waar ek my nou bevind. Verkyker, stewels, geweerband, skietstokke, patrone vir die .243, 30-06 en Martini, mes, jagbaadjie, genoeg kontant, ID, wapenlisensies en so gaan die lysie aan. Nou moet ek nog onthou om in Bethulie ‘n Vrystaat-jaglisensie te koop. Elke dingetjie wat ek neerskryf, laat die uitsien en die afwagting net meer word.

Die volgende wat ek en Johann moes bespreek is die kosvoorraad. Ons gaan alles self maak. Dit is nie baie moeilik nie. Pap in die oggende, toebroodjies om veld toe te vat en vleis om in die aande te braai. Maklik. Vanaf die vrouens se kant kom daar die voorstel dat ons dalk tog ‘n paar tamaties en blaarslaai en vrugte moet insit vir die wis en die onwis en om die moontlikheid van skeurbuik te voorkom!!!

‘n Lekker sigaar
Amper vergeet ek. Beide my skoonseun en sy pa drink geen alkohol nie, maar die beperking geld my gelukkig nie. Ek glo ‘n mens moet dit spaarsamig gebruik, maar ‘n bietjie goeie wyn saam met die vleisie rond darem maar die dag wonderlik af. Gelukkig het ek baie jare gelede al opgehou rook, maar sal tog na so ‘n heerlike dag in die veld ‘n lekker sigaar rook en dan is dit weer klaar vir ‘n lang tyd. So ja, ‘n sigaar kom ook op die lysie.

Wanneer ek klaar gelaai het, word die ou swaar patrone een vir een in die seil bandelier gesit. Ek dink nie mense wat nie jag of skiet het ‘n idee van hoeveel genot ek put uit die sien en hanteer van die ou patrone nie. Dit voer my weg tot daar ver in die oop ruimtes van die Karoo, Namibië en die Noordoos-Kaap waar ek so dikwels al met ‘n geweer en bladsakkie agter die wild aan was.

Nie-jagters is so dikwels uiters krities oor die doodmaak van die dier en sien jagters as ongevoelige slagters. Soos wat ek ouer word, word ek ook meer kleinserig oor die doodmaakslag, maar omdat daarsonder geen sin aan die jagtog is nie, moet dit gedoen word. Tog is my grootste uitsien deesdae meer na die lekker dae in die veld, die aande se kuier en gesels met ‘n skoonseun wat nou al soos ‘n eie seun geword het en ‘n swaer met wie ek baie goed klaarkom en lekker gesels.

En dan die wêreld self. Wanneer ek ‘n vakansie of uitstappie beplan, kan ek gewoonlik nie wag om die wêreld daar rond te gaan sien nie, veral natuurlik as dit nuwe omgewing is. Bethulie se wêreld ken ek maar sleg en daarom is die opwinding en uitsien soveel groter. Alhoewel dit baie lekker is om op ‘n bekende plaas te jag waar jy reeds die beste voorsitplekke ken, weet hoe die wild se patrone min of meer is en ook weet waar die ou groot trofeebul loop, is daar ‘n ander opwinding aan ‘n nuwe plek.

Laaste voorbereidings
Toe moes nog net die laaste van die voorbereidings gedoen word. Ons het die gewere, teikens en piekniekgoed gepak en op ‘n pragtige Saterdag na ‘n vriend se plaas toe gery om gewere in te stel en veral ‘n bietjie te oefen sodat jy darem nie die eerste skoot van die jaar eers op die jagplaas skiet nie. Met die gewere nou reg ingeskiet, die koeëls gelaai en die messe geslyp, kan ek regtig nou nie meer wag om die kar te laai en te ry nie.

So ‘n laaste stukkie lekker bêre ek vir laaste. Alhoewel daar nog lekker vleis in die vrieskas is, wil ek op Bethulie stop en by ‘n plaaslike slaghuis van die plaaslike skaapvleis koop, want elke streek se vleis smaak anders en ek wil die hele ondervinding en die wag en die uitsien sommer die eerste aand op die plaas uitrek met daardie wêreld se smaak in my mond.

* Ben Fourie is ‘n jag- en geweer-entoesiasis van Port Elizabeth. Sy e-pos-adres is: fourie@biblesociety.co.za

2 Junie 2010

4.8
 
 

Kommentaar

DAM 

Dis darem net te lekker die tydjie saam met my seuns maak dit net soveel lekkerder en die biltong is dan 'n bonus.

CELLIERS VAN DER MERWE  

JA DIT KLINK ALTYD LEKKER. EK IS OOK N MAN WAT BAIE LIEF IS VIR DIE VELD EN JAG. EEN DING WAT MY NET VANG, IS DIE PRYS VAN WILD. EK JAG OM DAT EK DIT GENIET EN SKIET NET WAT EK SELF GEBRUIK. BAIE LIEF VIR WILDSVLEIS MYSELF, VAN VLAKVARK TOT KUDU, MAAR DIE PRYSE RAAK NET TE ERG. KYK, EK WEET DIT IS N BESIGHEID VANDAG EN ALMAL IS DAAR OM GELD TE MAAK MAAR IS DAAR NIE NOG MENSE WAT WILD TEEN N GOEIE PRYS HET NIE? MAAR VIR AL DIE JAGTERS DAAR BUITE STERKTE, HOOP JULLE KRY DAAI EEN WAT ALTYD WEGKOM EN NET OOR GEPRAAT KAN WORD

Onbekende besoeker 

Ai tog! Wat is nou lekkerder as al die dinge wat Ben hier noem. Ek gaan jag ten minste twee maal per jaar met my jagpelle wat al baie jare saamloop. Ons lief die natuur tot diep in die grond en skiet oordeelkundig en met respek. Hierdie jaar loop jag ons in Alldays se wereld. Die Kudu en Rooibok dra broek vanjaar..so hoor ons van die plaaseienaar. Lekker was nog nooit sleg nie.B iltong bly koning.

Janbez

Ja, Ben skryf net so lekker soos wat hy praat: Hy is 'n wonderlike storieverteller!

Onbekende besoeker 

Dit is duidelik dat Ben 'n JAGTER en nie 'n skieter is nie.

frik v d merwe 

EK KAN SIEN DIE SKRYWER WAS AL DAAR SIEN WERKLIK UIT NA DIE TRIP.DIT LAAT MY WONDER HOEVEEL SULKE GELEENTHEDE DAAR NOG OOR IS,DIE JARE STAP AAN!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.