Elkeen wat wildsbokke met 'n geweer jag, moet homself by die vroegste moontlike geleentheid in sy of haar jagloopbaan die vraag afvra: Is ek 'n jagter, of is ek 'n slagter?
Om 'n suksesvolle jagter te word, moet elke jagter dit vir homself ten doel stel om so vroeg moontlik in sy jagtersloopbaan 'n goeie doodskoot na sy teiken te kan skiet.
Natuurlik moet hy die regte kaliber hê vir die boksoort wat hy wil jag. 'n Goeie teleskoop, wat reg gemonteer, is ook 'n vereiste. Die jagter moet besef dat kalibers wat té lig is, te veel kwesskote skiet. Hy moet ook die tegnieke vir raakskiet ken ten einde die skoot te kan plaas presies waar hy dit wil hê.
Twee maatstawwe word vir 'n goeie doodskoot gestel. Die belangrikste is die etiese oorweging. 'n Goeie jagter korrel, na gelang van hoe die bok staan, na 'n plek op die lyf waar die anatomie van die bok die koeël sal toelaat om die dood binne die kortste moontlike tyd, op die sekerste manier en met die minste pyn en lyding te veroorsaak. Dit beteken die dier se breinfunksie moet so gou moontlik beëindig word.
Die tweede, maar ewe belangrike oorweging is die ekonomiese oorweging. Die skoot moet dus die minste moontlike vermorsing van duur, potensieel benutbare wildsvleis veroorsaak. Baie min jagters het vandag nog die voorreg om verniet vir die pot te skiet. Jag is 'n duur stokperdjie.
Die jagter kry skootskrik en kan nie die skoot op die verlangde kolletjie op die teiken plaas nie.
Gelukkig kan hierdie foute met 'n bietjie aandag en oefening reggestel word om van die jagsport 'n baie bevredigende en verhewe sportsoort te maak.
Die wildboer het ook 'n verantwoordelikheid. Hy moet toesien dat die jagter se geweer en teleskoop in 'n goeie toestand is om 'n seker doodskoot te kan skiet. Hy moet homself ook vergewis dat die jagter se skietvermoë van só 'n aard is dat hy nie skade gaan aanrig nie.
Dr. Willem Odendaal is 'n lid van die Nasionale Vergadering en 'n geesdriftige jagter.
Die potensieel benutbare vleis in die verskillende
dele van 'n wildsbokkarkas
|
| Liggaamsdeel | % van
karkas | % vleis tot
bene |
| Boude | 39,0 | 80,4:19,5 |
| Rugstring | 15,3 | 73,8:24,9 |
| Nek | 9,1 | 73,8:24,9 |
| Blaaie | 20,7 | 78,0:21,5 |
| Ribbes | 15,2 | 75,4:24,4 |
| Verlies | 0,7 | - |
Dier se anatomie bepaal doodskoot
Wanneer die jagter die anatomie van die bok ken, weet hy waarom die kop-
en nekskote die beste doodskote is om te skiet. As nie een van hulle geskiet kan
word nie, kan 'n skoot effens laag agter die blad as 'n goeie doodskoot geskiet
word.
'n Goeie doodskoot, dit wil sê 'n skoot wat 'n vinnige, seker breindood moet veroorsaak en terselfdertyd die minimum skade aan die potensieel benutbare vleis veroorsaak, kan met 'n kopskoot, nekskoot of bladskoot geskiet word. Elkeen van dié skote moet egter op die regte plek in die kop, nek of agter die blad geskiet word, anders sal die bok gekwes word en kan dit tot aansienlike verlies van vleis lei.
Breindood, en tesame daarmee die beëindiging van alle ander liggaamsfunksies, word die vinnigste en sekerste teweeggebring deur die brein self raak te skiet (skoot A). Soos die gemsbok op die foto onder staan, moet die skoot agter die regteroor geplaas word om die brein te tref. In die praktyk is dit 'n teiken so groot soos 'n pomelo.
Die jagter wat 'n breinskoot na enige bok skiet wat verder as 100 meter van hom af staan, skiet na 'n baie klein teiken. Slegs die mees ervare jagters behoort dit te waag.
'n Veel groter teiken word aangetref in die driehoek wat agter die bladbeen en die bobeen van die bok gevorm word. Die hart en dele van die long waar die groot rooi- en bloubloedvate tussen die hart en die longe in die borsholte by mekaar aansluit, is in dié driehoek geleë. Die driehoek word met die geel lyn op die foto aangedui en is ook duidelik op die twee sketse.
In die geval van 'n gemsbok bied dit 'n teiken so groot soos 'n rugbybal. 'n Skoot na dié driehoek word aanbeveel vir jagters wat nie absoluut dooierus kan vat om 'n seker breinskoot te skiet nie, of die kop en bors van die dier as 'n trofee wil gebruik en nie skade aan die vel en beenstelsel wil veroorsaak nie.
'n Skoot agter die blad, een derde van onder af, wat geeneen van die twee blad- of bobene van die bok tref nie, maar tog die longe naby genoeg aan die hart tref om die slagare af te sny of die hart te deurboor en sodoende die bloedtoevoer na die brein dadelik af te sny, veroorsaak 'n vinnige breindood (skoot B).
As 'n jagter biltong in gedagte het, moet die bladskoot liefs vermy word omdat dit baie vleisskade veroorsaak. Aan die ander kant bly dit 'n doeltreffende skoot omdat dit in die meeste gevalle 'n doodskoot deur die hart-longgebied beteken. Dit verseker ook dat die dier nie kan hardloop nie omdat een of meer van die voorbene buite aksie gestel word.
Die bladskoot word egter aanbeveel as die jagter gevaarlike wild skiet of wil verseker dat 'n roofdier nie wegkom nie. Ook as dit om die trofee en nie om die wildsvleis gaan nie, is die bladskoot die beste keuse. Dit is 'n taamlik maklike skoot wat die dier op die sekerste manier plattrek.
Wanneer die bok te ver staan of die kop en nek in 'n bosagtige gebied agter takke versteek is, sal 'n goeie doodskoot een effens laag agter die blad wees. Dit sal ook nie baie vleis vermors nie.
'n Skoot wat deur die agterste deel van die longe deur die ribbekas gaan, sal nie baie skade aan die bloedvatstelsel aanrig nie. 'n Bok wat nie in die "enjinkamer" geskiet word nie, veral met 'n kaliber wat té lig is vir die betrokke bok, leef nog ure lank en 'n onervare spoorsnyer verloor maklik só 'n bok se spoor in digte plantegroei.
Die nekskoot is 'n onderskatte doodskoot wat vinnig en seker sal doodmaak en min vleisskade aanrig as dit reg geplaas is (skoot C).
'n Skoot in die nek kan óf die bloedtoevoer na en van die brein afsny, óf die senustelsel na die res van die liggaam sodanig beskadig dat dit die hartklop sal staak en verhoed dat suurstofryke bloed die brein bereik. Die bloedvate in die nek na en van die brein loop in die are net onderkant die nekwerwelkolom en langs die lugpyp en slukderm.
Die sentrale senuweestelsel loop binne die beskermende omhulsel van die nekwerwelkolom, wat laag, en min of meer in 'n s-vorm, binne die nek lê. Die ligging van die nekwerwelkolom word min of meer met die wit lyn in die foto aangedui. Enige skoot wat dié lyn in die nek van die bok tref, is 'n doodskoot.
In die geval van bokke, soos die gemsbok, wat 'n besonder dik skof op die nek het, is dit maklik om 'n kwesskoot in die nek te skiet. Vir die jagter wat nie die anatomie van die bok in ag neem voordat hy skiet nie, is 'n dik gemsboknek (soos op die foto) 'n baie aanloklike teiken.
Aan die ander kant is die nekke van die meeste bokspesies redelik dun en 'n taamlik moeilike teiken. Die nekskoot behoort altyd oorweeg te word, want in die meeste gevalle staan die bok só vir die jagter dat dié skoot 'n alternatief tot die kop- of hart-longskoot bied.
Die sketse op bl. 33 wys waarom skote elders in die liggaam nie goeie doodskote kan wees nie. Dit sal nie die bok dadelik doodmaak nie, en sal in die meeste gevalle baie skade aan die vleis veroorsaak.
Hierdie is die eerste in 'n reeks van vier
artikels.
SA ammunisie tref
die kol wêreldwyd
'n Suid-Afrikaanse onderneming is die grootste verskaffer van jagammunisie in Europa. Daarby lewer hy 20 miljoen tot 40 miljoen patrone elke jaar aan die Amerikaanse mark.
Dit is bekend dat PMP (Pretoria Metal Pressings) 'n sterk verbintenis met die plaaslike mark het. Wat egter minder bekend is, is dat meer as 80 % van sy totale produksie uitgevoer word. Dié wêreldwye vraag na die maatskappy se produkte is te danke aan die gehalte wat plaaslik gelewer word.
As iemand egter dink dat die internasionale mark by PMP voorkeur bo die plaaslike geniet, slaan hy die bal ver mis. Dié maatskappy se totale produksie van militêre en kommersiële ammunisie was aanvanklik op die plaaslike mark toegespits. Weens die drastiese afname in die verdedigingsbegroting, asook depots wat vol ammunisie gestaan het, het dié maat-skappy hom tot die wêreldmark gewend.
Sy benadering tot dié mark was uiters suksesvol. Boonop word al die ondervinding en kennis wat só versamel is, in die produksieproses aangewend. Dít beteken dat die plaaslike mark ook bevoordeel word deur die maatskappy se bedrywighede op die internasionale front. PMP is die grootste verskaffer van jagammunisie in Europa en 20 miljoen tot 40 miljoen patrone word jaarliks aan die Amerikaanse mark gelewer.
Die Suid-Afrikaanse verdedigingsbedryf het 'n stewige hupstoot gekry met die ondertekening van 'n ooreenkoms van miljoene rande tussen PMP en RO Defence, 'n eenheid van Bae Systems in Brittanje. Dié ooreenkoms, wat R225 miljoen werd is en oor vyf jaar strek, is vir die verskaffing van bronsdoppies en -skywe, asook basiese onderdele vir die vervaardiging van ammunisie van klein en mediumkaliber.