“Ek dink nie die Vuurwapenwet ontwapen enige iemand nie. Dit bepaal dat elke persoon die reg het om een wapen te besit om hom- of haarself te beskerm en dat jy nie 10 of 12 wapens nodig het om jouself te beskerm nie. En persone wat jag mag meer wapens besit. Ek dink dit kan ‘n gunstige bydrae tot die bekamping van misdaad in die land maak”, sê mnr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).
Sowat 32 000 wapens ingehandig
Volgens die wet het mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, ‘n amnestietydperk vir die inhandiging van onwettige wapens aangekondig. Die tydperk het van 11 Januarie tot 11 April vanjaar gestrek.
Luidens ‘n berig van Nuus24.com het Mthethwa gister aangekondig dat 32 169 vuurwapens tydens die amnestietydperk ingedien is. Slegs 27% hiervan was onwettige vuurwapens, en die meeste vuurwapens is in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap ingehandig.
Diefstal van vuurwapens neem toe
Burger sê dit gebeur deesdae al hoe meer dat misdadigers tydens huisrowe of plaasaanvalle wapens buit omdat daar soms drie tot vier wapens in ‘n huis aangehou word. “Dié wapens gebruik hulle dan om ander misdade uit te voer en so brei die bose kringloop uit,” vertel hy.
“Enige stappe om die poel van beskikbare vuurwapens in die land te verklein, sal na my mening bydra tot die bekamping van misdaad in die land. Ek dink die Polisie moet sy fokus nou verskuif om die misdadigers wat wel onwettige vuurwapens besit, aan te keer.”
Burger het bygevoeg dat hy besef dat daar Polisiebeamptes is wat dit vir wettige vuurwapeneienaars moeilik maak om vuurwapens te besit, “omdat hulle onkundig of soms moedswillig is”.
Geen politieke agenda
Intussen sê mnr. Ben Coetzee, hoof van die vuurwapenbestuursprogram en ‘n senior navorser by die ISS, hy meen nie dat ‘n politieke agenda agter die instelling van die wet skuil nie. “Mens moet nie in isolasie na die wet kyk nie, in beginsel is dit ‘n goeie wet.”
Coetzee sê hy is egter baie krities oor die toepassing van die wet. “Ek dink hulle kon nog ‘n jaar of twee toegelaat het voor hulle hierdie amnestietydperk afgedwing het. Ek dink nie die Polisie het die kapasiteit gehad om die magdom aansoeke wat op hulle toegesak het in die gegewe tyd behoorlik te verwerk nie.”
Wat plaasaanvalle aanbetref meen Coetzee boere en plaasbewoners is “tussen die duiwel en die diep blou see. Aan die een kant trek dit misdadigers as hulle weet jy het wapens op jou plaas en dat hulle dit daar kan kry. Aan die ander kant... wat is die kans dat iemand jou gaan aanval as hy weet dat jy gewapen is?”
13 April 2010
Kommentaar
Wat soek die misdadigers in my huis, om my wapens te steel?? Dit is mos nie normaal vir n mens om iets te steel nie. Hulle probeer ons net brein spoel om te se dat dit ons skuld is dat die misdadigers wapens het, wat hulle gesteel het van die jagters, en glo daarmee rooftogte te pleeg...snert man!!!Meeste van die wapens wat ingehandig is, kan ek jou nou wet, is jag-gewere!!En as daar n selfverdedigings wapen inkom, gaan dit net so weer uit by die agterdeur van die polisie. Ek is n jagter en ek stem saam vir n onwettige wapenvrye land.
Meer vuurwapens word deur misdadigers van plase met dwang afgevat as wat die huidige regering vuurwapen toestemming ontneem. Oorsaak hiervan is dat vuurwapen eienaars op plase nie paraat genoeg is met self verdediging en plaas veiligheid
Ek is n navorser van "IVGV" (Instutuut van gesonde verstand) en verskil drasties van die aangehaalde agent.....maar gaan gerus voort want soos enige skaal sal hierdie een ook sy wieg punt beryk ...en dan is sal ons ontslae wees van agente(navorsers)!
My mening is dat die wet wel toegangklik is, nie oor ek reeds my nuwe lisensies het nie maar dat die prinsiep van die wet wel korrek is. Wat die wet 'n musluking maak is dat die mense wat dit moet toepas en die administrasie moet doen uiters onbevoeg en soms rasisties optree in hul werk ( en dit het ek self beleef). Dus kan ons sê dat met die huidige manier wat aansoeke hanteer word is dit onmoontlik om 'n lisensie te kry om jouself te beskerm met 'n vuurwapen. Sou mens kyk na nuwe tegnologie waar mens iemands se vingerafdruk dadelik kan skandeer (soos by binneland se sake), dit gekoppel is aan SA se Avis sisteem om te kyk of jy gesoek word vir iets en dan jou motiveering op band vaslê sodat daarna geluister kan word. glo ek sal die proses nie langer as 'n week vat nie. Dit sluit ook in dat jy foto's van jou kluis neem (soos deesdae versoek word). Ek glo so 'n tipe sisteem kan die wet drasties laat verbeter. Maar of die regering sulke raad sou volg glo ek nie.
die wet is nie bedoel om mense te ontein nie maar die kommentaar oor drie of vier wapens in 'n huis weerspreek sodanige stelling loodreg.
verdermeer verloor die polisie duisende wapens in 'n jaar maar hulle moet 'n oordeel fel oor ons...? nemo iudex in sua causa? hulle is duidelik regters in hulle eie sake.
ek dog as jy sommer jou wapen verloor soos dit met die SAPS die geval is dan moet jy onbevoeg verklaar word? hoeveel lede is onbevoeg verklaar in die afgelope jaar ek skat - NUL!!!
die poel moet verklein word word beweer. hoe kan jy so stelling maak as al die landsgrense vir jare onbewaak was. al poel wat verklein het is voor die hand - wettige wapens. hoe kan beweer word dat nie wet nie ontwapen nie?
hulle onderskat ons intellegensie
Daar is 'n ou gesegde wat se: "When guns are outlawed only outlaws will have guns."
Só ek mag meer as een vuurwapen besit as ek jag volgens Johan Burger? Ek is n beroeps jagter en wag al meer as n jaar net vir bevoegtheid op my .308. Dit is belaglik!!
Kom ons kry eers die vuurwapens uit die hande van die krimineel. Dan sal die res van SA in elk geval nooit nodig he om 'n vuurwapen te gebruik nie. Ek mag ook seker my sport beoefen? Waar is die vuurwapens wat die ANC in die land in gesmokkel het vir hulle liberation stryd?. Dit is nooit verklaar nie en is steeds in omloop. As daar leierskap by die ANC was sou hulle die leiding geneem het en eerste van die vuurwapens ontslae geraak het as teken dat hulle ernstig is oor die saak. Ons het nog nooit gesien dat die ANC hulle wapens inhandig nie. Hoeveel van die 32000 wapens wat ingehandig is is ANC en hulle kaders se wapens?
Almal weet dat ons mense op die plaas gewoonlik meer as een wapen nodig het vir verskeie take. Deesdae moet jy 'n handwapen he vir selfverdegiging dit is ononderhandelbaar, 'n .22 is noodsaaklik om pes diere te skiet en om die slagding mee te dood. "n Haelgeweer vir slange en jag. Dis 3 wapens op die minste, dit is ook wyd bekend dat met plaas aanvalle word jag gewere en hael gewere bitter min gesteel omdat die soort wapens nie in misdaad gebruik word nie want dit is moeilik om te versteek. Waar het jy al van transito rowers gehoor wat 'n .22 gebruik? Die gunsteling wapen van plaas aanvallers, transito rowers moordenaars en huisrowers is 9mm pistole (Meeste van die polisie afkomstig dienpistole wat verkoop is of gesteel is of wapens wat ingehandig is deur wettige eienaars en dan weer deur die vriendelike SAPS aan bendes verkoop word). Anders gebruik hulle AK 47's en R4's en R5's en ek weet slegs dat die weermag en polisie die wapens in hulle besit mag he. Ek weet van geen boere wat in besit is van semi outomatiese gewere soos die nie.
Absolute nonsens. Ons Afrikaners het nog altyd baie wapens besit. Ons hele geskiedenis is vol wapens en baie van ons het die wapens deur geslagte heen oorgeêrf. Die wapens het vir ons gevolglik baie emosionele waarde. Benewens die emosionele waarde, was heelwat van die wapens ook, voor die nuwe wetgewing, baie geld werd. Die poging van die regering om ons van ons wettige wapens te ontneem, kom gevolglik neer op onwettige onteiening.
Die argument dat die wapens misdadigers lok, gaan ook nie op nie. Tydens die vorige bedeling was die wapens ook daar en die misdadigheid wat daarmee gepaard gegaan het, was weglaatbaar min. Die probleem is eerder die totale wetteloosheid waarin die land verval het.
Vir misdadigers is dit geen probleem om onwettige, outomatiese wapens spotgoedkoop en sonder die risiko om dalk tydens 'n plaasaanval geskiet te word, vanuit ons buurstate te kry nie, aangesien grensbeheer vir alle praktiese doeleindes nie meer bestaan nie. Die polisie self, asook die weermag is ook maklike teikens vir misdadigers om wapens te bekom, aangesien korrupsie regdeur meeste staatsdepartemente hoogty vier.
Woordvoerders van die polisie en ander organisasies moet asseblief nie dink ons wapeneienaars is onnosel nie.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)