Wat verwag die boer van ‘n jagter?

 
Boer en jagters. Foto: BEN FOURIE
Boer en jagters. Foto: BEN FOURIE

Die groot 4x4 kom stadig deur die hek aan en stop netjies voor jou deur of as jy ongelukkig is kom dit met ‘n hengse spoed en stop in ‘n stofwolk voor die huis. Vanaf die stoep staan jy as boer en eienaar van die plaas die voertuig en bekyk en wonder wie en wat hierdie keer gaan uitklim om vir drie of vier dae te kom jag. Jy ken die mens van geen Adam af nie, dit is net ‘n stem op die telefoon en ‘n paar keer se heen en weer e-pos om alles gereël te kry vir die jag. 

Vanuit die voertuig kyk ander oë ook maar so half en half benoud na die figuur op die stoep. Op pad deur ‘n deel van die plaas het jy dalk geen wild of selfs spore gesien nie en jy wonder of die groot beloftes van oorvloedige wild dalk soos laas jaar ook op niks gaan uitloop nie.

Jagseisoen is amper hier
Dit is weer die tyd van die jaar wanneer ons almal besig is om ons jagtogte vir die jaar te bespreek en te reël. ‘n Mens hoor wel nog gerugte en sprokies van manne en vroue wat so gelukkig is om ‘n vriend of familielid te hê waar daar gratis gejag kan word, maar vir die meerderheid van ons is dit net nie meer beskore nie. En dit ook reg so. ‘n Mens betaal tog by die slaghuis vir jou vleis en by die winkel vir jou kruideniersware, so waarom nie ook vir jou jag nie.

Elke jaar na die jagseisoen is daar ‘n hele klomp boere wat sweer hulle laat nooit weer iemand op die plaas jag nie en aan die ander kant is daar net soveel jagters wat voel hulle is dié keer darem sleg verneuk. In hierdie artikel kyk ons na die boer se kant van die saak en volgende keer na die jagter se kant.

Kom ons maak dit ‘n gespreksforum waar boere en jagters by die kommentaar afdeling hulle sê kan sê oor wat hulle verwag. Ek gaan by elke artikel ‘n paar van hoofsake noem en die lesers moet hulle mening byvoeg.

Uit die perd se bek
Ek het met ‘n paar boere gesels en ook met my swaer in Namibië wat elke jaar jagters ontvang. Die volgende is dus so reg uit die perd se bek:

•    Jagters moet kan doodskiet. Let wel, nie net raakskiet nie, maar doodskiet. Dit klink so vanselfsprekend dat ‘n mens nie kan glo dat byna al die boere dit as nommer een op hulle lysie het nie. Tog is daar ‘n algemene klagte dat baie jagters vrot skuts is. ‘n Gekweste dier is vir almal betrokke ‘n uiterse onaangenaamheid. Persoonlik het ek dit weer verlede jaar beleef toe ek self deur vrot skietwerk ‘n blesbok gekwes het. Daar is ‘n siening dat vir elke skoot in die veld jy ‘n pakkie patrone op die skietbaan moet uitskiet en dan nie net vanaf die skiettafel nie, maar veral vanuit posisies wat in die jagveld self voorkom. Moet ook nie onmoontlike skote probeer nie en ken jou eie tekortkominge.
•    Jagters moet nie drank misbruik nie. Niemand het beswaar dat daar na die dag in die veld lekker gesellig gekuier word nie. Dit is tog gewoonlik die plek waar die hele dag se gebeure vertel word en oor gewere en kalibers gesels word. Na ‘n lang dag in die veld is daar min dinge wat so ‘n heerlike spierverslapper is as ‘n bietjie van “Die Asem van Skotland”.  Wat wel irriteer, is jagters wat tot laat nog fuif en raas veral as die jaghut dalk naby die plaashuis is en ander wat die volgende oggend nukkerig en met ‘n groot kopseer wil veld toe gaan. Jagters wat drink voordat daar gejag word of wanneer hulle reeds in die veld is (moet nie dink dit gebeur nie) is natuurlik gevaarlik en is oral onwelkom en hoort glad nie met ‘n geweer in die veld nie.
•    Jagters moet nie mors nie. Leë koeldrankblikkies en botteltjies wat onder bosse versteek word, stukke toilet en ander papier wat oral rondwaai, gemors by die kampplek. Dit is ons as jagters se plig om se sorg dat dit netjies is wanneer ons weer vertrek.
•    Jagters moet nie inmeng nie. Nou hierdie kan nogal moeilik wees. Boere verwelkom dit wel as jy vir hom sê jy het dit of dat in die veld opgemerk soos miskien ‘n wildsbok wat vir jou siek lyk, maar hulle het nie veel erg aan jagters wat vir hulle wil kom leer hoe om eintlik te boer nie. Ons as jagters moet so min moontlik probeer inmeng met wat op die plaas aangaan.
•    Jagters moet eerlik wees. Verskeie faktore soos tyd, die nodigheid om ‘n sekere hoeveelheid wild af te haal en baie ander dinge maak dat boere nie sommer maar net ‘n jagter vir ‘n paar dae alleen in die veld kan loslaat nie. Gewoonlik gaan ‘n spoorsnyer/werker saam om die wild uit te wys, te kyk dat jy nie kwes nie ensovoorts. Hier moet ek as jagter baie eerlik wees, nie die spoorsnyer probeer omkoop om gekweste wild te verswyg nie, om selfs as die spoorsnyer gedink het die skoot is mis (sommige van hulle is ook maar lui), maar jy het gedink dit is raak, liewer vir die boer te sê daar mag dalk ‘n geweste bok agtergebly het.
•    Jagters moet die spoorsnyers en slagters met respek behandel. Dit is jammer om te hoor dat daar nog sommige jagters is wat daaraan skuldig is om die werkers swak te behandel.
•    Jagters moet asseblief by die ooreengekome reëls hou.
•    Jagters moet nie die onmoontlike verwag nie. Jagvoertuie kan bv net sekere take verrig en nie soos die voertuie in die kompetisies vir 4x4’s op die onmoontlikste plekke ry nie. ‘n Baie groot koedoebul wat diep in ‘n ruie kloof geskiet is, kan beswaarlik net so heel uitgedra word vir ‘n foto.
•    Jagters moet fiks genoeg wees vir die jag wat hulle bespreek het. Jy hoef nie die hoogste berg te kan uitklim nie, maar as jy byvoorbeeld ‘n ribbokjag in die Oos-Vrystaat of sekere dele van die Oos-Kaap bespreek het, moet jy ver kan stap en baie daarvan sal bergagtig wees.

Sê jou sê
Dan vra die boere ook dat jagters asseblief met hulle sal praat oor dinge wat pla. As jy voel dat die ooreenkoms nie nagekom is nie, moet nie na die tyd op ‘n ander plek gaan vertel hoe swak die jagervaring was nie. Kom en stel jou saak sodat julle dit kan uitsorteer.

Daar is waarskynlik nog heelwat dinge waaraan ek en die boere met wie ek gesels het nie gedink het nie. Dit is nou die boere se kans om hier by te voeg wat hulle nog van jagters verwag.

• Ben Fourie is ‘n geweer- en jag-entoesiasis. Sy e-pos is fourie@biblesociety.co.za.

Lees ook:

Goeie wapen-etiket

23 Februarie 2010

4.6
 
 

Kommentaar

J M 

Ken iemand ook sulke Winter kuiergaste/ongenooide jagters? Suid Afrikaners maak hul hier by ons in Namibia hieraan skuldig!!
Hulle daag net op (hele familie vrou en 6 kinders) met 'n pampoen en 'n bottel suur wyn, sê nie hoe lank Hul gaan bly nie, verwag om darem 'n gratis ou vleisie te kry (dan wil hul dit nog self skiet ook )Self kan hul nie vleis werk nie dus doen jy dit vir jou 'gaste'. Dra niks by tot die huishouding nie (die vrou help nie eers kos maak nie) Staan net een oggende op laai al die verniet ou klaargemaakte biltong en vleisies groet en ry. Al wat jy dalk van die kuier oor het is die pampoen en die suur goedkoop wyn.(As dit nie opgeeet en uitgedrink is deur die gaste self nie)!! Ek kan jul verseker ons is moeg vir sulke kenisse wat jou so uitbuit! Jammer almal word later onder dieselfde kam geskeer.

DERTIG 0 SES 

Wat n aangename onderwerp, om nie eens te verwys na die opgewondenheid wat mens beet pak wanneer hierdie belangrike tyd in my en my seuns se jaarkalender aanbreek nie. Wonderlike herinneringe is al genoegdoenend opsigself. Die padkos, die lekker gesels, die onthou van n skoot en bok wanneer ons dalk verby n plaas ry waar ons vantevore gejag het. Die verwagting van nuwe vriende maak, die veld, die jag en dan daai sekelbos vuur. ai, dit laat my dink aan die mees onbeskryflike ervarings. Elke boer en elke jagter het n eie storie om te vertel. Maar dit bly n voorreg omring met genade as jy die jagveld betree. Basiese reels en hope ordentlikheid is eintlik al wat die boer vra. Ja daar is onder hulle ook jakkalse, maar ek glo in die minderheid. Wanneer jou ervaring bona fide skeufloop en jy kry dit nie uitgeklaar met die boer nie rapporteer dit dan aan die jagtersvereniging. Laastens aan elke wildboer, baie dankie dat jy vreemde jagters toelaat op jou plaas.

Maans 

Ek het simpatie met die boere. Ek weet hoe kan die manne (jagters)uithaak en die lewe vir die wildboer moeilik maak. Ongelukkig is dit gewoonlik die lede van `n korporatiewe jag wat die moleste veroorsaak. Manne wat nie kan skiet nie word saamgenooi. Manne misbruik die wingerdvog want by die huis moet hy homself gedra.
Iets wat my grief, en dit het al met my gebeur, is wanneer daar nie genoeg gidse beskikbaar is nie, nadat jy vooraf gereel het hoeveel jagters daar in die groep sal wees. Dan moet 2 jagters saamloop. Nee man, ons kom jag ook om die stilte en alleenheid van die bos te ervaar. Dan is onbekwame gidse ook `n reuse frustrasie!!
Soos die vorige manne reeds gese het, wedersydse respek en kommunikasie is die antwoord vir die probleem. Sien julle een van die dae in die jagveld.

Eugene 

Die probleem is dat 'n paar vrot appels aan weerskante, maak dat beide partye mekaar nou wantrou. Nie elke jagter is daar om kanse te vat nie en nie elke boer wil aftree na jou jag nie.

Die groot probleem is kommunikasie! Op baie plase waar ek al gaan jag het, is geen skriftelike reëls beskikbaar nie en niemand vertel vir jou die moets en moenies nie. Dit help nie om, nadat die rooibokooi al geslag is, te sê dat daar nie vroulike diere geskiet mag word nie!

Indien die boer sy reëls by die jagters se aankoms op die plaas verduidelik en dit op skrif sit en 'n vergroting daarvan by die jagkamp of kuierarea opsit, weet almal wat mag en wat mag nie. Dit skakel later baie probleme uit en niemand kan onkunde bepleit nie.

Verskuilde koste is ook 'n probleem. Doen eerder die moeite en stel 'n gedetaileerde pryslys op, waarin alle koste, ook die klein goedjies, aangeteken is. Die jagter kan dan presies begroot vir sy jag en weet waar hy staan met die eksta koste.

Ek het geen probleem om te betaal vir hout nie, maar wil nie R100-00 per dag betaal vir hout wat ek self moes versamel en sny nie. Ek weet jagters mors met die hout, maar spesifiseer dan dat 'n sekere hoeveelheid hout gratis beskikbaar is en daar vir alle verdere braaihout betaal moet word.

Ek het ook geen probleem om te betaal vir 'n spoorsnyer nie, maar verwag darem dat hy 'n koedoespoor van 'n beesspoor kan onderskei, en in die onnoembare geval van 'n kwesskoot, darem naastenby die bloedspoor kan vat as ek vasbrand en nie agter my loop met die hoop dat ek die bloed sal raaksien nie.

Net so begin my bloed kook as ek R200-00 slagfooi per bok moet betaal, as ek gehelp het om te slag en die afval reeds vir die slagter gegee het. Dit nadat ek verseker is my dagfooi sluit alles in.

Ek is ook al per geleentheid R30-00 per swartsak aangeslaan, nadat die boer se vrou dit aangebied het en ek nie daarvoor gevra het nie.

Bovermelde is gruwelstories en kom nie oral voor nie.

Die plase waar ek al die lekkerste gejag het, word die reëls met jou aankoms bespreek en jy teken 'n vrywaring en bevestiging dat die reëls aan jou verduidelik is en dat jy dit verstaan.
Alle koste word in detail bespreek en die boer is ook bereid om na al jou vra te luister en onduidelikhede uit die weg te ruim. Na 30 min se gesels, weet ek wat om te verwag en kan ek my jag geniet, sonder om te vrees vir 'n nare verrassing as ek die rekening wil betaal.

Daar is baie biltongjagters soos ek en ek glo daar is ook vir ons 'n plek onder die son. Alhoewel ons nie in US dollar betaal nie, verwag ons ook nie dieselfde luukshede as oorsese jagters nie. Ek en baie van my mede jagters is meer as bereid om spesifieke bokke te skiet teen biltongjag pryse. Ons verstaan dat die boer sy 60 duim koedoebul graag wil hou vir 'n oorsese jagter en dit maak vir ons sin, maar hou ons ook in gedagte met die wild waarvoor die Amerikaner sy neus optrek...

mkruger

Ek dink ek sal die situasie met een woord opsom:
RESPEK.

Die jagter moet respek vir die boer, gids sy medejagters en belangrigste van alles die wild wat hy skiet he.

Om jouself soos 'n vark te gedra en dronk te suip toon nie respek vir jou medejagters nie. Veral nie as hulle moet skoonmaak waar jy "gemors" het nie.

Die eienaar moet respek he vir die jagter en hom nie net sien as 'n bron van inkomste nie.

Baie jagters is nie ryk mense nie en beplan en betaal "duur" vir hulle jagte. As hulle nou op die plaas kom en die wild loop op die buurman se grond maar die eienaar verwag nogsteeds sy dagfooi kan mens nie die jagter verkwalik as hy nie gelukig is nie.

En pryse - wel ek het seker so 5 jaar terug laas 'n rooibok gaan skiet. Toe het ek R 700/800 betaal. So met 'n prys van R600 - R1200 lyk dit my asof die wildboere "agteruit" boer.

Tholo 

Eerlikheid,respek en dissipline aan albei kante!! Elke jaar vir die afgelope 25 jaar net my jagtogte geniet. Ek jag ook jaarliks op dieselfde plase in die verre Noord Kaap en Noordwes. Nog nooit 'n probleem gehad nie. Tydens bespreking van die jag moet alles egter op skrif wees. Geen verskuilde kostes van die boer se kant en geen kansvattery van die jagter se kant. Dit het al gebeur dat die prys van wild tydens die jagtog deur die boer verlaag word aangesien die gekwoteerde prys en die kondisie van die wild dit regverdig.
Vir die jagter- Jag so dat jy volgende jaar weer daar kan jag.

F J  

Hello Ben
Ek is bly dat hierdie artikel op gebring word net so voor die jag sysoen.Soos 'onbekende besoeker' se dat dit net te duur raak om ons familie saam te vat.Ons is baie lief vir die buite lewe en ek kan nie eers glo dat daar mense is wat rommel in die veld gooi nie.Ek se dat die boer se reels al is wat geld,solank jy voor die tyd weet wat die reels is.Goed soos versteekde kostes maak ons as jagters ook maar ongelukkig.Dit vat baie beplanning om die jag tog te beplan.As ons alles weet wat ons moet weet dan kan ons mos besluit of ons na die plaas toe wil gaan of nie.Ek vra maar net vir die boer om alles vooraf vir my te se wat ons moet weet en dat ons nie veras wil wees as ons op die plaas aankom nie.

Ek stem saam dat jagters moet kan dood skiet,met een skoot.Ek was al op baie plase oor die jare en meeste van die boere wil eers sien hoe jy skiet op die skiet baan.Dis heeltemal verstaanbaar. Iemand wat kwes maak die hele jagtog on aangenaam.Baie boere se dat jy moet tenvolle betaal as jy op n bok skiet,of dit raak of mis is. Ek het self nie n probleem daarmee nie want ek maak seker van my skoot. Kans vatters stem natuurlik nie saam nie.Ek se net dat boer en jagter mekaar halfpad kan ontmoed.

Ek was al op n plaas waar die boer ons gewere in sy kluis bere as ons nie in die velt is nie en net hy (niemand anders)vat ons velt toe. Ons dag vooi was R250 per jagter per dag.Ons het ± 7h00 op die plaas gekom die eerste dag. Teen 8 uur was ons klaar af gepak en reg vir die velt. Toe ons weer sien toe se boer hy en sy vrou gaan gou dorp toe en sal nou-nou terug wees. Boer het seker eers 1 uur daar op gedaag.Is dit reg teenoor ons. Hy het ons toe nog steeds n volle dag vooi gevra vir daai dag.
Sulke dinge krap ons om.

Onbekende besoeker 

Hi Ben. Ek is bly dat die saak geopper word so kort voor die jagseisoen. Gisteraand kyk ek na die manmagnum en dit tref my dat die pryse ten spyte van die slegte ekonomie so bly opgaan. Die ergste is per wildstuk hetsy Koedoe , rooibok of wat ookal die pryse so kan verskil. Rooibokke vanaf R600 tot R1200 plus dan die en voertuig se km's dagtoelaag. Ek weet een van die klagtes is dat daar altyd verskuilde kostes is soos slagfooie en herwinningsfooie en dan drink die boer en sy gidse saam heeldag aan jou drinkgoed. Driekwart van die boere gebruik sy werkers as gidse en dan vra hy jou nog 'n stewige tarief vir die man. Dit is net aanvaarbaar dat sou jy dan betaal vir wat ookal op die plaas dit vooraf moet uitgeklaar word. Dan 'n teer punt. Ek jag al 18 jaar in Namibia. Sonder kontakte of enige hulp is die wild aansienlik goedkoper daar. Nou gaan die argument wees wat van die afstand. Meeste van die boere daar vra nie dagtoelae nie en gee jou die opsie omm jou eie voertuig te gebruik. Ek weet daar is self hier mense wat jou in dollars prys maak. Ek het self 'n plaas gehad en ek belowe jou daar is uitbuiters en kansvatters aan albei kante. Ongelukkig is daar ook mense wat soos ek graag my gesin wil saamvat en dit raak net dan te duur om te gaan jag. Jammer aan die opregtes weerskante van die draad wat nou moet ly as gevolg van gierigheid en skelmstreke.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.