Bobaas-blokkies

Tuisgemaakte soet blokkies wat smelt in die mond sal teetyd ékstra lekker maak ...

Pan-Hertzoggies

'n Resep wat gebore is van te lui wees om regte Hertzoggies te maak ...

90 g sagte botter

125 ml strooisuiker

1 eier

250 ml bruismeel

15 ml vlapoeier

250 ml appelkooskonfyt

Klapperlaag

2 eiers, geklits

60 ml strooisuiker

500 ml klapper

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n koekpan van 20 cm x 15 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Verroom die botter en suiker goed saam en klits die eier by. Voeg meel en vlapoeier by en maak aan tot deeg. Druk die deeg eweredig in die pannetjie vas. Bak 15 minute en laat afkoel vir 10 minute. Smeer konfyt egalig oor die deeglaag. Meng alles vir bolaag saam en sprinkel oor konfyt. Bak 25 minute tot die bolaag goudbruin is en die konfyt teen die kante borrel. Laat in pan afkoel en sny in blokkies.

Lewer ongeveer 20 blokkies.

Dadel-en-neutblokkies

125 g koue botterblokkies

500 ml bruismeel

250 ml ligte bruinsuiker

Paar druppels yswater

250 ml fyn gesnipperde dadels

250 ml gekapte pekanneute

2 ml kaneel

1 eier, geklits

125 ml melk

Versiersuiker om oor te sif

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n vierkantige pan van 20 cm x 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Vryf die botter by die bruismeel in en voeg suiker by. Voeg 'n paar druppels yswater by en meng deur tot klam krummels vorm wat net-net aan mekaar begin vassit. Druk die helfte van dié mengsel in die pan vas. Voeg die dadels en neute by die res van die krummelmengsel, voeg ook die kaneel by en klits die eier en melk saam. Voeg laaste die melkmengsel by en giet oor die deegbasis. Bak 30 minute tot goudbruin. Laat afkoel, sif versiersuikersuiker oor, sny in blokkies en sit voor.

Lewer 25 - 30 blokkies.

Koffie-en-neute-fudgeblokkies

Dié blokkies is basies gebakte fudge en heerlik saam met tee of koffie. Dis baie ryk - sny dit dus in klein blokkies nadat dit versier is en bêre in 'n lugdigte houer. Jy kan ook Tennis- of Mariebeskuitjies vir dié resep gebruik.

225 g botter

1 blik kondensmelk

30 ml gouestroop

500 ml okkerneute, gekap

2 pakke (200 g elk) Eat Some More-koekies, goed fyn gedruk

Versiersel

750 ml versiersuiker

15 ml koffiepoeier, opgelos in 'n paar druppels kookwater

Ekstra water om aan te maak

Voorverhit die oond tot 170 °C en smeer 'n vierkantige koekpan van 20 cm x 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Smelt die botter oor baie lae hitte en voeg kondensmelk en stroop by. Roer tot gemeng en voeg die gekapte neute en fyngedrukte koekies by. Meng goed deur en keer uit in die pan. Smeer die mengsel egalig tot in die hoeke van die pan. Bak vir 25 - 30 minute tot liggoudbruin en ferm. Laat afkoel. Sif die versiersuiker en meng die aangemaakte koffie met 'n bietjie koue water. Voeg bietjie vir bietjie by die versiersuiker en maak aan tot 'n smeerbare versiersel. Smeer oor die afgekoelde fudge, laat staan ongeveer 10 minute en sny in blokkies.

Lewer ongeveer 60 klein blokkies.

Klapper-en-kersieblokkies

Dié lekker blokkies kry ook fyngedrukte koekies in, maar word nie gebak nie.

2 eiers

250 g botter of margarien, gesmelt

750 ml gesifte versiersuiker

625 ml klapper

1 pak (100 g) gesnipperde rooi glanskersies

1 pak (200 g) Mariebeskuitjies, baie fyn gekrummel

3 ml amandelgeursel

Smeer 'n vierkantige koekpan van 20 cm x 20 cm, voer uit met waspapier en smeer weer. Klits die eiers en meng met die warm botter, gesifte versiersuiker, klapper, kersies, beskuitjiekrummels en geursel. Meng baie goed. Skep in die pan en druk egalig en ferm vas. Verkoel tot kamertemperatuur. Keer uit, sny in blokkies en bêre in 'n lugdigte houer in die yskas. Haal 15 minute voor teetyd uit die yskas.

Lewer ongeveer 30 blokkies.

Landbouweekblad, 18 Mei 2007.

Rotasie blok

 
5