Kors
2 x 200 g pak sjokoladebeskuitjies,
fyn gedruk
200 g botter, gesmelt
Vulsel
500 g Cremora
250 ml (1 k) kookwater
2 x 397 g blikke kondensmelk
250 ml (1 k) suurlemoensap
45 ml (3 E) koffielikeur (soos Kahlua
of Tia Maria)
Bolaag
200 ml room
5 ml (1 t) kitskoffiepoeier
200 g donker sjokolade, fyn gekap
Kakao, om oor te sif
Berei ’n krummelkors van koekiekrummels en gesmelte botter en druk dit teen die boom van twee middelslag-tertborde of 1 groot tertbak (die grootte van ’n standaard-oondpan) vas. Verkoel tot benodig. Klop Cremora met kookwater tot alle klonte opgelos is. Laat in yskas koud word. Klop tot styf met ’n elektriese klitser. In ’n ander bak, klits kondensmelk en suurlemoensap saam tot dik en voeg by Cremoramengsel saam met koffielikeur. Klits tot glad. Voeg kondensmelk by. Klits suurlemoensap geleidelik by. Giet in sjokoladekoekiekrummelkors en verkoel tot styf. Verhit room en koffielikeur saam tot net onder kookpunt. Voeg gekapte sjokolade by en roer tot glad en blink. Laat afkoel tot kamertemperatuur en smeer oor ferm tert. Verkoel tot benodig en sif kakao oor net voor opdiening.
Lewer 20 – 24 porsies (twee middelslagterte of een baie groot tert).
Landbouweekblad, 29 Januarie 2010
Kommentaar
Lizelle,
Arina du Plessis, LBW se kosredakteur, het 'n nuwe resepteboek wat tans op die winkelrakke is. Kontak haar by aduplessis@landbou.com om dit te bestel.
Is daar dalk al 'n spesiale resepteboek van Landbouweekblad op die mark?
Die een gaan ek beslis probeer!!
Ek het hierdie resep die naweek vir my familie gemaak. Hulle kon nie genoeg kry nie. Dit het so mooi gelyk dat ons dit amper nie wou eet nie. Baie dankie, want nou kan ek ook mooi en lekker resepte maak.
Ons vra omverskoning vir die fout wat hier ingesluip het. Die kondensmelk en suurlemoensap moet wel saam geklits word tot dik en dan by die Cremoramengsel gevoeg word. En met verwysing na die bo-laag: die woord "koffielikeur" moet "koffiepoeier" wees. Weereens jammer oor die verwarring.
Die metode van hoe die bestanddele gemeng moet word is verwarrend. Daar word geskryf dat die kondensmelk en suurlemoensap saam geklits word tot dik en by die cremoramengsel en koffielikeur gevoeg word. Dan word daar weer geskryf om die kondensmelk by te voeg en die suurlemoensap geleidelik by te voeg. Dit is dan reeds gebruik en gemeng? Tweedens word kitskoffiepoeier as bestanddeel gelys in die bolaag maar volgens die metode word daar nie koffiepoeier genoem nie nie en moet koffielikeur saam met die room verhit word tot net onder kookpunt. Vir sommige dames wat nie kan bak en brou nie en 'n resep stap vir stap volg om ietsie te maak sal hierdie resep nie duidelik genoeg wees nie en sal die tert beslis nie reg gemaak word nie wat beteken dit is 'n flop en 'n mors van tyd en geld. Korrigeer asseblief die resep en stel dit beskikbaar ! Dankie !
Die resep is "flop proof " ..En heerlik! Probeer maar gerus.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)