Vis is goed vir jou en met twee sulke resepte uit ons toetskombuis is jy op die wenpad.
Visratatouille
Dié gereg is vullend met genoeg groente sodat jy dit net met rys of pasta kan voorsit.
1 kg vis, vel en grate verwyder en in blokke gesny
2 middelslag eiervrugte, in blokke gesny
4 murgpampoentjies, in ringe gesny
30 ml elk olyfolie en botter
2 groot uie, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, gekneus
1 van elk groen, rooi en geel soetrissie, ontpit en in repe gesny
250 g knopiesampioene, gehalveer indien nodig
1 blik (410 g) geskilde tamaties
suiker, kruie, sout en vars gemaalde peper na smaak
vars gekapte pietersielie
gerasperde skil van 'n suurlemoen
Plaas die eiervrug en murgpampoentjies op handdoekpapier of in 'n vergiettes en strooi sout oor. Laat staan sowat 30 minute, spoel af en druk goed droog met handdoekpapier. Verhit die olie en botter in 'n groot pan. Soteer die uie en knoffel daarin. Voeg die res van die bestanddele by. Plaas deksel op en laat prut sowat 20 minute tot gaar. Vou die vis versigtig in die groentemengsel in, laat stadig prut tot gaar en geur. Meng die pietersielie en suurlemoenskil saam en vou heel laaste in. Sit voor met koeskoes, rys of pasta.
Geroosterde vis
Die vis kan al die vorige dag skoongemaak word (met of sonder vel). Besprinkel met sout en peper en plaas in yskas sodat vis ferm word.
1 kg ontbeende vis (heel filette of porsies)
olyf- of kookolie
suurlemoensap
Bolaag
4 snye brood
Een en 'n
half ringe fetakaas
pietersielie, opgekap
genoeg botter om die mengsel
te bind
Botter-suurlemoensous
60 ml botter
60 ml suurlemoensous
gekapte pietersielie
sout en vars gemaalde peper na smaak
Stel die oond op rooster. Spuit die pan met kleefwerende middel en giet 'n klein bietjie olie in die pan, net genoeg sodat dit lyk of die bodem daarmee gesmeer is. Plaas die vis in die pan. Sprinkel suurlemoensap oor en rooster vis - sowat 130 mm onder voorverhitte element geplaas - tot net gaar. Vir die bolaag: Verwerk die brood en kaas tot krummels. Voeg die gekapte pietersielie en botter by. Meng saam en plaas op vis. Sit terug en rooster tot ligbruin van kleur. Meng die botter-suurlemoensous se bestanddele saam en dien op saam met vis, slaai en kapokaartappels.
31 Januarie 2003