Probeer dié somer ons besondere resep met lekker gemarineerde vleis, geroosterde tamaties en koeskoes. Daar is natuurlik ook 'n eg Suid-Afrikaanse soetigheidjie by!
Jy kan gebruik
Ontbeende lamsblad - sowat 2,25 kg
of
ontbeende boud (2,25 kg vóór ontbening)
of
tjops - vir 4 mense sal jy 8 nodig hê
Maak eers die marinade en marineer die vleis die dag tevore.
2;4 knoffelhuisies, geskil en gekap
2 middelslag uie of 3 kleineres, gekap
70 mm vars gemmerwortel
1 rooi brandrissie, ontpit (sien wenk)
15 ml komyn
15 ml borrie
1 hand vol vars koljanderblare
200 ml olyfolie
sap van een suurlemoen - sowat 100 ml
1 blik (400 g) tamaties (Italiaanse soort) gedreineer
Plaas alles in voedselverwerker en maak 'n puree.
Giet oor vleis sodat alles bedek is. Laat oornag in yskas.
Die volgende dag
As dit boud of blad is:
Voorverhit oond op 200 °C. Bereken die baktyd as 20 minute vir elke 500 g plus 40 minute ekstra (die boud wat ons gebruik het, het 80 minute geneem om gaar te word).
Sny tamaties in kwarte. Plaas in groot roosterpan saam met vleis en bak 40 minute.
Verlaag oond temperatuur na 160 °C vir res van berekende tyd.
Voeg die laaste 20 minute van die gaarmaaktyd of vroeër 100 ml water by of sodra die pan begin droog word.
Vir tjops:
Rooster 8 minute aan elke kant tot gaar na smaak.
Koeskoes
375 ml koeskoes
375 ml kookwater
45 ml olyfolie
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
250 ml pitlose rosyne
hand vol vars koljanderblare, gekap
100 g gevlokte amandels, gerooster
Plaas koeskoes in 'n glasbak en giet die kookwater en olyfolie oor. Bedek goed en laat staan 'n paar minute of tot die water geabsorbeer en die koeskoes goed uitgeswel is. Vlok met 'n vurk en geur met sout en peper. Voeg die rosyne en koljander by, meng liggies deur en bedek weer. Laat koeskoes staan tot afgekoel. Meng die amandels deur, pas die geurmiddels aan.
Sny boud/blad en dien op met die geroosterde tamaties, koeskoes en enige vleissous.
Om die vleissous te maak: Giet oortollige vet af en gooi water by. Roer goed deur om al die vleisstukkies wat in die pan agtergebly het, los te maak. Meng sowat 15 ml sous-poeier met 25 ml koekmeel saam. Roer by pansappe in.
Die resep is genoeg vir 8 tot 10 mense.
Wenke
Om 'n brandrissie te ontpit, sny oorlangs in helfte en spoel pitte onder lopende water uit.
Kweek jou eie koljander deur 'n paar saadjies in 'n roomysbak op die vensterbank in die kombuis te plant. Die blare versprei 'n heerlike geur en jy kan daarna weer die saad oes.
Malvatert
Dié resep van René Tattersall van Bellville kan jy maar in 'n groot bak maak, want almal gaan vra vir meer!
botter
1 pakkie tennisbeskuitjies
1 blik (397 g) kondensmelk
125 ml suurlemoensap
1 pak (500 g) malvalekkers, in stukke gesny
1 liter dik vla (gemaak van 60 ml suiker en 120 ml vlapoeier)
5 ml vanieljegeursel
Smeer 'n groot vierkantige tertbak met botter en pak 'n laag beskuitjies onderin. Verdik die kondensmelk met die suurlemoensap en smeer dit bo-oor die beskuitjies. Pak die gesnipperde malvalekkers netjies bo-op.
Maak die vla en voeg geursel by. Giet kokende vla bo-oor. Ná 'n rukkie sal die lekkers uitpof. Laat net so afkoel.
Laat stol in yskas en versier met styfgeklopte room en glanskersies.
23 Januarie 2004